Tuesday, March 11, 2014



LAASTE DANS, DRIENIE deur Steve Hofmeyr

( My indrukke van die boek)

Allereers 'n vriendelike klap na Steve Hofmeyr. Miskien moet Hofmeyr onder 'n skuilnaam publiseer. My bekommernis is die popster persona met soveel bagasie. Resensente en redakteurs wat al onder sy humeur deurgeloop het. Moedswillige polemikus.  Asook sy musiek wat nie deur almal waardeer word nie. Feit van die saak is, 'Laaste dans, Drienie' belig 'n ander talent van Hofmeyr wat verras.

Te midde van die arrestasie van Oscar Pistorius in 2013 wonder Brooklyn- polisiestasie se beeldpoetser, luitenant Muller Joubert, of daar 'n meer 'n bisarre moordsaak kan wees. Na 'n anonieme oproep na die polisiestasie hoef Joubert nie langer te wonder nie. Die verdagte is 'n 91 jarige dame van 'n aftree-oord  in die stad. Oënskynlik 'n onwaarskynlike saak, nie hoë profiel nie en les bes  in 'n doodloopstraat. Joubert besef metterwyl egter, die toekoms is seker, dis die verlede wat onvoorspelbaar is.

Of dit gedurende die tweede wêreldoorlog of 'n kontemporêre Suid-Afrika is,  een ding bly dieselfde: die soeke na liefde is universeel en tydloos. Begeerte, onbeantwoorde liefde en tragiese ironie word nie begrens deur jaartal of landsgrense nie. 

Hofmeyr se verhaal is een van epiese omvang wat afspeel op twee kontinente en wat meer as 'n half eeu van storm en drang, verlange en verraad beslaan. Dit kaarteer op boeiende wyse die kontoere van die hart en 'n land vasgevang tussen 'n wêreldoorlog en verset teen deelname aan die oorlog.

Gelaai met intrige en eg menslik noop hierdie historiese roman  die leser om die Afrikaner se geskiedenis van die veertiger jare weer na te lees. Hofmeyr se historiese kennis en navorsing is fenomenaal.  Voeg hierby die boeiende manier waarop hy sy storie vertel en stileer.
Op enkele plekke het ek lui redaksionele versorging opgemerk en 'n feit of wat, wat nie korrek is nie - byvoorbeeld dat die polisiehoofkantoor nie in Johannesburg is nie, maar wel in Pretoria. Dis egter gering teen die agtergrond van 'n epiese verhaal wat die leser oorrompel met sy boeiende storie. Ek dink die verwydering tussen 'n ma en haar seun moes meer aandag verdien het en die tonele in 'n Russiese strafkamp kry te veel verteltyd.

Wannneer mens die boek klaar gelees het voel die leser uitasem, diep ontroerd en  nuuskierig oor die menslike verhale teen die agtergrond van hierdie periode in ons geskiedenis.
 
Dis die tipe boek waaroor ek wil uitroep, maak hiervan 'n rolprent. 'n Onvergeetlike leeservaring.

Terloops,  Steve mag seker onder sy eie naam publiseer- hy kan immers trots wees op hierdie werk.

LAASTE DANS, DRIENIE verskyn by Zebra Press.

Tuesday, March 4, 2014

ANC HET GEWONE KIESERS VERSAAK: NUWE PARTY IS VIR HULLE GOEIE NUUS



( My brief in vandag se Beeld)

Dat daar ’n nuwe werkersparty op die politieke horison is (Beeld, 3 Maart), is in meer as een opsig betekenisvol.

Die volgende gedagtes in hierdie verband:

Die ANC het misluk om die meerderheid voorheen benadeelde kiesers se omstandighede daadwerklik te verbeter – afgesien van ’n handjievol biljoenêrs het die mense op voetsoolvlak agterblewe gebly;

Die ekonomie se behoefte na struktuurverandering om toeganklikheid te verseker tesame met vaardigheidsontwikkeling is ons grootste enkele uitdaging vir die toekoms;
Die te stigte werkersparty, United Front and Movement for Socialism, sal inderdaad die aspirasies van baie mense artikuleer;

Met die 2019-verkiesing kan die ANC se magshegenomie tot ’n einde kom wat beteken dat die politieke toneel heel anders sal lyk; en

’n Daadwerklike veelparty- politieke stelsel waar geen party seker is van ’n oorwinning by die stembus nie, is goeie nuus vir die demokrasie.

Slegs nie-rassige partye wat die belange van alle Suid-Afrikaners op die hart dra met haalbare beleidsvoorstelle sal in die toekoms oorleef.

Sommige partye sal sterker word, ander sal verdwyn. Vir my blyk die wenner in hierdie stryd die gewone kieser te wees.