(My brief in vandag se Beeld)
Die arbeidsgeskil wat verlede week tragies verkeerd geloop het by die Lonmin-myn in Noordwes noop ’n mens om te besin oor die soort samelewing wat ons is.
Die voorval is simptomaties van gebreke in ons land wat nie langer geïgnoreer kan word nie.
By nadere ontleding kan die volgende aspekte uitgelig word:
Billike besoldiging en diensvoorwaardes is noodsaaklik. Gierige en onbeheerste kapitalisme sonder ’n maatskaplike gewete is onvolhoubaar;
Georganiseerde arbeid moet dringend selfondersoek doen.
Die skep van valse verwagtinge, roekelose opswepery en ’n algemene disrespek vir die reg en die Grondwet is onverskoonbaar. Die reg om te staak moenie met arbeidsrampokkery verwar word nie; en
Is die polisie goed genoeg opgelei, gedissiplineerd en professioneel toegerus om geweldadige massa-aksies strategies slim te hanteer, moet gevra word.
Daar is ’n verskil tussen die verantwoordelikheid om eiendom en lewe te beskerm en polisiehardhandigheid.
Wedersydse respek moet dringend ’n algemeen gedeelde waarde onder alle Suid-Afrikaners word om woede met vreedsame naasbestaan te vervang.