WOLF, WOLF deur Eben Venter (Tafelberg)
VERDIENSTELIK, MAAR NIE ONVERGEETLIK NIE
Ek moet uit die staanspoor sê dat ek nie 'n getroue aanhanger van Venter se oeuvre is nie. Sy skryfstyl het my nog altyd vreemd opgeval. Tog beskou ek hom as 'n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde. 'Ek stamel, ek sterwe' wat die kwessie van vigs onder die loep geneem het, het wye lof ingepalm. 'Begeerte' was vir my 'n boeiende leesondervinding. Dit was prosa met 'n lyflikheid wat enduit geboei het.
Wolf, wolf , vertel die verhaal van 'n gay man wat sy sterwende vader versorg. Tematies word die gebroke verhouding tussen 'n seun en sy vader ondersoek. Verskeie kwessies kom aan die bod. Oorheersend is die spanning tussen die patriagale lewensbeskouing ingegee deur die Calvinisme en 'n kontemporêre lewensuitkyk ingegee deur die hedonisme. Die vader se homofobiese uitkyk plaas druk op die sukkelende verhouding tussen Mattheüs en sy lover, Jack. Mattheüs se suster wat ons net as Sissie leer ken bly op die agtergrond waar sy 'n gerieflike afstand tussen haarself en die sterwensdae van haar vader handhaaf. Mattheüs se pornografiese verslawing kompliseer sy verhouding met Jack verder. Die kwessie van geld is van meet af teenwoordig.
Venter probeer kennelik met 'n vernuwende skryfstyl sy storie vertel. Dit adem wel iets van die hedonistiese en het ek my verbeel 'n nihilistiese ingesteldheid van die hoofkarakter. Of dit egter prosa word wat enduit slaag is iets waaroor ek nie seker voel nie. Die dialoog tussen vader en seun en veral die vader se monoloë wat hy op band opneem is nie altyd oortuigend nie. Die afloop van die verhaal kon korter en meer kreatief gewees het. Dit is asof die verhalende elemente sukkel om momentum te verkry.
Problematies vir my is die verband tussen titel en tema. Die wolf motief is nie duidelik nie. Eers speel Jack wolf, wolf. Later speel Mattheüs en Jack saam wolf, wolf met die idee om te treiter en die geteikendes aan die raai te hou oor hulle identiteite.
Uiteindelik vertolk ek die tema as 'n introspektiewe insig wat by Mattheüs aanklop as hy sy eie vermoë of onvermoë tot die liefde moet herken vir wat dit is of nie is nie. Dit is 'n verdienstelike leeservaring wat iets vertel van mense verhoudings. Ek twyfel of dit Venter se beste werk is, daarvoor is beide die verhalende elemente asook die tematiese motiewe nie altyd oortuigend nie.
No comments:
Post a Comment