Monday, April 29, 2013
OOP SAMELEWINGS VERDUUR NIE LEWENSLANGE REGERINGS NIE
(My brief in Saterdag se Beeld)
Die filosoof Karl Popper was die vernaamste eksponent van hierdie soort samelewing. Popper se wetenskapbeeld, falsifisering, het as vertrekpunt van die oop samelewing gedien. Hiervolgens word wetenskaplike vordering gemaak as foute ontdek en deur regstelling uitgeskakel word.
In politieke verband dus die moontlikheid en vermoë deur middel van kritiese denke om die regering van die dag by die stembus deur ’n ander te vervang indien te veel foute en dwaling vra om herbesinning en selfs die opstel van ’n nuwe sosiale kontrak.
Die oop samelewing is ’n bedreiging vir die ANC. Anderkant swak dienslewering, korrupsie, kaderontplooiing en opportunistiese magspolitiek lê die ANC se Achilleshiel eerder daarin dat hy verstrengel geraak het in die retoriek van ’n geslote samelewing. So ’n samelewing verkies die kollektiewe bo die individuele.
Ras-nasionalisme bied ’n kortstondige magshegenomie wat lei tot verdere misplaaste selfvertroue. Wat oorbly, is ’n arrogansie wat vriend en vyand verras.
Staatsmag gegrond op die idee van ’n geslote samelewing is uiteindelik nie volhoubaar nie. Die vermoë om te voorsien in die behoeftes van die samelewing, ongeag ras, kultuur of agtergrond, neem in so ’n mate af dat ’n herwaardering van die situasie onafwendbaar word.
Met sy rug teen die muur sal die ANC alles doen om die idee van ’n oop samelewing verdag te maak. Verwag toenemende skop, skreeu en skel van ’n party wat die storielyn verloor het. Anderkant die geraas sal tradisionele ondersteuners van hierdie party toenemend kritiese denke toepas, kopskuiwe maak en alternatiewe oorweeg om goeie regering en dienslewering te verseker.
Sunday, April 21, 2013
BUITENGEWONE AUCAMP SE BRIEWE BOEI
MITS DESE WIL EK VIR JOU SÊ - briewe van HENNIE AUCAMP
Deur Petrovna Metelerkamp (hemel&see boeke)
My indrukke van hierdie meesleurende boek:
As woordvirtuoos het Hennie Aucamp die Afrikaanse letterkunde verryk met sy bydrae tot verskillende genres: die kortverhaal, kaberet, bloemlesings,poësie, liedtekste, akademiese werk, joernalistiek. Voeg hierby sy gepubliseerde dagboeke en hierdie bundel briewe wat in die vakkie 'ego dokumente' tuishoort.
Hierdie 'ego dokumente' bied die leser 'n unieke blik op die gedagte wêreld van 'n skrywer as kunstenaar en mens. Wat aan die bod kom, is die dinamika van skrywerskap. Wat verreken word is watter energie, psigiese en fisiese eise van 'n kunstenaar vereis word. Aucamp se aanspraak op afsondering tydens kreatiewe episodes in sy lewe bepaal dikwels sy verhouding met familie en vriende. 'Mits dese wil ek vir jou sê' is 'n waardige toevoeging tot sy gepubliseerde dagboeke van vroeër.
Die ernstige leser van Afrikaanse letterkunde kry goeie insae oor die werking van tekste en hul dramatiese elemente,onder andere. Aucamp lewer gereeld kommentaar op konsepte op versoek van skrywersvriende.
Daar is soveel insigte wat hulself aanmeld in die briewe van hierdie woordmeester. Aucamp hou byvoorbeeld nie van kwalifikasies soos feministiese of gay onderskeidings in die letterkunde nie - 'dit impliseer 'n verenging van menswees'. Hy lamenteer die 'provincial culture' van die afrikaanse letterkunde, 'n letterkunde dus wat 'n vergelyking met die beste elders vermy. Oor die aard van briewe deel Aucamp interesante insigte met die leser. So beskryf hy die aard van briefskryf as 'n 'threesome' - die skrywer wat skryf, die persoon aan wie geskryf word maar dan weer die skrywer self, want hy tree via die brief ook in gesprek met homself.
Suid-Afrika en sy geliefde Kaapstad tydens die eeuwending tot onlangs staan vir Aucamp in die teken van 'n fin-de-siècle, selfs 'n apokalips. Om sy moeder by te haal, dis ongerieflik om oud te word. Sosiale verval. Tuimelende waardes en standaarde. En die uitgewersbedryf as monolopie.
As samesteller van hierdie bundel briewe verdien Petrovna Metelerkamp groot lof dat sy hierdie geskrifte bestendig het en aan 'n wye leserspubliek beskikbaar gestel het. Dit is per slot van sake die geestesgoed van die mens wat die lewe, hoe prekêr en moeilik ookal, betekenisvol maak.
Tuesday, April 2, 2013
BEYERS GLO SEKER OOK AAN TANDEMUIS
(My brief in vandag se Beeld)
Conrad Beyers se lawwe brief “DA vaar maar vrot toe hy Potch beheer” is paslik op 1 April, oftewel Gekkedag, in Beeld gepubliseer.
Ten opsigte van Potchefstroom sal selfs ’n kind op laerskool besef dat die DA in dié dorp in sy maand of wat in beheer net genoeg tyd gehad het om die skades en skandes van die ANC-beheerde raad te lys en om beter alternatiewe uit te wys.
Midvaal en Kaapstad, wat nou al etlike jare onder DA-beheer is, word beter regeer en bestuur as enige ander plaaslike raad in die ganse Suid-Afrika. As Beyers die teendeel glo, glo hy seker ook aan die tandemuis.
Monday, April 1, 2013
SWEET TOOTH
Onderhoudende boek wat enduit boei
Sweet Tooth is Ian McEwan se jongste boek (2012). Dit vertel die verhaal van die naiewe Serena Frome wat deur die intelligensie dienste gewerf word om aan 'n projek met die naam Sweet Tooth deel te neem. As geheime agent moet sy 'n jong opkomende skrywer onder valse voorwensels beinvloed om dienstige letterkunde te skep. Die kandidaat is 'n nihilistiese skrywer wat eerder die distopiese gevolge van die huidige orde karteer. Serena se gevestigde sienings oor haarself, haar werkgewers en die samelewing in die algemeen begin wankel as sy geen invloed op die jong man kan uitoefen nie en boonop verlief raak op hom.
Oorrompelende prosa, interessante karakters en 'n storielyn wat die leser tot aan die einde boei, is die bestanddele van hierdie uiters leesbare boek. ' n Spioenasie roman wat sonder geweld die banale nuanses van die sogenaamde Koue Oorlog boekstaaf. Met die interessante karakter van Tom Haley as die jong skrywer word Sweet Tooth ook 'n boek oor skrywers en letterkunde.
Subscribe to:
Posts (Atom)