TIRZA - Arnon Grunberg ( Uit Nederlands vertaal deur Lina Spies)
Dat dit 'n belangrike Nederlandse boek is, is duidelik - dit is in 2010 in 'n rolprent verwerk om 'n groter gehoor te bereik. Dit is in Nederland met die De Gouden Uil-letterkundeprys en die Libris-letterkundeprys bekroon.
Danksy die bekroonde Suid-Afrikaanse digter, Lina Spies, is dit nou ook toeganklik vir 'n Afrikaaanse leserspubliek gemaak.
In breë trekke vertel dit die verhaal van Jörgen Hofmeester wat in 'n spogbuurt van Amsterdam woon met 'n uitsig oor Vondelpark.
Die leser maak met hom kennis terwyl hy sy geliefde dogter, Tirza, se vriende onthaal na haar eindeksamen. Met moeite sorg hy dat die kos reg is en dat alles in die algemeen vlot verloop.
Die leser verken saam met hom deur middel van herinneringe die ontsporing van sy lewe op professionele vlak, sy ongelukkige huwelik, en hoe Tirza deur dit alles die ligpunt van sy lewe was en is. Die onthaal vind plaas op die vooraand van Tirza se vertrek na Afrika met haar vriend wie Jörgen nog nie ontmoet het nie.Wanneer hy haar vriend tydens die onthaal ontmoet steier nog 'n skans tussen Jörgen en die samelewing, en word sy klassistiese en rassevooroordele skaamteloos blootgelê. Tirza se vertrek na Afrika het gevolge waarop nog Jörgen of die leser voorberei is. Die afloop van die verhaal staan in die teken van die makabere . Ook aktiveer dit die ontbloting van die Westerse siel wat bewys hoe 'n dun vernis lagie daardie ding is waarna ons as 'beskawing' verwys. Die verhaal van Tirza, oftewel die gesin Hofmeester, en spesifiek Jörgen, is niks anders as 'n persoonlike distopie nie.
Die boek beslaan 'n hele 506 bladsye. Ek moet eerlik wees, dit het nogal vasbyt gekos om die boek klaar te lees. Die geladenheid van die vertelling is langsaam, amper lomp. Ek is nie heeltemal daarvan oortuig dat komposisie en stilering altyd ewe suksesvol is nie. Uiteindelik is die afloop van die verhaal skokkend en die verhaal onvergeetliks - iets wat nog lank na die lees van die boek verreken sal word met allerlei eksistensiële vrae. Aanbeveel vir liefhebbers van ernstige letterkunde.
No comments:
Post a Comment