Sunday, October 10, 2010
EAT PRAY LOVE
Almal kan identifiseer met die feit dat die lewe soms kruispaaie vir ons trek. Liz Gilbert (Julia Roberts) besef op ‘n dag dat sy op ‘n plek in haar lewe is waar sy nie wil wees nie. Haar huwelik is saai, haar lewe is sonder betekenis en haar toekoms lyk onseker. Die tipe gegewens waarmee baie van ons kan identifiseer. Sy sien die kruispad in haar lewe vir wat dit is en besluit om nie ongestoord voort te gaan nie. Sy kies ‘n afdraai pad wat haar op ‘n reis neem om die lewe te ontdek en weer by haar ware self uit te kom. Wie van ons het nie in ‘n mindere of meerdere mate dieselfde versugtings nie. Sy pak daar en dan die nodigste in ‘n tas en reis na Italie, Indie en Bali waar sy onderskeidelik die deugde van eet, gebed en liefde herontdek.
Wat ‘n eksistensiele verkenningstog kon wees ontaard in ‘n tipiese Hollywood drama wat eerder soetsappig is sonder om werklike lewensvrae te vra. Ja, daar is poskaart mooi tonele wat die asem wegslaan wat seker die viering van die lewe suggureer. Maar dis die invalle wat die innerlike reis tot selfontdekking lei wat ek in hierdie rolprent mis. Ek het die rolprent onsamehangend gevind. Welliswaar aanmekaar geplak sonder ‘n tematiese eenheid. Uiteindelik verloor ‘n mens kontak met die hoofkarakter. Dit is nie duidelik tot watter lewensinsigte sy kom en wat dit aktiveer nie.
Ek het die teater verlaat sonder om iets saam met my te neem. ‘n Twyfelagtige rolprentervaring wat 4 uit 10 kry.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment