Thursday, September 6, 2012
VERSUGTING NA BETER BIND OOR GRENSE SAAM
(My brief in vandag se Beeld)
Om ons opnuut ’n lewensvatbare veelparty- demokrasie te verbeel; nie lugkastele nie, maar daadwerklike strategieë om ons weg te stuur van ’n eenparty-gedomineerde politieke toneel wat veral gekenmerk word deur ontgogeling onder tradisionele ondersteuners van die regerende party is die geldige versugting van Jan-Jan Joubert in “Nuwe politieke terrein” (Beeld, 4 September).
Oorweeg ’n mens die alternatiewe, kan jy nie anders as om met Joubert saam te stem oor die skaarsheid van opsies nie.
Sukkelend, ongeorganiseerd, rigtingloos en nie juis beginselvas nie is hoe feitlik die meeste opposisiepartye beskryf kan word.
Die politieke debat word eintlik maar net tussen die ANC en die DA gevoer. Die keuse is tussen ’n geslote samelewing waarin slegs ’n handjievol kaders bevoordeel word en ’n oopgeleentheidsamelewing vir almal gegrond op ’n grondwetlike demokrasie en die oppergesag van die reg.
Op die nuwe politieke terrein waarna Joubert verwys is die versugting na gehaltedienslewering, onderriggeleenthede, ekonomiese groei, om maar ’n paar aspekte te noem, samebindende faktore oor kultuurgrense heen.
Vraag is, watter party kan aan die eise van vandag voldoen?
Monday, August 20, 2012
LONMIN IS TEKEN VAN GEBREKE IN SA
(My brief in vandag se Beeld)
Die arbeidsgeskil wat verlede week tragies verkeerd geloop het by die Lonmin-myn in Noordwes noop ’n mens om te besin oor die soort samelewing wat ons is.
Die voorval is simptomaties van gebreke in ons land wat nie langer geïgnoreer kan word nie.
By nadere ontleding kan die volgende aspekte uitgelig word:
Billike besoldiging en diensvoorwaardes is noodsaaklik. Gierige en onbeheerste kapitalisme sonder ’n maatskaplike gewete is onvolhoubaar;
Georganiseerde arbeid moet dringend selfondersoek doen.
Die skep van valse verwagtinge, roekelose opswepery en ’n algemene disrespek vir die reg en die Grondwet is onverskoonbaar. Die reg om te staak moenie met arbeidsrampokkery verwar word nie; en
Is die polisie goed genoeg opgelei, gedissiplineerd en professioneel toegerus om geweldadige massa-aksies strategies slim te hanteer, moet gevra word.
Daar is ’n verskil tussen die verantwoordelikheid om eiendom en lewe te beskerm en polisiehardhandigheid.
Wedersydse respek moet dringend ’n algemeen gedeelde waarde onder alle Suid-Afrikaners word om woede met vreedsame naasbestaan te vervang.
Friday, July 27, 2012
DA DAAROM DIE ENIGSTE GROEIENDE PARTY
(my brief wat in gister se Beeld verskyn het)
Ek moet Hanno den Boer gerusstel oor die DA se kanse om die ANC met sukses by die stembus uit te daag.
In sy reaksie op ’n brief van my meen hy “DA-raadslede moet dalk elders stemme werf” (25 Julie).
Den Boer weet dalk net so goed soos ek dit is kortsigtig om politiek op etniese gronde te bedryf.
Die DA is juis die enigste groeiende politieke party in Suid-Afrika omdat dit ’n waarde-gegronde party is wat ’n grondwetlike demokrasie voorstaan.
Die boodskap van dienslewering spreek tot alle kiesers, ongeag ras of kultuur. Daarby is die DA vandag die mees verteenwoordigende party – ’n party dus wat resoneer met die bekommernisse en aspirasies van alle Suid-Afrikaners.
Voeg hierby dat die ANC sy eie grootste vyand geword het met gebrekkige dienslewering, binnegevegte en korrupsie, en ’n mens is nie verbaas oor die ontgogeling onder tradisionele ANC-ondersteuners nie.
Die tyd is ryp vir verandering.
Die DA-boodskap word gehoor en gelees in alle gemeenskappe.
Saturday, July 21, 2012
STANDPUNT OOR SELEBI VRYLATING
Dat almal nie gelyk voor die reg is nie is weereens bewys met die vervroegde vrylating van Mnr Jackie Selebi op mediese parool. Sonder 'n morele kompas steur die regering hulle nie juis aan openbare wantroue wat hierdie politieke slenters ten gevolg het nie. Met die Shabir Shaik leuen vars in die geheue is die publiek se sinnisme verstaanbaar. Die feit dat Selebi moontlik regtig siek is, verander nie die minagting waarmee die regering met die oppergesag van die reg omgaan nie.
Ofskoon dit nie meer as n verrassing kom dat die regerende party van die dag politieke rampokkery pleeg sonder skaamte nie, raak die gewone man op straat keelvol dat sy intelligensie so onderskat word. Uiteindelik vang slim altyd sy baas. Met openbare vertroue wat bly wegkalwe sal die regerende party by die stembus boet vir sy sondes. Hoe gouer hoe beter.
Friday, July 20, 2012
ELECTION NOTE TO THE TSHWANE DA CAUCUS
I have accepted the nomination for the position of Deputy Chief Whip. If mandated to take up this position my primary goal will be to support the Chief Whip and Caucus Management in its effort to manage, organise and lead our caucus to be an effective opposition party, indeed a government in waiting.
Ek het die afgelope vier jaar ondervinding opgedoen wat my handig te pas sal kom as adjunk-hoofsweep. As navorsingsbeampte in die koukuskantoor het ek eerstehandse kennis opgedoen oor die funksionering van hierdie kantoor. As mediavoorsitter het ek ' n uitgebreide netwerk van mediakontakte gevestig. As woordvoerder vir Vervoer het ek die kwessie van gebrekkige openbare vervoer, veral met mediadekking, in die kollig gehou. Ek is pas weer as media woordvoerder aangewys.
I believe in constructive discipline, communication and sound management principles to create an environment conducive to maximum achievement by every caucus member. We are a winning team and that must show at all times.
I am eager to take up the challenge as Deputy Chief Whip and will work hard to make a contribution to realise our goal in Council. Be assured that I will support and promote your issues and needs with Caucus Management.
Tuesday, July 17, 2012
VIERING HOU MADIBA-DROOM LEWEND
(My brief wat in vandag se Beeld verskyn)
Dit is met vreugde dat ons weer hierdie jaar Mandela-dag vier.
Ons skatpligtigheid teenoor hierdie politikus wat bo die storm-en-drang van die daaglikse politiek uitgestyg het, kan nie genoeg erken word nie.
Suid-Afrika is vandag nie heeltemal die land waarop Mandela gehoop het nie.
Die Mandela-droom is egter nie dood nie. ’n Nuwe generasie moet daardie droom lewend hou.
Thursday, July 5, 2012
KREATIEWE AKTIVISME NOU NODIG
Verward, ideologies verdwaald en sonder 'n visie wat die verbeelding aangryp het die pas afgelope ANC beleidskonferensie meer vrae voortgebring as antwoorde. Oor een sekerheid is daar geen twyfel nie, die ANC kan nie met Suid-Afrika se toekoms vertrou word nie.
Kan die ANC wat sy magshegenomie op rasgronde probeer bestendig gestuit word, is nie 'n onbilikke vraag nie. Omdat dienslewering kwessies almal raak, is daar gelukkig reeds'n neiging onder mense oor kultuurgrense heen om na politieke oplossings te soek.
Tyd is egter nie aan ons kant nie en die te magtige ANC moet gestuit word. Dit sal verskeie pogings verg om ons toekoms terug te gryp. Georganiseerde party politiek, burgerregte organisasies, die vrye vloei van inligting en die opeising van ons grondwetlike regte speel verskillende maar belangrike rolle.
Elke andersdenkende Suid-Afrikaner kan egter op kreatiewe wyse tot die groot poging bydra om ons demokrasie te verseker. As elke kieser wat nie die ANC ondersteun nie 'n werklike poging aanwend om slegs een persoon wat andersins vir die ANC sou stem, oor te haal om in die volgende verskiesing vir 'n ander party te stem , kan die party politieke toneel ingrypend herskik word. Noem dit kreatiewe aktivisme.
Subscribe to:
Posts (Atom)