Monday, December 2, 2013

4 REDES WAAROM MEYER SO GOED IS


(My brief in Beeld van 25 November)

Die resensie van Deon Meyer se boek het my laat wonder wat die Afrikaans vir ’n page turner is. Nog ’n vraag, waarom is sy boeke so gewild en wat is die letterkundige waarde daarvan?
Ek het Meyer se Kobra pas gelees en dis ongetwyfeld ’n glip-lees-boek. (My vertaling vir page turner).
Veral vier elemente kenmerk Meyer se skryfwerk:
Die vermoë van Afrikaans om aksiebeelde onder woorde te bring word verbluffend goed geïllustreer;
Daar is ’n spanningslyn wat jou vasgenael hou van begin tot einde;
Die stories is geanker in ’n kontemporêre Suid-Afrika met sy sosio-politiese nuanses. Die leser herken die milieu en identifiseer daarmee; en
Karakterisering. Dis Meyer se sterkpunt. Om Hennie Aucamp by te haal, die karakters ruik na mens.
Die Meyer-oeuvre is ontvlugtings-leesvermaak in snelrat. Dit verruim die Afrikaanse letterkunde, spesifiek die aksie-genre wat lankal nie meer terugstaan vir ander genres nie. Dit is goeie prosa onderlê deur soepel en kreatiewe Afrikaans.
Letterkundige meriete en ’n boeiende storie hoef nie wedersyds uitsluitende begrippe te wees nie. Skrywers soos Meyer kry en hou mense aan die lees. ’n Aanwins vir die lettere dus.



RUBRIEK DEURSPEK MET VOOROORDELE



(My brief in die Beeld van 29 November)

Dít moet ek Christi van der Westhuizen oor haar rubriek in Beeld gelyk gee: Die DA is nie ’n ANC Lite nie!
Beslis nie, want die rasnasionalisme wat die ANC aanhang om ’n rasgebaseerde magshegenomie te behou is teenproduktief vir ’n lewensvatbare veelpartydemokrasie.
Andersins is van der Westhuizen se geniepsige rubriek oor die DA se beleidskonferensie deurspek met ideologiese vooroordele en halwe waarhede.
Nêrens in haar rubriek verwys Van der Westhuizen na die ANC se kwotastelsel nie. ’n Kwotastelsel is omgekeerde apartheid.
Die ANC se strafmaatreëls wat maatskappye wil verplig om aan kwotas te voldoen sal ekonomiese groei in so ’n mate belemmer dat absoluut niemand hierby baat sal vind nie. Daarom is die DA se benadering van aansporing konstruktief en slim.
Die oogmerk moet wees om nie net die markekonomie aan die gang te hou nie, maar om volgehoue groei te verseker met groeiende geleenthede vir alle Suid-Afrikaners.
Historiese ongelykhede moet reggestel word. Daarom ondersteun die DA transformasie en die nodige regstelling wat dit verg. Nepotisme en verdwaalde nasionalisme neutraliseer egter enige poging tot regstelling.

Monday, September 30, 2013

VRYHEID MET MENSWAARDIGHEID




(My brief in gister se Rapport)

In ’n land met baie negatiwiteit en sinisme is die verfrissende insigte van JP Landman welkom.

Hanlie Retief se onderhoudende gesprek met Landman (Rapport, 22 September) noop ’n mens om gevestigde opvattings te herwaardeer.

Optimisme is goed, maar dit kan en mag nie ons plig om krities te dink, vervang nie. Die gesprek of debat tussen politici of mense oor die algemeen moet eerlik omgaan met kwessies en uitdagings van die dag. Ek herinner my aan dr. Frederik van Zyl Slabbert wat by geleentheid gesê het jy kan politici nie vertrou nie.

Die implikasie vir ’n opbouende diskoers is dus dat kritiese denke ’n wesenlike element van konstruktiewe patriotisme moet bly.

’n Lewensvatbare veelpartystelsel waar die regerende party se mag in bedwang gehou word, is ononderhandelbaar – daar moet dus die moontlikheid wees om enige regerende party suksesvol by die stembus uit te daag.

’n Veelparty-demokrasie gaan oor keuses. Die mag moet by die kieser lê en nie by politici nie.

Regeringsmag word verder in bedwang gehou deur werklike onafhanklike en doeltreffende instellings soos die howe en burgerregte-organisasies, asook vrye media. Hierdie instellings is instrumenteel belangrik om ’n oop samelewing te verseker.

Geen regering moet ooit met trefsekerheid kan verklaar dat hy die volgende verkiesing sal wen nie. Sodanige regerings is dan ook meer geneig om beter te regeer.

Dis goed om te weet dat watter party ook al die ANC uit die kussings sal lig onmiddellik met ’n gedugte opposisie te doene sal kry.

Ons is inderdaad ’n diep verdeelde samelewing met wesenlike ongelykheid. Groepsdenke in watter vorm ook al blyk nie die oplossing te wees om dit te takel nie. Gewaarborgde individuele vryheid is die sleutel tot mense se menswaardigheid. Wat dus gevra word, is vryheid wat ons kan gebruik, wat geleenthede skep en menswaardigheid bevorder.

Wednesday, September 18, 2013

KOSPAKKIE-POLITIEK WYS NIKS VERANDER

( My brief in vandag se Beeld)


Blou T-hemde vs. kospakkies, titelaktes en huise. Wat is die verskil en wat sê dit van Suid-Afrika se twee hoofstroom- politieke partye?
Die nou reeds bekende blou T-hemde van die DA is doodgewoon branding, oftewel die uitbouing van ’n handelsmerk. Dit versinnebeeld die amptelike opposisie se idee van ’n oopgeleentheidsamelewing waar individuele vryheid gewaarborg en staatsmag in toom gehou word.
Hierdie handelsmerk-bevordering is ’n aanvaarde praktyk by politieke partye oor die wêreld heen, veral as dit met eie fondsinsameling en nie deur belastinggeld gefinansier word nie.
Die uitdeel van kospakkies en huise het egter niks met die uitbou van ’n handelsmerk te doen nie. Dit verontagsaam die skeiding tussen party en staat.
Die verskaffing van behuising, byvoorbeeld, is ’n regeringsfunksie wat met belastinggeld gedoen word. Om huise uit te deel kort voor kritiese tussenverkiesings is oneerlik en moreel korrup. Dit getuig ook van toenemende onsekerheid by die regerende party oor sy steun.
Dat die tradisionele ANC-ondersteuner onderwerp word aan kospakkie-politiek is ’n aanduiding dat die lewensomstandighede van hierdie kiesers nie veel verander het die afgelope 20 jaar nie. Die ANC buit hul sosio-maatskaplike omstandighede skaamteloos uit.
Hopelik sal hierdie kiesers besef dat ’n kruisie op die stembrief meer werd is as ’n kospakkie of enkele titelaktes elke vyf jaar. Goeie regering beteken deurlopende dienslewering.

Monday, September 9, 2013

LUGKASTELE NIE VAN NUT VIR INWONERS

(My brief in vandag se Beeld)



Die Tshwane-metro se 2055- visie is interessant, maar irrelevant. Dat dit met soveel trompetgeskal aangekondig is, spreek boekdele van beeldpoetsery wat moet vergoed vir swak diens.

Dié visie laat my onwillekeurig dink aan oudpres. Thabo Mbeki se Afrika-renaissannce. Sulke abstrakte konstruksies spreek nie tot mense op voetsoolvlak nie. Vra maar vir Mbeki; hy is verslaan by Polokwane ondanks lugkastele, of dalk weens die lugkastele.

Terwyl die Tshwane-metro sy pragtige visie bekend gemaak  het, was die Wonderboom-lughawe weer vandeesweek vir die hoeveelste keer die afgelope drie jaar sonder brandstof. 

Dit is maar een voorbeeld van die Tshwane-metro se mislukkings.

Brood-en-botter-sake spreek direk tot inwoners van 'n stad. Wat mense verlang, is tasbare bewyse van die politieke wil by die owerheid om deurgaans tot voordeel van inwoners te regeer.

Wednesday, August 7, 2013

OUSTED FORMER MAYOR OF TLOKWE SHOWED POOR GRASP OF DEMOCRACY


The article "Good and bad in the Tlokwe farce" (Pretoria News, 2 August) deserves comment. The Potchefstroom face-off between the ANC and the DA is the epitome of what is wrong with our democracy and that it is possible to ensure genuine multiparty democracy.

The ANC believes it is entitled to power despite the rule of law, the democratic will of the people and policies dictating the election of office bearers.
 Hence the pathetic but failed attempt by the ANC mayor of that city to cling to power. To add insult to injury, the ousted Mayor now threatens to change the place name of Potchefstroom to Tlokwe once power is retained again. 

The name change threat is unfortunate. Not only does this confirm the suspicion held by many that the name change drive has little to do with celebrating the contributions of all in the country, but that it is a revenge-based endeavor.

A mayor, as is the case with a premier or the state president of the country, must demonstrate statesmanship by not only promoting the interests of a specific political party, but of all the residents despite political affiliation. A logical point of departure in this regard will be to ensure quality service delivery to all. 
Everything the former mayor of the Tlokwe municipality, Maphetle Maphetle, said and did over the past few weeks underlined his inability to grasp this basic truth of a genuine and mature democracy.

The Tlokwe incident also has an important message to South Africa at large. There is power mobility within the ANC and in the party political arena in general. It is up to voters to realise that they don't have to be satisfied with second-best and that they have a choice regarding the type of government they want. The power is seated with the voters, not with the politicians.

Thursday, August 1, 2013

POTCH IS 'N TOETS VIR SA SE DEMOKRASIE


POTCH IS 'N TOETS VIR ONS DEMOKRASIE 
(My brief in vandag se Beeld)

Polities onvolwasse en onverantwoordelik. 
Dít is hoe die ANC se reaksie in Potchefstroom verstaan moet word. 

Dit is verder nie 'n bemoedigende aanduiding van hoe die ANC sal reageer wanneer hy 'n nasionale verkiesingsnederlaag ly nie, wat volgens ontleders nie te ver in die toekoms lê nie.

Vraag is, moet hierdie optrede in Potchefstroom sinisme onder ons as kiesers ontketen? 
Allermins, dit beklemtoon juis die feit dat ons moet volhard in ons opeising van ons demokratiese regte.

Daarby moet ons intussen jaloers waak oor alle meganismes wat die demokrasie kan handhaaf en magsmisbruik bekamp. 
Elke andersdenkende, met anderwoorde hulle wie nie vir die ANC stem nie, moet besef dat die momentum om 'n nuwe meerderheid te vorm nou behou moet word. 
Die ANC sal nie sonder slenters afstand van hul mag doen nie. Dit strek hulle natuurlik tot skande en ontbloot hul werklike verbintenis tot die demokrasie. Soos die gerekende politieke ontleder dr. Frederik Van Zyl Slabbert destyds gewaarsku het, die ware toets vir ons demokrasie sal wees wanneer die ANC by die stembus verslaan word. Ons durf nie daardie toets druip nie.