(My brief in die Beeld van 28 Desember)
Pres. Jacob Zuma is besig om die Suid-Afrikaanse politiek ’n guns te bewys.
Uiteraard onbedoeld, maar tog.
Hy verpersoonlik alles wat ’n president nie moet wees nie: visieloos, arrogant en argaïes.
Sy plundertog wat hom ’n Nkandla toeëien, is ’n wekroep tot besinning oor die tipe land waarin ons wil bly.
Alles dui daarop dat ’n kragdadige werkersparty links van die regering aan volgende jaar se verkiesing sal deelneem.
Dit bring ’n belangrike wending in ons politiek mee. Die drieparty-alliansie se einde is in sig.
Ontleders is dit eens dat Zuma die gesig van die ANC sal wees in die aanloop tot die verkiesing bloot omdat dit te laat is om nou van hom ontslae te raak.
Dat sy leierskap kort ná die verkiesing uitgedaag sal word, is egter seker. Feit van die saak is, die ANC kan Zuma nie langer bekostig nie.
Binne die ANC sal kragte en magte ná die 2014-verkiesing losgelaat word wat hierdie party sal herdefinieer.
Die ANC as ’n “breëkerk-beweging” se einde sal dan aanbreek. Die linkses, nasionaliste en die behoudendes kan nie meer knus langs mekaar bly sit nie.
Etnisiteit sal ook ’n deurslaggewende faktor wees. Omdat die anti-apartheidshandelsmerk van die ANC uitgedien is, sal debatte oor waardes en hoe beleidsvoorstelle kiesers se behoeftes na dienslewering en goeie regering aanspreek toenemend deurslaggewend word.
So beskou, verteenwoordig Zuma die keerpunt in ons politiek.
Die misplaaste romantisering van die ANC as ’n bevrydingsorganisasie het in hom sy laaste stuiptrekking gehad.
Die kiesers het aanbeweeg en soek oplossings vir die talle kwessies waarmee hulle worstel. Die einde van ’n eenparty- gedomineerde politieke stelsel is in sig.