Wednesday, April 23, 2014
DIE ANC VERDIEN NIE MY STEM NIE
(My brief in vandag se Beeld)
Waarom stem ek nie ANC nie? Wanneer die ANC met Afrikaners vergader (Beeld, 22 April), is dit ’n vraag wat verdien om beantwoord te word. Hier is enkele redes:
▪My stem het niks te doen met my Afrikanerskap nie – vir die ANC om dus op grond daarvan ’n emosionele snaar by my te tokkel, is ’n mistasting;
▪Ek is ten gunste van ’n grondwetlike demokrasie en ’n regstaat waarin almal gelyk is voor die reg en die onafhanklikheid van die regbank erken en uitgebou word. Die Zumafikasie van die ANC het hierdie organisasie in ’n rampokker-beweging verander wat eerder korrupsie en Nkandla-skandale goedpraat en beskerm;
▪Vryheid van spraak en ’n vrye media is die suurstof van enige lewensvatbare demokrasie. Die ANC se beheptheid met geheimhouding ten koste van deursigtigheid is ’n antitese vir die bedoeling van ’n werklike demokrasie;
▪Ek verlang goeie, deursigtige en verantwoordbare regering. Die ANC beloon droogmakers deur hulle weer in verkiesbare posisies te plaas;
▪Ek is ten gunste van ’n nie-rassige SA waar die individu die fokuspunt is. Die ANC is skaamteloos rasbehep en is inderwaarheid ’n swart nasionalistiese beweging wat op grond daarvan ’n magshegemonie wil behou;
▪Die ANC het klaaglik misluk om ons land ’n voorkeur-beleggingsbestemming te maak om ekonomiese groei te stimuleer. Sonder ekonomiese groei sal sosio-maatskaplike probleme vererger; en
▪Ter afsluiting, geen regerende party moet sekerheid hê oor ’n oorwinning by die stembus nie. Slegs dan sal arrogansie en swak regering plek maak vir goeie regering. Met die vorming van ’n nuwe meerderheid gegrond op gedeelde waardes kan ’n veelpartydemokrasie verwesenlik word.
Friday, April 4, 2014
WAAR WIL ONS OOR 20 JAAR WEES?
(My brief in die Beeld van 1 April 2014)
Die ANC se vryheidstryd het in sy primêre doel geslaag toe Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing 20 jaar gelede gehou is. Met die herdenking behoort ons oor die volgende 20 jaar te besin.
Suid-Afrika is vandag ’n beter plek as 20 jaar gelede. Die grootste prestasie van 27 April 1994 is die feit dat almal op daardie dag volwaardige burgers van hul vaderland geword het. Hulle wat eens tweedehandse burgers was, kon voortaan aanspraak maak op volle burgerskap. En ander wat, willekeurig of onwillekeurig, deel van die bevoordeelde klas was, kon daarna die wêreld vierkantig in die oë kyk. So beskou, is ons almal op 27 April 1994 bevry.
Kritiese vrae is egter of ons demokrasie kon konsolideer, of rassisme geheel en al uitgeroei is en of die regerende party oor ’n visie vir die land tesame met beginselvaste leierskap beskik.
’n Rasgebaseerde, eenparty- politieke bestel waar die regerende party verantwoordbaarheid en deursigtigheid ondermyn, is ’n resep vir mislukking. Die Zumafikasie van die ANC het die party op ’n glybaan na algehele morele inploffing gelei. Die grootste mislukking van die ANC egter is sy onwilligheid of onvermoë om van ’n bevrydingsbeweging in ’n volwaardige politieke party te transformeer wat ’n grondwetlike demokrasie verstaan en versterk.
Waar wil ons oor 20 jaar wees? Die toets waarvoor ons as nasie staan, is of die kieserskorps die vermoë het om die regering by die stembus verantwoordbaar te hou.
Tuesday, March 11, 2014
LAASTE DANS, DRIENIE deur Steve Hofmeyr
( My indrukke van die boek)
Allereers 'n vriendelike klap na Steve Hofmeyr. Miskien moet Hofmeyr onder 'n skuilnaam publiseer. My bekommernis is die popster persona met soveel bagasie. Resensente en redakteurs wat al onder sy humeur deurgeloop het. Moedswillige polemikus. Asook sy musiek wat nie deur almal waardeer word nie. Feit van die saak is, 'Laaste dans, Drienie' belig 'n ander talent van Hofmeyr wat verras.
Te midde van die arrestasie van Oscar Pistorius in 2013 wonder Brooklyn- polisiestasie se beeldpoetser, luitenant Muller Joubert, of daar 'n meer 'n bisarre moordsaak kan wees. Na 'n anonieme oproep na die polisiestasie hoef Joubert nie langer te wonder nie. Die verdagte is 'n 91 jarige dame van 'n aftree-oord in die stad. Oënskynlik 'n onwaarskynlike saak, nie hoë profiel nie en les bes in 'n doodloopstraat. Joubert besef metterwyl egter, die toekoms is seker, dis die verlede wat onvoorspelbaar is.
Of dit gedurende die tweede wêreldoorlog of 'n kontemporêre Suid-Afrika is, een ding bly dieselfde: die soeke na liefde is universeel en tydloos. Begeerte, onbeantwoorde liefde en tragiese ironie word nie begrens deur jaartal of landsgrense nie.
Hofmeyr se verhaal is een van epiese omvang wat afspeel op twee kontinente en wat meer as 'n half eeu van storm en drang, verlange en verraad beslaan. Dit kaarteer op boeiende wyse die kontoere van die hart en 'n land vasgevang tussen 'n wêreldoorlog en verset teen deelname aan die oorlog.
Gelaai met intrige en eg menslik noop hierdie historiese roman die leser om die Afrikaner se geskiedenis van die veertiger jare weer na te lees. Hofmeyr se historiese kennis en navorsing is fenomenaal. Voeg hierby die boeiende manier waarop hy sy storie vertel en stileer.
Op enkele plekke het ek lui redaksionele versorging opgemerk en 'n feit of wat, wat nie korrek is nie - byvoorbeeld dat die polisiehoofkantoor nie in Johannesburg is nie, maar wel in Pretoria. Dis egter gering teen die agtergrond van 'n epiese verhaal wat die leser oorrompel met sy boeiende storie. Ek dink die verwydering tussen 'n ma en haar seun moes meer aandag verdien het en die tonele in 'n Russiese strafkamp kry te veel verteltyd.
Wannneer mens die boek klaar gelees het voel die leser uitasem, diep ontroerd en nuuskierig oor die menslike verhale teen die agtergrond van hierdie periode in ons geskiedenis.
Dis die tipe boek waaroor ek wil uitroep, maak hiervan 'n rolprent. 'n Onvergeetlike leeservaring.
Terloops, Steve mag seker onder sy eie naam publiseer- hy kan immers trots wees op hierdie werk.
LAASTE DANS, DRIENIE verskyn by Zebra Press.
Tuesday, March 4, 2014
ANC HET GEWONE KIESERS VERSAAK: NUWE PARTY IS VIR HULLE GOEIE NUUS
( My brief in vandag se Beeld)
Dat daar ’n nuwe werkersparty op die politieke horison is (Beeld, 3 Maart), is in meer as een opsig betekenisvol.
Die volgende gedagtes in hierdie verband:
Die ANC het misluk om die meerderheid voorheen benadeelde kiesers se omstandighede daadwerklik te verbeter – afgesien van ’n handjievol biljoenêrs het die mense op voetsoolvlak agterblewe gebly;
Die ekonomie se behoefte na struktuurverandering om toeganklikheid te verseker tesame met vaardigheidsontwikkeling is ons grootste enkele uitdaging vir die toekoms;
Die te stigte werkersparty, United Front and Movement for Socialism, sal inderdaad die aspirasies van baie mense artikuleer;
Met die 2019-verkiesing kan die ANC se magshegenomie tot ’n einde kom wat beteken dat die politieke toneel heel anders sal lyk; en
’n Daadwerklike veelparty- politieke stelsel waar geen party seker is van ’n oorwinning by die stembus nie, is goeie nuus vir die demokrasie.
Slegs nie-rassige partye wat die belange van alle Suid-Afrikaners op die hart dra met haalbare beleidsvoorstelle sal in die toekoms oorleef.
Sommige partye sal sterker word, ander sal verdwyn. Vir my blyk die wenner in hierdie stryd die gewone kieser te wees.
Tuesday, February 4, 2014
ZILLE EN KIE. SAL OORLEEF, RAMPHELE NIE
(My brief in vandag se Beeld)
Staatsmanskap is nie almal beskore nie. Dr. Mamphela Ramphele, goeie talente en ’n indrukwekkende getuigskrif ten spyt, is ’n goeie voorbeeld.
Haar ego en politieke onvolwassenheid het haar pas weer oor ’n groot historiese oomblik laat struikel.
Die DA sal hierdie dramatiese week oorleef. Agang en sy leier, egter, staar ’n vernederende nederlaag by die stembus in die gesig. Nog ’n waarheid is dat die land steeds in ’n wedloop met die tyd gewikkel is. Helen Zille se mislukte, maar opregte poging om met Ramphele die ANC se raskaart-retoriek finaal te neutraliseer, moet ware demokrate nie ontmoedig om die toekoms dapper tegemoet te gaan nie.
Die ANC verkeer in ieder geval in groter moeilikheid omdat al hoe meer Suid-Afrikaners hulle regmaak vir Rubicon-oomblikke. Waaghalsige politiek het altyd ’n element van risiko.
Die grootste risiko vir die DA en Suid-Afrika is om nie risiko’s te loop nie. Die strewe na ’n volwaardig, lewensvatbare veelparty- politieke stelsel sal nie sonder stampe en stote gebeur nie. Die uitdaging vir die DA en sy ondersteuners is om vas te byt en deur te druk.
Saturday, January 18, 2014
HENNIE AUCAMP SE WERK VERANDER MY
(My brief in vandag se Beeld)
Met Hennie Aucamp se 80ste verjaardag op 20 Januarie verdien die Afrikaanse literêre gemeenskap se skatpligtigheid teenoor een van sy grootste skrywers hierdie week spesiale vermelding. Sy besondere bydrae tot Afrikaanse letterkunde kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Aucamp het in velerlei genres geskep en talle publikasies die lig laat sien. Sy oeuvre is nie alleen indrukwekkend nie, maar ook veelsydig, oorspronklik en deurgaans met die handelsmerk van gehalte.
Die reikwydte van sy belangstelling in die kunste is fenomenaal. En natuurlik, Aucamp as dekadent.
As kortverhaalmeester en -kenner het hy hierdie genre tot groot hoogtes gevoer. Voeg hierby sy kabarette, liedtekste, aforismes, akademiese werk, poësie en gepubliseerde dagboeke.
Wat sy dagboeke betref, het hy my leeswêreld verder verryk. Sy dagboeke het ’n intieme kykie gebied in die lewe van ’n fynbesnaarde kunstenaar, sy besondere kennis van uiteenlopende kunsvorms, asook natuurlik sy plek as gay skrywer in ons letterkunde. Sy besinning oor die aard van die dagboek is van onskatbare waarde.
Aucamp se werk en insig in die kunste in die algemeen, asook sy eksistensiële inslag, het my lewe in vele opsigte verander.
Bowenal moet Hennie Aucamp, om sy eie woorde te gebruik, “as stuwal teen middelmatigheid” erken word.
Op sy 80ste verjaardag lig ek graag ’n glasie vir hierdie aristokraat van die gees.
Thursday, January 16, 2014
(My brief in vandag se Beeld)
OORGERUSTHEID IS GROOT BEDREIGING
Kiesers moet gewaarsku wees oor die ANC se steun wat drasties daal.
Dat die regerende party se steun in Gauteng gesak het tot ongeveer 45% stem enige nie-ANC-ondersteuner uiteraard tot groot opgewondenheid.
Oorgerustheid egter is nou opposisieondersteuners se grootste bedreiging. Twee gedagtes hieroor:
. Die ANC neem ook kennis van die peilings en sal dus met ’n buitengewone poging vorendag kom om verlore steun terug te wen.
. Met die proporsionele stemstelsel tel elke stem. Dit bied aan die opposisie die geleentheid om Gauteng oor te neem, al is dit met koalisievorming. Dit kan slegs gebeur as elke kieser gaan stem.
Maar as kiesers nie gaan stem nie bevoordeel dit die party waarmee hulle nie tevrede is nie.
Subscribe to:
Posts (Atom)