Wednesday, September 26, 2012

STAD SE 2055-VISIE LYK NA DAGDROMERY



(My brief in vandag se Tshwane Beeld)

  Kgosiento Ramokgopa, Tshwane se burgemeester se opgewondenheid oor die 2055 visie vir Tshwane ( Tshwane Beeld, 5 September), bring 'n ongemaklike  de-ja-vu by 'n mens tuis.

Ek herinner my oud president Thabo Mbeki se Afrika renaissance-konsep wat nie by  mense op voetsoolvlak aanklank gevind het nie. Dit is akademiese konstruksies wat nie brood-en-botter kwessies aanspreek nie. Mbeki se filosofiese insigte en impulse in stede van tasbare dienslewering het hom sy presidentskap gekos.

Die 2055 visie klink vir my na dagdromery. Hou in gedagte dat die Tshwane Metro blykbaar 'tegnies' bankrot is. Daar is geen planne op die tafel om werk te maak van  onmiddelike diensleweringsprobleme nie.  Om nie eens van gebrekkige infrastruktuur-onderhoud te praat nie. As daar met kaderontplooing volgehou word en deursigtige en verantwoordbare regering met slim politieke truuks omseil word, sal  die 2055 visie om die groter Pretoria 'n wereldstad te maak slegs 'n droom bly.



Thursday, September 13, 2012

DIE WONDERWERKER

(My resensie oor  hierdie Afrikaanse rolprent)


Om die enigmatiese, veelsydige en briljante Eugene Marais se siel bloot te le. Dit was die uitdaging wat Katinka Heyns (regisseur) en Chris Barnard( draaiboek) op hulle geneem het. Wat op die grootskerm ontvou, is 'n liefdesdaad wat Marais en die ander karakters in hierdie episode van sy lewe met deernis uitbeeld.

Dit vertel die verhaal van 'n gesin wat Marais tydelik verblyf aanbied as hy op 'n dag met 'n hoe koors op hul plaas opdaag. Wat volg is 'n veelvlakkige manifestasie van Marais se leefwereld en wereldbeskouing wat sy tyd vooruit was. Ook die foltering van buitestaander wees en ' n ewige verlange na sy vrou wat hom vroeg ontval het. Teen die agtergrond van 'n patriagale gemeenskap verstaan 'n mens iets van Marais se posisie wat verskillende reaksies op sy swerwersbestaan, anders kyk na die lewe en diepe nuuskierigheid na 'n wye reeks verskynsels ten gevolg gehad het. Dit ontlok bewondering,spanning en diep menslike intrige wat die omtes van die hart verken.

Die sonderlinge liefdesverhaal tussen Marais en die jong Jane Bradshaw word op sober wyse aan die bod gestel.  Ook is die emosionele ontwaking wat Marais by die plaasvrou ontlok, verfrissend. Die blootle van die rigiede patriagie van destyds is egter nie 'n nuwe tema nie.  Marius  Weyers se karakter bied weinig nuut met die nuanse van hierdie verhaallyn.

Marais se morfienverslawing word met eerlikheid en deernis hanteer. Wat mynsinsiens te kort skiet is die feit dat Marais se fenominale skrywersgees, Marais het van die mooiste verse in Afrikaans neergepen, net in die verbygaan genoem word. Dit is soos om 'n fliek oor Shakespeare te maak en nie sy pennevrug of kunstenaarskap onder die loep te neem nie.

Goed gefotografeer, goeie toneelspel en stemmingvolle regie. Vraag is, sit die fliek se hart op die regte plek?   Andersins beslis die moeite-werd om die fliek te sien.

Sunday, September 9, 2012

ACHMAT MOET SELF SPRONG MAAK

(My brief in vandag se Rapport)

Zackie Achmat se oproep op Suid-Afrikaners om hulle te verset teen swak regering en om ongelykhede uit te wis (Rapport, 2 September) het betrekking.

Al hoe meer Suid-Afrikaners deel sy kommer dat die ANC die Grondwet wil ondergrawe. Maar die party sal alle pogings tot verset wil neutraliseer. Slegs as hy by die stembus suksesvol uitgedaag kan word, kan goeie regering verseker word.

Ontnugterde ondersteuners van die ANC moet nou hul eie Rubicon oorsteek en ophou om vir die party te stem. ’n Lewensvatbare veelparty-demokrasie is ons enigste skans teen ’n mislukte staat.

Die vraag is of Achmat as ANC-ondersteuner die sprong sal maak om so betekenisvolle verset te mobiliseer bo blinde lojaliteit aan ’n selfdienende party wat toenemend ondemokraties regeer?

Thursday, September 6, 2012

VERSUGTING NA BETER BIND OOR GRENSE SAAM


(My brief in vandag se Beeld)

Om ons opnuut ’n lewensvatbare veelparty- demokrasie te verbeel; nie lugkastele nie, maar daadwerklike strategieĆ« om ons weg te stuur van ’n eenparty-gedomineerde politieke toneel wat veral gekenmerk word deur ontgogeling onder tradisionele ondersteuners van die regerende party is die geldige versugting van Jan-Jan Joubert in “Nuwe politieke terrein” (Beeld, 4 September).

Oorweeg ’n mens die alternatiewe, kan jy nie anders as om met Joubert saam te stem oor die skaarsheid van opsies nie.

Sukkelend, ongeorganiseerd, rigtingloos en nie juis beginselvas nie is hoe feitlik die meeste opposisiepartye beskryf kan word.

Die politieke debat word eintlik maar net tussen die ANC en die DA gevoer. Die keuse is tussen ’n geslote samelewing waarin slegs ’n handjievol kaders bevoordeel word en ’n oopgeleentheidsamelewing vir almal gegrond op ’n grondwetlike demokrasie en die oppergesag van die reg.

Op die nuwe politieke terrein waarna Joubert verwys is die versugting na gehaltedienslewering, onderriggeleenthede, ekonomiese groei, om maar ’n paar aspekte te noem, samebindende faktore oor kultuurgrense heen.

Vraag is, watter party kan aan die eise van vandag voldoen?