Hierdie brief van my wat verlede
Saterdag ( 23 Junie) in BY (Bylaag tot
Beeld) verskyn het, is as wenbrief aangewys – ek het die boek ‘Who rules South
Africa’ gewen.
Die vraag in
BY (Brandpunt,16,06) verwys: Wat moet of kan gedoen word om Suid-Afrika op
koers te bring?
Dat daar niks
verkeerd is met Suid Afrika wat nie reggemaak kan word met dit wat reg is nie,
kan as nuttige credo dien wanneer besin word oor hoe om Suid-Afrika reg te ruk.
·
Sonder
betekenisvolle ekonomiese groei sal sosiaal maatskaplike probleme nie opgelos
word nie. Hiervoor moet Suid-Afrika hom posisioneer as ‘n gunstige
beleggingsbestemming. ‘n Ekonomie waarin
eiendomsreg duidelik verskans word, is ononderhandelbaar. Voeg hierby soepel
arbeidswette en voldoende infrastruktuur.
·
Ekonomiese
vooruitgang sal sorg vir ‘n groter middelklas met ‘n breër belastingbasis vir
die staat. Belastingverligting sal dan moontlik wees met groter besteebare
inkomste vir die individu.
·
Slegs
‘n doeltreffende onderwysstelselsel sal Suid-Afrika se mededingendheid in die
internasionale mark verseker. ‘n Gebrek aan vaardigheidstekorte moet as vyand
nommer een verklaar word. Verbeter
onderwys en verseker tersiêre inrigtings se akademiese
onafhanklikheid.
·
Bestry
misdaad en roei korrupsie uit met ‘n
betroubare regstelsel onderlê deur ‘n opgeleide, gemotiveerde en korrupsievrye
polisiediens asook ‘n goed funksionerende en onafhanklike regbank.
·
Dienslewering
op al drie regeringsvlakke moet verbeter. Kaderontplooiing moet vervang word
met ‘n stelsel waarin bekwaamheid en nie politieke dienstigheid beloon word nie.
·
‘n
Lewensvatbare veelparty demokrasie waarin geen party te veel mag het nie, sal
bevordelik wees vir goeie, deursigtige en verantwoordbare regering.
·
Ons
moet onsself opnuut as ‘n nasie verbeel wat inklusiwiteit onderskryf waar
niemand soos tweedeklas-burgers behandel word nie. In hierdie verband is die
soeke na samebindende en versoenende simbole noodsaaklik.
As die politieke wil om
die regte ding te doen by die regering ontbreek, is die vermoë
om so ‘n regering by die stembus uit te daag van kardinale belang.
Meerderhede moet nie op etniese gronde gevorm word nie. Ons belangrikste
uitdaging is die mobilisering van ‘n nuwe meerderheid wat verenig is in die
strewe om Suid-Afrika ‘n suksesvolle en voorspoedige land te maak.