Saturday, December 7, 2013

TOEKOMS MAG NIE GESABOTEUR WORD


 ( My brief in vandag se Beeld)


Almal wat lief is vir hierdie land is vandag diep geraak deur die heengaan van oudpres. Nelson Mandela.
Sy onwrikbare geloof in ’n toekoms gegrond op geregtigheid vir almal was lank ’n baken van hoop vir baie Suid-Afrikaners. Dit het wêreldwyd geresoneer as ’n dapper vryheidstryd.
Simbolies het Mandela alles verpersoonlik wat ons as ’n nasie kan, wil en moet wees:

Ons kan mekaar vergewe en vorentoe kyk;
Die meeste Suid-Afrikaners wil in vrede saamleef ongeag verskille; en
Ons moet verantwoordelikheid vir ons toekoms neem.

Min politici styg bo die storm en drang van die onmiddellike uit.
Met sy talent vir staatsmanskap het Mandela hom gevestig as die Suid-Afrikaanse demokrasie se vaderfiguur. Hy sal so in die annale van die geskiedenis gehuldig word.
Herinneringe aan hierdie groot staatshoof alleen is nie genoeg nie.
Ons toekoms mag nie gesaboteer word deur politici wat oneerlik, korrup of swak regeer nie.
Daarom moet ons opnuut verantwoordelikheid vir ons toekoms neem.
Deur dit te doen sal ons die Mandela-droom van vrede, voorspoed en versoening lewend hou.

KEEP THE MANDELA DREAM ALIVE



                                                                                                  

NELSON MANDELA

(July 18 1918 to December 5 2013)

Some will say it is the end of an era. It need not to be so. Everyone who loves this country will be deeply saddened by the passing away of former president Nelson Mandela. His unshakeable belief in a future based on justice for all has been a beacon of hope for many South-Africans. His dedication,  leadership and humanity resonated internationally as an example of a fearless liberation hero. His presence in our collective thoughts manifested as a unifying force that guided our strife for reconciliation.

 From a symbolic point of view Nelson Mandela represented everything we as a nation can, want and should be:

▪We can forgive one another and move on.

▪Most South Africans want to live together in peace despite their differences.

▪We must take responsibility for our future.

Few politicians rise above the 'Sturm und Drang' of every day politics. With his talent for statesmanship, Mandela established himself as the father figure of South Africa'democracy. He will be recognised as such in the annals of history.

Memories of this great statesman alone are however not enough. We must not allow our future to be sabotaged by corruption or poor governance.

 We therefor need to take responsibility for our future. Of cardinal importance in this regard is an active civil society based on critical thinking and democratic values, the acknowledgement of common interests as well as the acceptance of otherness in our diverse society. By doing this we will keep the Mandela dream of peace, prosperity and reconciliation alive. In doing so, the Mandela era need not to come to an end. 

Monday, December 2, 2013

4 REDES WAAROM MEYER SO GOED IS


(My brief in Beeld van 25 November)

Die resensie van Deon Meyer se boek het my laat wonder wat die Afrikaans vir ’n page turner is. Nog ’n vraag, waarom is sy boeke so gewild en wat is die letterkundige waarde daarvan?
Ek het Meyer se Kobra pas gelees en dis ongetwyfeld ’n glip-lees-boek. (My vertaling vir page turner).
Veral vier elemente kenmerk Meyer se skryfwerk:
Die vermoë van Afrikaans om aksiebeelde onder woorde te bring word verbluffend goed geïllustreer;
Daar is ’n spanningslyn wat jou vasgenael hou van begin tot einde;
Die stories is geanker in ’n kontemporêre Suid-Afrika met sy sosio-politiese nuanses. Die leser herken die milieu en identifiseer daarmee; en
Karakterisering. Dis Meyer se sterkpunt. Om Hennie Aucamp by te haal, die karakters ruik na mens.
Die Meyer-oeuvre is ontvlugtings-leesvermaak in snelrat. Dit verruim die Afrikaanse letterkunde, spesifiek die aksie-genre wat lankal nie meer terugstaan vir ander genres nie. Dit is goeie prosa onderlê deur soepel en kreatiewe Afrikaans.
Letterkundige meriete en ’n boeiende storie hoef nie wedersyds uitsluitende begrippe te wees nie. Skrywers soos Meyer kry en hou mense aan die lees. ’n Aanwins vir die lettere dus.



RUBRIEK DEURSPEK MET VOOROORDELE



(My brief in die Beeld van 29 November)

Dít moet ek Christi van der Westhuizen oor haar rubriek in Beeld gelyk gee: Die DA is nie ’n ANC Lite nie!
Beslis nie, want die rasnasionalisme wat die ANC aanhang om ’n rasgebaseerde magshegenomie te behou is teenproduktief vir ’n lewensvatbare veelpartydemokrasie.
Andersins is van der Westhuizen se geniepsige rubriek oor die DA se beleidskonferensie deurspek met ideologiese vooroordele en halwe waarhede.
Nêrens in haar rubriek verwys Van der Westhuizen na die ANC se kwotastelsel nie. ’n Kwotastelsel is omgekeerde apartheid.
Die ANC se strafmaatreëls wat maatskappye wil verplig om aan kwotas te voldoen sal ekonomiese groei in so ’n mate belemmer dat absoluut niemand hierby baat sal vind nie. Daarom is die DA se benadering van aansporing konstruktief en slim.
Die oogmerk moet wees om nie net die markekonomie aan die gang te hou nie, maar om volgehoue groei te verseker met groeiende geleenthede vir alle Suid-Afrikaners.
Historiese ongelykhede moet reggestel word. Daarom ondersteun die DA transformasie en die nodige regstelling wat dit verg. Nepotisme en verdwaalde nasionalisme neutraliseer egter enige poging tot regstelling.

Monday, September 30, 2013

VRYHEID MET MENSWAARDIGHEID




(My brief in gister se Rapport)

In ’n land met baie negatiwiteit en sinisme is die verfrissende insigte van JP Landman welkom.

Hanlie Retief se onderhoudende gesprek met Landman (Rapport, 22 September) noop ’n mens om gevestigde opvattings te herwaardeer.

Optimisme is goed, maar dit kan en mag nie ons plig om krities te dink, vervang nie. Die gesprek of debat tussen politici of mense oor die algemeen moet eerlik omgaan met kwessies en uitdagings van die dag. Ek herinner my aan dr. Frederik van Zyl Slabbert wat by geleentheid gesê het jy kan politici nie vertrou nie.

Die implikasie vir ’n opbouende diskoers is dus dat kritiese denke ’n wesenlike element van konstruktiewe patriotisme moet bly.

’n Lewensvatbare veelpartystelsel waar die regerende party se mag in bedwang gehou word, is ononderhandelbaar – daar moet dus die moontlikheid wees om enige regerende party suksesvol by die stembus uit te daag.

’n Veelparty-demokrasie gaan oor keuses. Die mag moet by die kieser lê en nie by politici nie.

Regeringsmag word verder in bedwang gehou deur werklike onafhanklike en doeltreffende instellings soos die howe en burgerregte-organisasies, asook vrye media. Hierdie instellings is instrumenteel belangrik om ’n oop samelewing te verseker.

Geen regering moet ooit met trefsekerheid kan verklaar dat hy die volgende verkiesing sal wen nie. Sodanige regerings is dan ook meer geneig om beter te regeer.

Dis goed om te weet dat watter party ook al die ANC uit die kussings sal lig onmiddellik met ’n gedugte opposisie te doene sal kry.

Ons is inderdaad ’n diep verdeelde samelewing met wesenlike ongelykheid. Groepsdenke in watter vorm ook al blyk nie die oplossing te wees om dit te takel nie. Gewaarborgde individuele vryheid is die sleutel tot mense se menswaardigheid. Wat dus gevra word, is vryheid wat ons kan gebruik, wat geleenthede skep en menswaardigheid bevorder.

Wednesday, September 18, 2013

KOSPAKKIE-POLITIEK WYS NIKS VERANDER

( My brief in vandag se Beeld)


Blou T-hemde vs. kospakkies, titelaktes en huise. Wat is die verskil en wat sê dit van Suid-Afrika se twee hoofstroom- politieke partye?
Die nou reeds bekende blou T-hemde van die DA is doodgewoon branding, oftewel die uitbouing van ’n handelsmerk. Dit versinnebeeld die amptelike opposisie se idee van ’n oopgeleentheidsamelewing waar individuele vryheid gewaarborg en staatsmag in toom gehou word.
Hierdie handelsmerk-bevordering is ’n aanvaarde praktyk by politieke partye oor die wêreld heen, veral as dit met eie fondsinsameling en nie deur belastinggeld gefinansier word nie.
Die uitdeel van kospakkies en huise het egter niks met die uitbou van ’n handelsmerk te doen nie. Dit verontagsaam die skeiding tussen party en staat.
Die verskaffing van behuising, byvoorbeeld, is ’n regeringsfunksie wat met belastinggeld gedoen word. Om huise uit te deel kort voor kritiese tussenverkiesings is oneerlik en moreel korrup. Dit getuig ook van toenemende onsekerheid by die regerende party oor sy steun.
Dat die tradisionele ANC-ondersteuner onderwerp word aan kospakkie-politiek is ’n aanduiding dat die lewensomstandighede van hierdie kiesers nie veel verander het die afgelope 20 jaar nie. Die ANC buit hul sosio-maatskaplike omstandighede skaamteloos uit.
Hopelik sal hierdie kiesers besef dat ’n kruisie op die stembrief meer werd is as ’n kospakkie of enkele titelaktes elke vyf jaar. Goeie regering beteken deurlopende dienslewering.

Monday, September 9, 2013

LUGKASTELE NIE VAN NUT VIR INWONERS

(My brief in vandag se Beeld)



Die Tshwane-metro se 2055- visie is interessant, maar irrelevant. Dat dit met soveel trompetgeskal aangekondig is, spreek boekdele van beeldpoetsery wat moet vergoed vir swak diens.

Dié visie laat my onwillekeurig dink aan oudpres. Thabo Mbeki se Afrika-renaissannce. Sulke abstrakte konstruksies spreek nie tot mense op voetsoolvlak nie. Vra maar vir Mbeki; hy is verslaan by Polokwane ondanks lugkastele, of dalk weens die lugkastele.

Terwyl die Tshwane-metro sy pragtige visie bekend gemaak  het, was die Wonderboom-lughawe weer vandeesweek vir die hoeveelste keer die afgelope drie jaar sonder brandstof. 

Dit is maar een voorbeeld van die Tshwane-metro se mislukkings.

Brood-en-botter-sake spreek direk tot inwoners van 'n stad. Wat mense verlang, is tasbare bewyse van die politieke wil by die owerheid om deurgaans tot voordeel van inwoners te regeer.