Tuesday, January 18, 2011

ONS KORT MEER SOOS CARIN VISSER


(My brief in vandag se Beeld)

Wat Suid-Afrika kortkom is meer mense soos me Carin Visser van Noordwes. Sy verpersoonlik die twee keuses wat ons in hierdie land het.
Die een keuse is om te onttrek en jou heil te soek agter hoë veiligheidsmure weg van jou buurt, jou stad en jou land se probleme, . Ook genoem interne immigrasie. Dis ‘n valse oplossing. Uiteindelik woon niemand op ‘n eiland nie. Die verval om jou gaan jou uiteindelik inhaal – niemand kan dit ontsnap nie.
Die ander opsie is om betrokke te raak soos Visser wat die verval van Sannieshof aan die groot klok gehang het, die gemeenskap gemobiliseer het en met sinvolle alternatiewe vorendag gekom het. Haar besluit om ‘n kandidaat vir die DA te wees in die komende plaaslike verkiesings sal haar nou bemagtig om met politieke oplossings vorendag te kom.
Almal se betrokkendheid kan verstaanbaar nie dieselfde wees nie. Aan die een kant van die kontinuum is daar Carin Visser wat inspring en die bul by die horings pak. Aan die ander kant is daar die kieser wat registreer en gaan stem. Dit is slegs betrokkenheid wat wanadministrasie en swak regering aan die kaak stel in die soeke na haalbare alternatiewe.

Thursday, January 13, 2011

DIT IS 'N MAGSTAAT VERSUS 'N REGSTAAT

(My brief in vandag se Beeld)

Die onvolwasse optrede van Winnie Madikizela-Mandela nadat die polisie haar motor afgetrek het, verbaas my nie. Die Gautengse polisiehoofde se kruiperige reaksie is egter skokkend.
Dit beklemtoon die dilemma waarmee Suid-Afrikaners worstel. Ons is gewikkel in ‘n stryd tussen ‘n magstaat en ‘n regstaat. In ‘n Magstaat is almal nie gelyk voor die reg nie. In so 'n staat is die politieke elite, oftewel die regerende party se kaders, verhewe bo die wet.
In ‘n regstaat is almal gelyk voor die reg. Daar is ‘n behoorlike skeiding van magte en jou politieke lidmaatskap bepaal nie die mate waarin jy jouself aan die wette van die land hoef te onderwerp nie.
Enige optrede teen die polisiebeamptes wat net hulle pligte uitgevoer het,skreeu ten hemele. Dit sal ‘n aanklag wees teen die polisie as onafhanklike wetstoepassingsagentskap. Dit is nie die soort land waarin ons wil woon nie. As die polisiebeamptes, wat net hulle werk gedoen het, aan die pen gaan ry, is dit duidelik dat die regerende party nie verbind is tot ‘n grondwetlike demokrasie nie.

Wednesday, January 12, 2011

"HEILIGE ONRUS OOR EIE STANDPUNTE"


Ons moet oppas vir die slimpraatjies van selfversekerde glans orators se alwetendheid wat as wysheid paradeer, waarsku Wilhelm Jordaan in sy Van mens tot mens rubriek in vandag se Beeld. Ek stem saam met Jordaan dat ‘n vergelyking tussen Oprah Winfrey en Sokrates lagwekkend is.
Sokrates se dialogiese metode behels iets anders as ‘n eindelose selfversekerde geklets. Sokrates het immers verklaar dat sy enigste wysheid juis dit is dat hy niks weet nie. Voeg hierby N.P. van Wyk Louw se idée van ‘n “heilige onrus” oor eie standpunte. Oorweeg byvoorbeeld Louw se uitspraak in Groot ode:
“Ons weet nie ons weet nie..../ die wat sê die weet nie / die wat weet die sê nie.”
Ek lamenteer saam met Wilhelm Jordaan dat “die werklik (self)kritiese Sokratiese stemme al hoe minder en stiller word.

Saturday, January 8, 2011

THE CONCERT



SPELERS: Alexei Guskov; Melanie Laurent; Dimitri Nazarov
REGIE : RUDU MICHAILEANU
PUNTE : 10 UIT 10

(Russies/Frans met Engelse onderskrifte)


Dertig jaar gelede was Andrei Filipov (Guskov) die voortreflike dirigent van die Bolshoi simfonie orkes. Die onverskrokke bewind van Brezhnev het korte mette gemaak met mense wat gewaag het om regeringsbeleid teen te gaan. Omdat Andrei destyds geweier het om van Jode in die orkes ontslae te raak, is hy vandag ‘n skoonmaker en dus ‘n ongeagte toeskouer by hierdie simfonie orkes wat eens as die beste ter wêreld geag is.
Op ‘n dag onderskep hy ‘n uitnodiging aan die Bolshoi simfonie orkes om in die Chatelet teater in Parys op te tree. Hy besluit op die plek om wraak te neem vir die onreg wat hom aangedoen is. Hy sal met sy eie ‘ Bolshoi simfonie orkes’, welliswaar lede van die destydse orkes, na Parys gaan om ‘n meesterlike vertoning te lewer. ‘n Betowerende kinkel in die kabel is sy aandrang om Tchaikovsky se Concerto for Violin and Orchestra te speel met as soliste die beeldskone Paryse violis, Anne-Marie Jacquet (Laurent). Die verhaal van Anne-Marie Jacquet vertel die storie van onsterflike drome, die krag van die estetika te midde van uiterste beproewing en die kunstenaar as skepper van die sublieme.
The Concert is ‘n tragie-komedie wat bewys hoe belangrik wilskrag is om bo wat as onmoontlik voorkom, uit te styg. By tye skreeu snaaks. Ook melodramaties en nie sonder ‘n streep sentiment nie. ‘n Sprokie wat nie toelaat dat realisme ‘n goeie storie bederf nie. Musikaal betowerend. En wanneer die grand finale vermeng word met die dramatiese, sny die musiek tot op die been. Het musiek al ooit so bevrydend geklink? Voorwaar ‘n voortreflike rolprent. Bewys jouself ‘n guns en gaan sien hierdie meesterlike rolprent.

Friday, January 7, 2011

YOU WILL MEET A TALL DARK STRANGER


SPELERS: Anthony Hopkins; Helena Jones
REGIE : WOODY ALLEN
PUNTE : 7 UIT 10


Dit is net Woody Allen wat verbrokkelde verhoudings en lewens wat op die afgrond is eksentriek, skalks en aweregs kan uitbeeld.
‘n Viertal paartjies word gekonfronteer met hul neuroses in siniese vehoudings. Die bejaarde Alfie (Hopkins) se lewe stort amper skouspelagtig in duie as hy sy vrou (Jones) die trekpas gee om kort daarna met ‘n dame van twyfelagtige afkoms en karakter te trou. Alfie se dogter is in ‘n huwelik met ‘n niksnut wat sy dae (of is dit jare) verwyl met die skryf van ‘n boek. Hierdie aspirant skrywer se oë dwaal na ‘n beeldskone komponis om haar byna reg voor die kansel af te rokkel. Sal Alfie se dogter uitkoms vind in die kunsgalery eienaar se arms vir wie sy werk? Wat hou die toekoms vir hierdie sterflinge in?
You Will Meet a Tall Dark Stranger is nie hoofstroom fliek vermaak nie.
Selfbedrog word hier heerlik aan die kaak gestel met ‘n sjarmante en lighartige komedie oor mense se rampspoedige flirtasie met die onbekende. Sterk aanbeveel vir Woody Allen aanhangers.

Sunday, January 2, 2011

APATIE VYAND NOMMER EEN



(My brief in vandag se Rapport)

Jacob Rooi wys die DA aan as dié politieke party van 2010. (Rapport, 26 Desember 2010). Hierdie vriendelike beoordeling verdien verdere kommentaar. Die DA is sinoniem is met skoon regering en vreeslose opposisie onder leiding van me. Helen Zille.
Die DA se poging om Suid-Afrika weg te stuur van ‘n dikdatuur word onderlê deur die feit dat die politiek oor keuses gaan. Dit vorm die grondslag van ‘n veelparty demokrasie. Om inhoud hieraan te gee is dit nodig dat kiesers wat nie met die verdwaalde sienings van die ANC saam stem nie hulle nie skuldig maak aan die grootste politieke sonde nie. Apatie moet dus as vyand nommer een verklaar word.
Waarin die DA slaag is om ‘n lewensvatbare opposisie kultuur te skep met die vooruitsig om die regerende party geloofwaardig by die stembus uit te daag. Natuurlik is daar baie uitdagings vir die DA. Geirriteerd met die beginsels van ‘n liberale demokrasie, sal die ANC so lank as hy kan die rassekaart speel en swart nasionalisme gewetenloos uitbuit vir politieke gewin. Dis ‘n onvolhoubare politieke truuk. ‘n Waardegerigte politieke benadering vra nie na die kleur van jou vel nie. Dit is daarop ingestel om mense oor kultuurgrense heen se brood-en-botter behoeftes te takel. Doeltreffende dienslewering is die kernkwessie.
Die DA se belangrikste boodskap aan die kiesers van Suid-Afrika is dat die mag uiteindelik in hul hande lê. Die trek van ‘n kruis op ‘n stembrief, ‘n voorreg en ‘n verantwoordelikheid, bemagtig jou om te bepaal in watter tipe land jy woon.

Thursday, December 30, 2010

PEOPLE HAVE THE VOTING POWER TO HEAD OFF ONE-PARTY STATE

(My letter in today's Pretoria's News)

Your editorial with the heading’ Time’s up for Zimbabwe’ (28 December 2010) is spot on. The police chief in that country recently stated that the police will only accept one election result, a ZANU PF victory. If this is so, why have elections in any event? This situation cannot be condoned and it is time that that the South African government take a harsh stance against Mugabe and he’s henchmen. We must learn from Zimbabwe if we want to prevent a similar catastrophe.
What is to be avoided is a one party state; Zimbabwe has proven beyond any doubt how disastrous things turn out if the ruling party cannot be challenged at the ballot box.
How do we take the Zimbabwean lesson to heart? By realising that a viable multiparty democracy is paramount to an effective, transparent and accountable government. In our diverse society we must, with acknowledgments to Martin Luther King, remind ourselves constantly that a free and fair political dispensation is not about the colour of your skin but about the content of your character. Any political party playing the race card must be viewed with utmost suspicion.
South Africa saw a miraculous liberation process. The privilege of voting, however, is also an enormous responsibility. The power is still with the people. Let us not allow it to slip through our fingers.