Thursday, May 26, 2011

DIT IS DIENSLEWERING WAT ANC VAN KIESERS VERVREEM, NIE JUJU


(My brief in vandag se Beeld)

Volgens die ANC “vervreem Malema se uitlatings minderheidskiesers’(Beeld, 25 Mei)
Die ANC oorskat die nadelige uitwerking van Julius Malema se uitlatings op die party se vertoning in die afgelope verkiesing.
In die politiek is Malema niks minder of meer as ‘n ‘use full idiot” nie. Toegee, sy swaapsinnige uitlatings kos ons ekonomie baie wanneer dit buitelandse beleggers afskrik, nes die rasse polarisasie wat hy aanblaas. En tog is hy ‘n nar wat nie regtig ernstig opgeneem word nie. Ek is seker daarvan dat selfs die ANC-elite lekker in hul vuiste lag vir Malema, die vreemde, irrasionele politieke verskynsel. Meer kommerwekkend egter is die feit dat sy stommiteite op die hoogste vlak van die ANC verdra word. Dit sê iets van die ANC se rassisme.
Die ANC se probleem is dieperliggend. Leierloosheid, korrupsie en gebrekkige dienslewering dwing minderheidsgroepe en tradisonele ANC kiesers om krities na die ANC te kyk.
Die stilmaak van Malema en ander beeldpoets metodes gaan kiesers nie anders laat kyk na die ANC nie. Lippediens en opswepery werk nie meer nie. Wat verlang word is verantwoordbare, deursigtige en waardegelaaide dienslewering. Die ANC is nie ernsnstig hieroor nie – dit vervreem alle kiesers.

Sunday, May 22, 2011

ROEPMAN



SPELERS: Paul Loots; Rika Sennett; John-Henry Opperman
REGIE : Paul Eilers
PUNTE : 6 UIT 10


Gebaseer op die gelyknamige boek van Jan van Tonder vertel dit die verhaal van ‘n spoorweggemeenskap wat vasgevang is in die konserwatiewe sestigs waar ontkenning van die realiteit aan die orde van die dag is.
Ons maak kennis met die elfjarige Timus en sy gesin waar godsvresendheid belangriker is as enige iets anders. Timus verpersoonlik ‘n kinderlike nuuskierigheid wat die wel en weë van sy gemeenskap gade slaan. Sy wedervaringe is soms skreeusnaaks maar nie sonder gevare nie. Hy word meesal gered deur die eenvoudige maar opregte Joon wat as roepman werk – iemand wat mense vir hulle skofte moet wakker maak. Joon verpersoonlik die egtheid en menslikheid wat skaars is in ‘n wêreld vol hubris. Maar sal Joon dit regkry om hulle uit hul wandelslaap wakker te ruk?
Dis ‘n verhaal wat gelaai is met humor, ironie en patos. Van die humoristiese tonele is werklik knap verfilm – stel jouself ‘n jong seun voor wie ‘n eksistensiele krisis beleef omdat hy “nog nie skuim kan pie nie.”
Fotografies is die rolprent goed versorg. Die spel is op peil en die regie verbeeld die verhaal van Timus en sy gesin met deernis. Wat aan die bod kom is die verlies aan onskuld. Ongelukkig spring die verhaal soms rond en betrek die kyker nooit genoegsaam by die karakters nie. Wat in die slag bly, is die geloofwaardige opbou van ‘n spanningslyn. Uiteindelik is dit ‘n verdienstelike rolprent wat bewys dat niemand so blind is as hy wat nie wil sien nie.

Monday, May 16, 2011

TRACK RECORD MAKES DA STRONGEST CONTENDER



(My letter in today's Pretoria News)

On 18 May the centre of political power will move to the voters, indeed the place where it belongs in a democracy, when they have the opportunity to vote. The power of political parties is determined by the electorate who, by making a cross on a ballot paper, determines who represents them. Let us remind ourselves that local government is the government closest to the people.
As I see it voters have three choices in this election.
There is a multitude of small parties that will not even get more than 2% of the vote. These parties elevate marginal interests while losing sight of the national context. Destined to become mere foot notes of history, their influence on the national discourse is insignificant.
The power hungry ANC is another option. With only the race card left and no service delivery successes to show this party threatens to turn our country into a failed state. Betraying its ideals of the past it is not the party of Albert Luthuli or Nelson Mandela any more. It is certainly not the party with which our future can be trusted.
As an opposition party and a party of government the DA is option number three. With an impressive track record of service delivery where it governs this is the party to be taken seriously if you want service delivery to all.
Beyond all the election clichés and promises stands the most important political role player in a democracy, namely the voter. If voters who are dissatisfied with the poor performance of the governing party turn out in high numbers at the ballot box on Election Day, they might just be rewarded with the type of local governments they deserve.

Tuesday, May 10, 2011

DA MAAK HOM DIE PARTY VAN DIE TOEKOMS DEUR AGENDA TE BEPAAL


(My brief in vandag se Beeld)

Die munisipale verkiesing wys interessante neigings wat opwindende moontlikhede vir die toekoms ontsluit.

Die grootste verrassing is die powere verkiesingsveldtog van die ANC. Baie redes word daarvoor gegee.

Binnegevegte blyk die vernaamste rede te wees.

Ander aspekte moet egter nie buite rekening gelaat word nie. Die party beskik al ’n geruime tyd nie meer oor ’n groot idee vir Suid-Afrika nie.

Wanneer die self gestel word bo die belange van die kiesers, is die verlies aan politieke relevansie ’n logiese gevolg. Voeg daarby ’n rassistiese etos wat ’n verlammende uitwerking op die party het.

Deur die verkiesingsagenda te bepaal het die DA homself as die party van die toekoms geposisioneer.

Omdat die DA weier om ’n minderheidsparty te wees, doen dié party wat suksesvolle partye behoort te doen en stel hom ten doel om betekenisvolle verkiesings¬welslae te behaal.

Die DA se groot idee vir Suid-Afrika is geskoei op ’n oopgeleentheidsamelewing vir almal waar gehalte dienslewering die grondslag vir ekonomiese groei vorm.

Opwindende moontlikhede meld hulself aan indien gemelde verkiesingsneigings aanleiding gee tot groeiende steun vir die amptelike opposisie ten koste van die regerende party.

Só beskou, staan ons aan die vooraand van ’n werklike veelpartydemokrasie wat identiteitspolitiek verruil vir ’n waardegelaaide politiek.

Saturday, April 23, 2011

VIER WêRELDBOEKEDAG SO


Hulle staan op my boekrak ingeryg. Karel Schoeman, Andre P Brink, Ettiene van Heerden, Deon Meyer, Marita van der Vyver, Hennie Aucamp, Ingrid Winterbach en baie ander. Wonderlike fiksie wat bewys waartoe Afrikaans in staat is. Boeke wat ek as my jare lange vriende ag en wat my op my lewensreis vergesel. Ek stem saam met wyle prof Elize Botha dat die vernaamste waarheid wat die lettere duidelik by jou tuisbring die ironie is. Staan die lewe tog nie in die teken van die ironie nie?
Politieke dier wat ek is, is daar ook ‘n skatkis politieke boeke op die rak, veral memoirs en outobiografieë. Dit vertel van voorlopers wat leiding geneem het om vir ons ‘n toekoms hier aan die suidpunt van Afrika te beding. FW de Klerk, Frederik van Zyl Slabbert, Tony Leon en ander.
Met wêreldboekedag op 23 April in gedagte, herinner ek my die dag toe ek as laerskoolseun die vreugde van wat Adrey Blignault die ‘Die eindelose avontuur’ noem, ontdek het. Tydens ‘n skoolvakansie was ek nogal verveeld by die huis. ‘n Staptog deur ‘n veldjie naby ons huis het ‘n wonderlike ontdekking opgelewer. Topsy Smith se Trompie – die Waaghals het die ure vir my skielik laat omvlieg. Woord vreugde wat die verbeelding vlerke gee.
Ek voel nou nog ontstig oor wat die essayis en rubriekskrywer, Cecile Cilliers, jare gelede iewers geskryf het: ”Ons is ‘n volk van poësie skrywers, maar kan ons onsself ‘n volk van poësie lesers noem?”
Haar versugting oor die poësie kan net sowel prosa, koerante en tydskrifte insluit. Gimnasiums is gewilder as biblioteke – dit gaan mos oor die uiterlike. Televisie voer kykers met ‘n teelepel - nuanse en ironie verg te veel van die kyker - alles moet maklik en vinnig gesnap word.
Wêreldboekedag mag nie net nog ‘n dag op die kalender wees nie. Sonder boeke, woorde of idees staar ons ‘n geestelike bankrotskap in die gesig. Boekeliefhebbers moet juis op hierdie dag besin oor hoe daar uitgereik kan word na hulle wat nie die vreugde van lees ken nie. Woorde, idees, boeke. Ek kan my ‘n lewe daarsonder nie voorstel nie.

Friday, April 22, 2011

UNKNOWN




SPELERS: Liam Neeson; Diane Kruger
REGIE : Jaume Collet-Serra
PUNTE : 7 UIT 10


As die Amerikaanse bioloog, doktor Martin Harris, in Berlyn aankom vir ‘n internasionale kongres loop ding lelik skeef wanneer hy in ‘n motor ongeluk betrokke is. As hy vier dae later uit ‘n koma wakker word, begroet ‘n nare onwerklikheid hom as hy skielik nie meer Martin Harris is nie en vind dat iemand anders sy plek by die kongres ingeneem het, selfs met sy vrou aan die vreemdeling se sy. Wat op dees aarde het gebeur dat selfs sy vrou hom verwerp as die regte Dr Harris? Sy naarstiglike soektog na antwoorde word ‘n geweldadige bloedspoor wat al hoe gevaarliker word as hy weier om tou op te gooi.
‘n Grys en koue Berlyn bied die ideale palet waarteen die verhaal van ‘n raaiselagtige identiteits verlies en frenetiese geveg om oorlewing afspeel. Fotografies is die rolprent meesterlik versorg om die dramatiese en naelbyt aksietonele treffend tot hul reg te laat kom. Die spanningslyn hou jou enduit op die punt van jou stoel.
Dit is ‘n rolprent wat jou aan die raai hou tot reg aan die einde. Beslis die moeite-werd om te sien.

Saturday, April 9, 2011

WAAK MET TWEE STEMME OOR DEMOKRASIE


(My brief in vandag se Beeld)

Omdat plaaslike owerheid die regering naaste aan die mense is, bied dit kiesers ’n unieke en belangrike inspraak in sake wat hulle direk raak. My antwoord aan Cobus Claassen se vraag “Gaan my stem help?” (Beeld, 8 April), is dus ’n klinkklare “ja”.

Met die dubbeldoor-kiesstelsel het kiesers hul broodjie aan albei kante gebotter. Hulle stem vir die party van hul keuse (proporsioneel) en hulle het ’n tweede stem direk vir hul wyksraadslid. So beskou, kan die kieser ’n naam en gesig koppel aan die mens wat direk sal omsien na die kwessies en aspirasies van die gemeenskap wat hy of sy verteenwoordig.

Om enigsins daaraan te dink om hierdie stelsel te verwater of selfs te skrap sal ’n mistasting wees wat ons brose demokrasie nadelig sal beïnvloed. Waaroor egter besin moet word, is vir wie ’n mens stem.

Veral op voetsoolvlak in Suid-Afrika gaan dit oor basiese dienslewering. Brood-en-botter-politiek met ander woorde. Dink maar aan straatligte, soneringsregte, vullisverwydering en veiligheid en sekuriteit.

Vraag is, watter party is ernstig oor dienslewering? Die Demokratiese Alliansie het ’n bewese diensleweringsgeskiedenis waar hy regeer. Selfs DA-wyke in ANC-beheerde stede kan getuig van raadslede wat omsien na die belange van die gemeenskap.

Een van die redes waarom die DA ’n waarde-gelaaide verteenwoordiging kan verseker, is die prestasiemetingsmeganisme wat hy het om te verseker sy raadslede is nie daar vir ’n salaristjek nie.

Apatie is nie ’n opsie nie. Gemeenskappe moet openbare verteenwoordigers verantwoordbaar hou. Demokrasie is iets om jaloers oor te waak.