Thursday, September 29, 2011

DA AKKOMMODEER MENSE VAN VERSKILLENDE TALE EN GODSDIENSTE



(My brief in vandag se Beeld)

As Afrikaner en trotse lid van die Tshwane DA-koukus het ek ‘n plig om te reageer op die berig “DA sê oor taal en hoekom hy nie bid” (Beeld, 28 September). Hierdie berig, wat gebaseer is op ‘n kwaadwillige en anonieme e-pos, wek ‘n wanindruk van die positiewe gees in hierdie koukus.
‘n Minuut stilte vir elkeen van die 82 koukuslede om elkeen vir sy of haar God te bid, is in pas met die grondwet wat geloofsvryheid waarborg. Omdat die DA ‘n nie-rassige Suid-Afrikaanse party is wat die ANC toenemend geloofwaardig by die stembus uitdaag, is die DA uiteraard nie ‘n eksklusiewe Christen of Afrikaner party nie. Desnieteenstaande voel ek as Afrikaanssprekende my volkome tuis in hierdie koukus wat dikwels my saak in Afrikaans stel, maar in Engels genotuleer word sodat al my kollegas verstaan wat gesê word. Dit is ook so dat ek my dikwels in Engels uitdruk sodat almal my argument volg. Stel jou voor as my Xhoza- kollega aandring om in Xhoza te praat, want ek moet erken ek kan nie Xhoza praat nie. Hierdie taaldilemma is nie eie aan die DA se Tshwane-koukus nie, maar word soos in elke denkbare Suid-Afrikaanse werksomgewing pragmaties gehanteer. So word alle lede van die span wat gemeenskaplike doelwitte nastreef, geakkommodeer .
Onder die bekwame leierskap van die Engelsprekende Brandon Topham, wat met ‘n Afrikaanse vrou getroud is en pragtige Afrikaans met sy Afrikaanssprekende kollegas praat, beywer die DA in die Tshwane- koukus hom vir gehaltedienslewering aan alle inwoners van die stad om uiteindelik ‘n haalbare alternatief vir die ANC te wees.

Thursday, September 22, 2011

UITTREKSEL UIT 'N BRIEF AAN MY KIND


Oor net bietjie meer as 'n maand word ons eerste kind gebore. Ek is besig om 'n brief vir haar te skryf wat sy eendag as volwassene kan lees. Hieronder die gedeelte waarin ek in 'n neutedop ons politieke situasie beskryf:

'Belangrike datums op die politieke kalender is 1652, 1948, 1990, 1994. Aanvanklik kolonialisme, toe ‘n blanke( Afrikaner) heerskapy, later die aanbreek van die sogenaamde nuwe Suid-Afrika en 17 jaar gelede ons eerste volwaardige demokratiese verkiesing.
Ek is twintig jaar na die amptelike instelling van apartheid gebore. Teen die tyd wat ek stemgeregtig was het ek ‘n progresiewe Nasionale Party ondersteun wat minderheidsoorheersing wou beëindig omdat apartheid nog moreel verdedigbaar, nog volhoubaar was.
Rasgebaseerde politiek gerugsteun deur getalle politiek bedreig egter ‘n grondwetlike demokrasie gebaseer op ‘n regstaat waarbinne die magte van die wetgewende, uitvoerende en regsgesag duidelik geskei is. Voeg hierby die gaping tussen die ‘haves’ en die ‘have nots’ en jy snap iets van die geweldige uitdaging wat hierdie land in die gesig staar. Ekonomiese ongelykhede is die teelaarde vir verdwaalde revolusionêre ideale.
Die volgende belangrike datum sal die dag wees waarop die te magtige ANC skeur. ‘n Nie-rassige veelparty demokrasie sal slegs lewensvatbaar wees as een party nie ongeveer sewentig persent van die steun (ras gebaseerd) het en die ander partye meeding vir die oorblywende dertig persent steun nie. Alleen wanneer die regerende party nie seker is of hy die volgende verkiesing sal wen nie, kan ons hoop op goeie en effektiewe regering.'

Monday, September 12, 2011

RYKIE - 'n Lewe Met WOORDE



Skrywer:Lizette Rabe
Uitgewer: Tafelberg


Omdat Rykie van Reenen baanbrekerswerk in die Suid-Afrikaanse joernalistiek gedoen het regverdig dit ‘n boek wat haar loopbaan huldig. Vroue in die joernalistiek vandag se skatpligtheid teenoor hierdie nuuspionier word met hierdie boek beklemtoon. Veral die hoofstuk waarin die vrou se mindere rol destyds in die Suid-Afrikaanse media belig word, is om dit sagkens te stel, skokkend. Van Reenen se bydrae tot die emansipasie van die vrou in hierdie omgewing, wat tot onlangs toe nog deur mans oorheers is, is insiggewend en aangrypend. Die leser kom in hierdie verband diep onder die indruk watter rol haar mentor, Maria Elizabeth Rothman, oftewel M.E.R, gespeel het. Formidabele vroue wat met hul liefde vir die waarheid, onafhanklike denke en woord virtuositeit, die weg gebaan het sodat vroue volwaardige medeskrywers aan die “first rough draft of history” in Suid-Afrika kan wees.
Rabe se boek moes egter ‘n struikelblok te bowe kom, naamlik van Reenen se lewe wat in die teken van ‘n amper heilige privaatheid gestaan het. Hierdie privaatheid belemmer die boek in sy ideaal om ‘n volwaardige biografiese gelandenheid te verwerf. Dus word daar onophoudelik verwys na van Reenen se buitengewone skryftalent. Ek het die herhaalde lofsang sonder ophou steurend gevind. Nadat ek die boek gelees het, het die onderwerp van die biografie – van Reenen - om Hennie Aucamp by te haal, nooit vir my na mens kon ruik nie – daar is net te min substansie in hierdie lewenskets.
Dit is nogtans ‘n insiggewende kyk na die Suid-Afrikaanse joernalistiek met sy gender politiek. Kan enigeiemand , per slot van sake, hom of haarself ‘n wêreld sonder woorde voorstel?

Tuesday, September 6, 2011

WAAR IS DIE ANC SE VAN ZYL SLABBERT


(My brief in vandag se Beeld)

Me. Helen Zille se bereidwilligheid om in 2010 terug te staan vir mnr. Trevor Manuel as DA-leier (Beeld, 5 September) bewys onweerlegbaar dat dit by die DA nie oor eiebelang gaan nie.

Die DA is ernstig daaroor om ’n nie-rassige veelparty-demokrasie te bevorder. Manuel se vasklou aan sy pos in die ANC het die hoop op sy bydrae tot die DA se ideaal laat beskaam.

Wat my betref, is die ANC ’n groot struikelblok op pad na ’n veelparty¬demokrasie. Interessant is dat die DA intussen die mees nie-rassige party op die Suid-Afrikaanse politieke toneel geword het.

Die ANC en die land is wagtend op die ANC se dr. Frederik Van Zyl Slabbert, wat die party se rasse-ideologie kan blootlê en dit verwerp om só kragte los te laat wat die partypolitieke toneel vir altyd kan verander. Slabbert het die verstokte Afrikaner-politiek in 1986 ten goede geskud toe hy die irrelevansie van die parlement se driekamerstelsel die rug toegekeer het.

Hy was toe nie juis ’n gewilde man nie, maar sy visioenêre vermoë het die weg gebaan vir werklike hervorming om ’n ware demokrasie te verseker.

Iewers onder die gematigde ANC-lede, weet ek, is iemand met gravitas wat sekerlik nie gemaklik is met die huidige rasgebaseerde diskoers onderlê deur ’n verdwaalde hunkering na revolusie nie.

Wie dié persoon is, kan ons maar net raai, maar hy/sy is daar.

Hopelik maak die ANC se Slabbert eersdaags sy verskyning.

Intussen verdien die DA lof vir die dapper wyse waarop die party die kultuur van veelparty-demokrasie lewend hou.