(My brief in vandag se Beeld)
Dit is goed dat iemand met die statuur van emiritus-aartsbiskop Desmond Tutu in die openbaar bekend maak dat hy nie weer vir die ANC sal stem nie. Baie mense sal vra hoekom dit Tutu so lank geneem het om hierdie besluit te neem.
In die storm-en-drang-jare van die stryd teen apartheid het Tutu ook op sy manier die strewe na gelykheid en vryheid vir alle Suid-Afrikaners verpersoonlik.
Die weë van die Tutu’s van hierdie wêreld en die ANC as ’n bevrydingsbeweging het soos een geloop in ’n narratief wat die afskaffing van rassediskriminasie bepleit het.
Die land het sedert 1994 ingrypend verander met ’n grootste poging om ’n land vir almal te wees vir hulle wat hulself Suid-Afrikaners noem.
Die ANC het ongelukkig nie verander nie. Of in ieder geval nie progressief of ten goede nie. Sonder morele kompas, sonder ’n visie en sonder leierskap het hierdie party nie net gestagneer nie, dit het degenereer tot iets destruktiefs.
Dit vat dus baie van iemand soos Tutu, wie se lewenspad nou verstrengel was met die bevrydingstryd, om oor ’n persoonlike Rubicon te kom. ’n Bevestiging van die feit dat ’n veelparty-demokrasie oor keuses gaan. En ’n wins vir andersdenkendes wat al hoe ongemakliker voel oor die verdwaalde politiek van die ANC.
No comments:
Post a Comment