Wednesday, September 29, 2010
TONY BLAIR - A JOURNEY
Tony Blair lyk energieryk op die omslag van sy memoir. Die vars skryf-aanslag wat dit suggureer, is nie ‘n vals belofte nie. Met Blair as ‘n woord virtuoos is dit ‘n boek wat lekker lees. Die leser word op ‘n boeiende reis geneem van ‘n politikus wat besef het dat sy party uit pas is met die kiesers se behoeftes. Blair karteer die paradigma skuif wat die Arbeiders moes maak om in pas te kom met ‘n moderne samelewing . Die zeitgeist waarmee die Arbeiders hulself moes vereenselwig, bewys hoe daar altyd ‘n wisselwerking tussen die samelewing en ‘n politieke party is. Om dit te ignoreer veronderstel stagnasie en uiteindelik irrelevansie. Met ander woorde, om die volksgemoed aan te voel. Hy besin oor waardes , sosiaal demokraties in sy geval, en die praktiese toepassing daarvan. Hy het ‘n hekel aan die ver- linkses in sy party se diktum. Terloops, sy beskrywing van die drie kategorieë Arbeiders binne sy party is fassinerend. Met die afsterwe van John Smith, Blair se voorganger, bevind die party hom by ‘n Rubicon wat oorgesteek moes word. ‘n Jare lange vriendskap met Gordon Brown het die oomblik verander toe Blair as aangewese leier na vore tree. Brown was van mening dat hy nogtans die de facto leier sou wees, iets wat Blair nooit toegelaat het nie.
As die argitek van New Labour het Blair die Arbeiders na die sentrum van Britse politiek geneem. Die breek met die verlede, die herdefiniering van ou tradisies en die omarming van die hede en die toekoms word die mantra van dit wat New Labour is. Oorweeg die slagspreuk: “Tough on crime, tough on the causes of crime.” Blair plaas ‘n besondere hoë premie op die rol en waarde van die individu. Hy respekteer aspirasie. En daarom glo hy aan ‘n samelewing wat geleenthede skep en harde werk beloon.
Die leser kry insae in moderne regerings wat soms as sofa governments beskryf word as Blair die rol van adviseurs oortuigend verduidelik. Ook die problematiek van regering word treffend beskryf. Die staatshervormings wat in die Blair jare onderneem is, is enorm. “You campaign in poetry and govern in prose.”
Daar kom baie aan die bod in hierdie nogal lywige memoir. Vrede in Noord-Ierland, Kosovo. Prinses Diana en Blair se verhouding met die vorstehuis. En natuurlik Irak en Gordon Brown.
Blair vra nie verskoning vir die oorlog in Irak nie. Oor die feit dat die inligting verkeerd was oor Weapons of Mass Destruction is hy uiteraard jammer. Hy ontken egter enige poging om intelligensie te versin om destyds ‘n oorlog te begin. Blair bely ‘n tekortkoming met die Irak kwessie. Die omvang van ‘n mislukte staat was nooit behoorlik verreken nie.
Die Blair-Brown verhouding was van meet af moeilik. Albei is van briljante kaliber. Albei ongelooflik ambisieus. En om sake net meer te kompliseer was Blair die eksponent van New Labour terwyl Brown se sentiment by die ou linkse tradisie van die Arbeiders gelê het. Wanneer jy jou van hierdie feite vergewis, verstaan jy waarom Brown as premier misluk het en waarom die Arbeiders, sonder ‘n visie om New Labour verder te neem, ‘n koue skouer by die kiesers gekry het.
Daar is heerlike anekdotes oor wêreldleiers, hul persoonlikhede, blapse en leierskapstyle. Soos George Bush wat op ‘n motorfiets by ‘n G 8 beraad ‘n polisieman raakry. Die Franse president wat Britse kos beledig. Om nie te praat van Gordon Brown wat op ‘n keer binne ‘n toilet vasgekeer is nie.
Uiteindelik ‘n sonderlinge blik op die Britse politiek, die internasionale politieke verhoog en Tony Blair die mens.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment