Monday, April 29, 2013
OOP SAMELEWINGS VERDUUR NIE LEWENSLANGE REGERINGS NIE
(My brief in Saterdag se Beeld)
Die filosoof Karl Popper was die vernaamste eksponent van hierdie soort samelewing. Popper se wetenskapbeeld, falsifisering, het as vertrekpunt van die oop samelewing gedien. Hiervolgens word wetenskaplike vordering gemaak as foute ontdek en deur regstelling uitgeskakel word.
In politieke verband dus die moontlikheid en vermoë deur middel van kritiese denke om die regering van die dag by die stembus deur ’n ander te vervang indien te veel foute en dwaling vra om herbesinning en selfs die opstel van ’n nuwe sosiale kontrak.
Die oop samelewing is ’n bedreiging vir die ANC. Anderkant swak dienslewering, korrupsie, kaderontplooiing en opportunistiese magspolitiek lê die ANC se Achilleshiel eerder daarin dat hy verstrengel geraak het in die retoriek van ’n geslote samelewing. So ’n samelewing verkies die kollektiewe bo die individuele.
Ras-nasionalisme bied ’n kortstondige magshegenomie wat lei tot verdere misplaaste selfvertroue. Wat oorbly, is ’n arrogansie wat vriend en vyand verras.
Staatsmag gegrond op die idee van ’n geslote samelewing is uiteindelik nie volhoubaar nie. Die vermoë om te voorsien in die behoeftes van die samelewing, ongeag ras, kultuur of agtergrond, neem in so ’n mate af dat ’n herwaardering van die situasie onafwendbaar word.
Met sy rug teen die muur sal die ANC alles doen om die idee van ’n oop samelewing verdag te maak. Verwag toenemende skop, skreeu en skel van ’n party wat die storielyn verloor het. Anderkant die geraas sal tradisionele ondersteuners van hierdie party toenemend kritiese denke toepas, kopskuiwe maak en alternatiewe oorweeg om goeie regering en dienslewering te verseker.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment