Wednesday, April 30, 2014

DRIE STEM-OPSIES VIR AFRIKAANSE KIESERS


( My brief in die Beeld van 29 April 2014)

Die ballonne en beloftes voor die verkiesing kan verwarring by kiesers veroorsaak. Verglansde manifeste van sommige politieke partye belowe ’n utopie ná 7 Mei.

Vraag is, vir wie moet ek as Afrikaanssprekende stem?

Daar is basies drie opsies:

■ Marthinus van Schalkwyk het op ’n onlangse vergadering met Afrikaanse belangegroepe by die Voortrekkermonument gesê ’n mens moet vir die ANC stem omdat hierdie party nog lank sal regeer. Sonder ’n morele kompas en met min begrip van wat ’n grondwetlike demokrasie beteken, is hierdie party ’n bedreiging vir demokrasie.

■ Die VF+ en ander nispartye. Hiervolgens neem jy op ’n permanente basis ’n minderheidsposisie in. ’n Verlooropsie, dus, wat jou kwesbaar maak vir die magslus van ’n meerderheidsparty wat onder g’n verpligting is om minderheidsregte te beskerm nie. Partye wat seksionele belange, soos spesifieke godsdiensregte, wil bevorder, is soos ’n mediese spesialis wat ’n magdom pasiënte met ’n legio siektes van ondersoek uitsluit. Daar is slegs een maatstaf vir suksesvolle politieke partye en dit is die vermoë om verkiesings te kan wen. Nispartye is dalk interessant, maar onbelangrik as die groter prentjie in ag geneem word.

■ Die derde opsie is die vorming van ’n nuwe meerderheid verenig om demokratiese beginsels wat die regerende party suksesvol by die stembus kan uitdaag. Omdat die DA se verbintenis tot goeie, deursigtige en verantwoordbare regering wat dienslewering verseker tot kiesers oor kultuurgrense spreek, is die DA die enigste alternatief vir die ANC. Die DA is twee goed wat mens nie uit die oog moet verloor nie: ’n Sterk opposisieparty wat sy waghondrol deeglik vertolk en een wat reeds in ’n provinsie regeer.

Wednesday, April 23, 2014

DIE ANC VERDIEN NIE MY STEM NIE



(My brief in vandag se Beeld)

Waarom stem ek nie ANC nie? Wanneer die ANC met Afrikaners vergader (Beeld, 22 April), is dit ’n vraag wat verdien om beantwoord te word. Hier is enkele redes:

▪My stem het niks te doen met my Afrikanerskap nie – vir die ANC om dus op grond daarvan ’n emosionele snaar by my te tokkel, is ’n mistasting;

▪Ek is ten gunste van ’n grondwetlike demokrasie en ’n regstaat waarin almal gelyk is voor die reg en die onafhanklikheid van die regbank erken en uitgebou word. Die Zumafikasie van die ANC het hierdie organisasie in ’n rampokker-beweging verander wat eerder korrupsie en Nkandla-skandale goedpraat en beskerm;

▪Vryheid van spraak en ’n vrye media is die suurstof van enige lewensvatbare demokrasie. Die ANC se beheptheid met geheimhouding ten koste van deursigtigheid is ’n antitese vir die bedoeling van ’n werklike demokrasie;

▪Ek verlang goeie, deursigtige en verantwoordbare regering. Die ANC beloon droogmakers deur hulle weer in verkiesbare posisies te plaas;

▪Ek is ten gunste van ’n nie-rassige SA waar die individu die fokuspunt is. Die ANC is skaamteloos rasbehep en is inderwaarheid ’n swart nasionalistiese beweging wat op grond daarvan ’n magshegemonie wil behou;

▪Die ANC het klaaglik misluk om ons land ’n voorkeur-beleggingsbestemming te maak om ekonomiese groei te stimuleer. Sonder ekonomiese groei sal sosio-maatskaplike probleme vererger; en

▪Ter afsluiting, geen regerende party moet sekerheid hê oor ’n oorwinning by die stembus nie. Slegs dan sal arrogansie en swak regering plek maak vir goeie regering. Met die vorming van ’n nuwe meerderheid gegrond op gedeelde waardes kan ’n veelpartydemokrasie verwesenlik word.

Friday, April 4, 2014

WAAR WIL ONS OOR 20 JAAR WEES?


(My brief in die Beeld van 1 April 2014)

Die ANC se vryheidstryd het in sy primêre doel geslaag toe Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing 20 jaar gelede gehou is. Met die herdenking behoort ons oor die volgende 20 jaar te besin.

Suid-Afrika is vandag ’n beter plek as 20 jaar gelede. Die grootste prestasie van 27 April 1994 is die feit dat almal op daardie dag volwaardige burgers van hul vaderland geword het. Hulle wat eens tweedehandse burgers was, kon voortaan aanspraak maak op volle burgerskap. En ander wat, willekeurig of onwillekeurig, deel van die bevoordeelde klas was, kon daarna die wêreld vierkantig in die oë kyk. So beskou, is ons almal op 27 April 1994 bevry.

Kritiese vrae is egter of ons demokrasie kon konsolideer, of rassisme geheel en al uitgeroei is en of die regerende party oor ’n visie vir die land tesame met beginselvaste leierskap beskik.

’n Rasgebaseerde, eenparty- politieke bestel waar die regerende party verantwoordbaarheid en deursigtigheid ondermyn, is ’n resep vir mislukking. Die Zumafikasie van die ANC het die party op ’n glybaan na algehele morele inploffing gelei. Die grootste mislukking van die ANC egter is sy onwilligheid of onvermoë om van ’n bevrydingsbeweging in ’n volwaardige politieke party te transformeer wat ’n grondwetlike demokrasie verstaan en versterk.

Waar wil ons oor 20 jaar wees? Die toets waarvoor ons as nasie staan, is of die kieserskorps die vermoë het om die regering by die stembus verantwoordbaar te hou.