(My bespreking van Deon Meyer se rolprent)
Aangenaam verras. Dis hoe ek voel oor die skrywer/ regisseur Deon Meyer se Afrikaanse aksie-fliek, Die Laaste Tango. Dit vertel die verhaal van 'n psigies uitgebrande speuder wat op 'n Karoo dorp moet gaan afkoel nadat hy die kluts kwytraak op die spoor van 'n reeksmoordenaar. Op Loxton moet hy net rondvra oor 'n polisieman wat gedros het en verder probeer om te ontspan. Maar ontspan is nie juis sy ding nie. Sy pad kruis met Ella, 'n kankerlyer wat nog eenmaal die Tango wil dans, en ander dorpenaars wat kan aanspraak maak op die onskuld van die lewe. Of kan hulle?
Ek is 'n getroue leser van Meyer se aksie romans. Maar ek het ernstige voorbehoude gehad oor hom as draaiboekskrywer en regisseur. Sy Jakhalsdans was byvoorbeeld 'n groot telleurstelling. Die Laaste Tango het my egter verras. Meyer druk sy stempel duidelik af op hierdie rolprent. Hier en daar is 'n karakter en akteur wat nie oortuig nie. Die glibberige prokureur is darem net te oordrewe. Die spel van die vroue dokter is swak.
Wat ook opgeval het is die aanwendig van verkeerde polisie rangtekens. Wou die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie die projek ondersteun nie of is daar kortpad gevat aan die kant van die regisseur en produksiespan? Sulke detail behoort so getrou en korrek moontlik uitgebeeld te word.
Nie foutloos nie maar ek het dit nogal boeiend en onderhoudend gevind - soos sy boeke. Ek beveel dit sterk aan as 'n knap Afrikaanse aksie rolprent en gee dit 'n stewige 6 uit 10. Gaan sien dit gerus.