(My brief wat in die Beeld van 5 Februarie geplaas is.)
Dat daar opnuut 'n vesugting na nierassigheid en konstruktiewe nasiebou is, is min of meer die kernpunte wat genoem is tydens 'n huldigingsgeleentheid vir die F.W. de Klerk-toespraak van 2 Februare 1990.
Die staatsmanskap van mense soos mnr. Kgalema Motlanthe laat 'n mens die vraag vra of daar nie meer sulke talent binne die ANC is nie.
Laat ons eerlik wees, wat nasiebou betref is ons nie waar ons moet wees nie. Ons soeke na samebindende simbole verdien dringende aandag.
Wat ons egter moet besef, is dat samebindende simbole deur gedeelde waardes onderlê moet word. En dis waar die knoop lê.
Gedeelde waardes is nie iets op 'n stuk papier of lap wat by sportbyeenkomste uitgepluk word nie. Dit moet deel wees van ons kollektiewe psige en elke dag geleef word.
Ek meen die kernwaardes waarop nasiebou moet steun, sluit in:
▪️Nie-rassigheid;
▪️Inklusiwiteit wat diversiteit erken;
▪️Uitnemendheid wat prestasie beloon om swak diens te neutraliseer;
▪️Korrupsievrye oftewel skoon regering;
▪️Staatsmanskap wat bo eng party politieke belange uitstyg; en
▪️Sosiale kohesie.
Die soeke na samebindende simbole is akuut belangrik. Sonder gedeelde waardes sal ons nie vordering maak in ons strewe om nasiebou bestendig te maak nie.
No comments:
Post a Comment