(My brief in gister se Beeld)
VERWYT BEWYS LEIERSKAP IS GEBREKKIG
Die ANC is met reg bekommerd oor kwynende steun in die swart middelklas (Beeld, 9 Junie) wat hoofsaaklik in metropolitaanse gebiede gevestig is. As 'n mens na stemtendense in Gauteng kyk, kan die ANC reeds in 2016 beheer oor Pretoria en Johannesburg verloor.
Dit blyk egter of gesonde selfondersoek by die ANC nie sal plaasvind nie. Die sentiment is eerder dat die swart middelklas juis hulle 'welvarende' situasie aan die die ANC te danke het. Die ANC voer aan dat hierdie middelklas ontstaan het as gevolg van die party se progressiewe beleid.
Die opkoms van die swart middelklas word dikwels uit verband geruk. Slegs sowat 5% tot 7% van swart mense maak deel uit van hierdie klas teenoor 70% wit mense.
Die vraag is in watter mate die ANC se 'progressiewe' beleid hiertoe bygedra het. Wat duidelik is, is dat die ANC misluk het om 'n betekenisvolle swart middelklas tot stand te bring.
Die handjievol swart mense wat deel vorm van die middelklas, beskik waarskynlik oor genoeg kennis en insig om die ANC juis te sien as die struikelblok van daadwerklike ekonomiese groei. Hierdie mense verwag, soos alle ander Suid-Afrikaners, goeie en betroubare dienslewering waarvoor met belastinggeld betaal word.
Die ANC se selfondersoek moet eerder oor kwessies soos ekonomiese groei en dienslewering gaan. Die feit dat die swart middelklas verwyt word vir dalende steun wys duidelik dat politieke leierskap binne die ANC feitlik nie bestaan nie.
Wednesday, June 11, 2014
Sunday, June 1, 2014
CRONJÉ SE KRISTALBAL REALISTIES EN NUTTIG
( My brief in vandag se Rapport)
Christi van der Westhuizen se venynige resensie van Frans Cronjé se boek, A Time Traveller’s Guide to Our Next Ten Years (Rapport, 25 Mei 2014), getuig van ideologiese moedswilligheid en onakkuraatheid.
By die lees van haar resensie het ek gewonder of ek en sy dieselfde boek gelees het.
Van al die boeke wat ek die afgelope twee jaar oor kontemporêre politiek gelees het, het ek Cronjé s’n die nuttigste gevind.
Dit lees maklik en sy metode van scenario-ontwikkeling word duidelik uiteengesit.
Een van die grootste kwessies, soos Cronjé se boek uitwys, is ongelykheid in Suid-Afrika. Dit is natuurlik ’n teelaarde vir ’n revolusie – wat tot niemand se voordeel sal wees nie.
Nêrens het Cronjé aangevoer swart mense mag nie verwagtings of selfs toenemende verwagtings koester nie.
Met die gevaar van disinvestering sal die regering se vermoë om aan die verwagtings van mense, veral armes, te voldoen, al hoe moeiliker of selfs onmoontlik wees.
Visieloosheid, die gebrekkige wil om goed te regeer en korrupsie te beveg, dra nie daartoe by om beleggersvertroue in te boesem nie.
Wie nie die gevaar hiervan insien nie, is roekeloos naïef.
Vir mense soos Van der Westhuizen is jy óf ’n Afro-optimis óf ’n Afro-pessimis. Ek meen Cronjé is ’n Afro-realis.
Van der Westhuizen se voortdurende pogings om witheid op ’n siniese wyse te problematiseer, plaas ’n vraagteken agter haar posisie as onafhanklike politieke kommentator.
Subscribe to:
Posts (Atom)