Saturday, February 19, 2011

HULDEBLYK AAN LUCAS MAREE


Met die heengaan van Lucas Maree gisteraand het Afrikaanse musiek een van sy grootste stemme verloor. Hierdie woordvirtuoos het met sy voortreflike lirieke bewys wat in Afrikaans gedoen kan word. Lucas was sinoniem met gehalte en integriteit. Omdat hy nie deur kommersiƫle doelwitte gedryf is nie het hy nie die een album na die ander ingeryg ter wille van verkope nie. Elke woord, liriek was met oordeel geweeg, met die gevolg dat Lucas hom nooit hoef te geskaam het vir sy liedjies nie. Sy oeuvre is van die beste wat Afrikaanse musiek ons nog gebied het.
Daar is baie van sy lirieke wat ek deur die jare binne my saamgedra het. Sou ons maar nie almal kon doen met die spreekwoordelike miljoen in die bank nie. Saam met Lucas het ek ook lank gesoek na my droomvrou. En saam met hom hunker ons almal na ‘n Victoriabaai waar ons net kan kop skoonmaak om weer by onsself uit te kom. Sulke wonderlike, tydlose lirieke. En daarby het die man ‘n wonderskone stem gehad.
Lucas Maree is nie meer met ons nie. Gelukkig kan ek aanhou luister na die wonderlike liedjies wat hy geskryf het en dit binne my saamdra.

Victoriabaai
Kyk hoe sluit die son die hemel oop.
Kyk hoe wyk die nag voor die dag.
Kyk hoe word die see in goud gedoop
Kyk hoe bloos die strand vol van hoop.

Gedagtes vat my soos ‘n kolk wat draai
Deur die newels na Victoriabaai.
Waar die branders in die skuim rond waai
Styg my hart tot waar die seemeeu draai.

Ai ai ai ai ai ai ai
Ai ek wens ek was nou daar-
Ai ai ai ai ai ai ai
Op my kliptroon by Victoriabaai

Daar kan ek nog soms my siel oop knoop:
Daar verdwyn die nag en word dit dag.
Daar kan ek my kop van kommer stroop:
Op my rots, my troon, vind ek hoop.

No comments:

Post a Comment