Saturday, March 5, 2011

ZUMAFIKASIE TREK REGERING IN 'N MAALKOLK AF


(My brief in Beeld vandag)

Met adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, in die kruisvuur omdat sy dit durf waag het om genl. Bheki Cele, polisiehoof, van onreëlmatigheid te beskuldig, is die openbare belang ernstig in die gedrang. Dié ongelukkige toedrag van sake is boonop besig om in ‘n sirkus te ontaard. Die polisiehoof het eerstens die relevansie van die openbare beskermer, soos verskans deur die grondwet, bevraagteken. Toe volg ‘n polisieklopjag op die openbare beskermer se kantore. En nou weet die polisiehoof van geen sout of water nie. Ons grondwetlike demokrasie is erg in gevaar. Die Zumafikasie van die land met die vestiging van ‘n kultuur van kaderontplooing is besig om die regering in ‘n maalkolk van korrupsie af te trek. Indien die tendens nie drasties gestuit word nie,gaan die land gou vorder van regstaat na magstaat na plunderstaat en uiteindelik ‘n mislukte staat. Slegs ‘n kragdadige opposisie met die vermoë om die regerende party geloofwaardig by die stembus uit te daag kan hierdie vernietigende spiraal keer. Dit sal die weg baan vir die herinstelling van ‘n grondwetlike demokrasie wat die staat se mag beperk om die individu se belange doeltreffend te beskerm.

Wednesday, March 2, 2011

PIK BOTHA EN SY TYD


Theresa Papenfus kies ‘n wye doek om die lewensverhaal van Roelof Frederik Botha, Suid-Afrika se eertydse minister van Buitelandse Sake, te vertel. Dit kan nie anders nie, Pik hou immers die rekord as die lansgdienende minister van hierdie portefeulje in die wêreld. Die titel van die biografie suggureer twee temas: Botha as persoon enersyds en sy tyd andersyds.
Botha se idiosinkrasië is legendaries. Die man wat ‘soos ‘n Romeinse wag in die verte kon tier’. Ewe tuis was voor sakemanne in Sandton as voor boere op die platteland. Voortdurend versies op sigaretboksies geskryf het. Joernaliste wat gesukkel het om by te hou tydens kuiersessies. Die minister wat tydens ‘n deftige onthaal spontaan begin eet het aan die ruiker rose wat aan sy vrou gegee is. Jagnaweke op ‘n kollega se plaas in die Waterberge. Sy plek volgestaan het op die internasionale politieke verhoog. ‘n Slag met die media gehad het – soos ‘n buitelandse politikus opgemerk het:’ ....he never met a microphone he didn’t like.’ Daar was ook die talle skinderstories. ‘Pik die rokjagter.’ Die minister wat ‘n soort volksmite geword het. Skitterend, welsprekend, dronklap en opportunis. Botha self ontken baie van die beskuldigings maar erken’dat hy nie ‘n engel was nie.’
Die tydgleuf waartydens Botha minister was word wydlopig behandel. Hy het welliswaar onder vier Suid-Afrikaanse regeringshoofde gedien: BJ Vorster, PW Botha en FW de Klerk. In die Mandela kabinet het hy saam met ander Nasionale Party lede ‘n korstondige termyn in ‘n ander portefeulje gehad. Elkeen van hierdie regeringshoofde se tyd het unieke eise, kwessies en ambisies gehad. Botha was persoonlik by groot vraagstukke soos Suid-Wes Afrika, Angola en Mosambiek betrokke. Die Samora Machel vliegongeluk lees soos ‘n hoofstuk reg uit ‘n spanningsverhaal. ‘n Nogal rampspoedige Europese besoek saam met PW Botha met wie die meeste Europese staatshoofde niks te doen wou he nie laat mens besef hoe ongewild die apartheidsregering was.
Wat ook aan die bod kom is die innerlike reis wat die Afrikaner as minderheidsgroep gemaak het om weg te beweeg van apartheid, die vrees vir meerderheidsregering en uiteindelik die aanvaarding van 'n een-man- een-stem kiesstelsel. Botha was in hierdie verband sy tydgenote ver vooruit. Hy het as nuweling in die parlement menseregte bepleit en later ‘n beroering veroorsaak toe hy in die Botha kabinet gesê het dat Suid-Afrika eendag ‘n swart president sal hê. Ironies was dit FW de Klerk wat blykbaar die meeste gekla het oor sy uitlating.
Botha het baie teleurstellings en terugslae beleef. Sy vrou wat verlam was na ‘n fratsongeluk. Die feit dat ‘n provinsiale leierskap hom bly ontwyk het tot amper teen die einde – maar toe was die Transvaalse leierskap amper ‘n troosprys. Die feit dat hy nie eerste minister geword het nie. En die jaloesie onder kollegas wat sy populêre styl as opportunisties ervaar het.
Pik Botha en sy Tyd is uiteindelik ‘n waardevolle toevoeging tot die Suid-Afrikaanse politieke literere tradisie. Foutloos is dit nie. Die boek van net oor die agthonderd bladsye kon onder ‘n strenger redakteurshand met maklik twee honderd plus bladsye gesny gewees het. Die herhaalde terugkeer na die Suid-Wes kwessie is hinderlik. Soms te veel detail en soms bloot onbenullig. Ek twyfel of Pik Botha die openbare figuur werklik 'ontmasker' word met die boek om Pik die mens aan die leser voor te stel – hy bly nog altyd die enigma van iemand tussen fenominaal en ‘n aandagsoeker. Miskien moet mens volstaan met sy skoonsuster, die literator Elize Botha se opmerking oor hom kort voor haar dood: “Ten spyte van al sy opvallende foute, ten spyte van al sy Don Giovanni-en Don Quichote-neigings, kry jy by hom ‘n vaste indruk van waardes –‘n mens wat volgens sulke outydse, ridderlike waardes lewe.”

Saturday, February 19, 2011

HULDEBLYK AAN LUCAS MAREE


Met die heengaan van Lucas Maree gisteraand het Afrikaanse musiek een van sy grootste stemme verloor. Hierdie woordvirtuoos het met sy voortreflike lirieke bewys wat in Afrikaans gedoen kan word. Lucas was sinoniem met gehalte en integriteit. Omdat hy nie deur kommersiële doelwitte gedryf is nie het hy nie die een album na die ander ingeryg ter wille van verkope nie. Elke woord, liriek was met oordeel geweeg, met die gevolg dat Lucas hom nooit hoef te geskaam het vir sy liedjies nie. Sy oeuvre is van die beste wat Afrikaanse musiek ons nog gebied het.
Daar is baie van sy lirieke wat ek deur die jare binne my saamgedra het. Sou ons maar nie almal kon doen met die spreekwoordelike miljoen in die bank nie. Saam met Lucas het ek ook lank gesoek na my droomvrou. En saam met hom hunker ons almal na ‘n Victoriabaai waar ons net kan kop skoonmaak om weer by onsself uit te kom. Sulke wonderlike, tydlose lirieke. En daarby het die man ‘n wonderskone stem gehad.
Lucas Maree is nie meer met ons nie. Gelukkig kan ek aanhou luister na die wonderlike liedjies wat hy geskryf het en dit binne my saamdra.

Victoriabaai
Kyk hoe sluit die son die hemel oop.
Kyk hoe wyk die nag voor die dag.
Kyk hoe word die see in goud gedoop
Kyk hoe bloos die strand vol van hoop.

Gedagtes vat my soos ‘n kolk wat draai
Deur die newels na Victoriabaai.
Waar die branders in die skuim rond waai
Styg my hart tot waar die seemeeu draai.

Ai ai ai ai ai ai ai
Ai ek wens ek was nou daar-
Ai ai ai ai ai ai ai
Op my kliptroon by Victoriabaai

Daar kan ek nog soms my siel oop knoop:
Daar verdwyn die nag en word dit dag.
Daar kan ek my kop van kommer stroop:
Op my rots, my troon, vind ek hoop.

Friday, February 18, 2011

THE KING'S SPEECH


SPELERS: Colin Firth; Geoffrey Rush; Helena Bonham Carter
REGIE : Tom Hooper
PUNTE : 8 UIT 10


Op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog staar die Verenigde Koningkryk ‘n ernstige krisis in die gesig. Ofskoon op persoonlike vlak en meesal in die binnekamers van die koningshuis, is dit ‘n probleem wat Britanje duur te staan kan kom. Feit van die saak is, Britanje se troonopvolger, koning George VI, het ‘n spraakprobleem wat hom belemmer om sy samebindende krag onder die bevolking te laat geld. Die oplossing blyk ene Lionel Logue te wees.
Wat aan die bod kom is ‘n onwaarskynlike vriendskap tussen ‘n adelike en sy spraakterapeut. Elkeen se delikate hantering van die situasie is bepalend vir die sukses van hulle poging. Uiteindelik is dit ‘n spanpoging met een doel voor oë, om aan Bertie, dis hoe George VI onder sy familie bekend gestaan het, ‘n stem te gee, letterlik en figuurlik. Wat gesê moet word en hoe dit gesê word is vandag nog iets wat die toets van oorredeing moet slaag.
Tom Hooper se rolprent is 'n stemmingvolle karakterstudie van twee mans se vriendskap wat die amper ontmoontlike getroef het met respek, deursettingsvermoë en hulle besef dat ‘n volk se lotsbestemming op die spel is. Wat inkleding, spel en regie betref adem die rolprent ‘n aristokratiese gelandenheid wat pas by die tema en boodskap. The King’s Speech verdien al die lof wat dit tans ontvang. Moet dit nie misloop nie.

Friday, February 11, 2011

FORGET PAST LOYALTIES, VOTE FOR THE PARTY THAT DELIVERS


(My letter in today's Pretoria News)

The article by Moshoeshoe Monare, “Ideological nostalgia does not secure a future” (Pretoria News, February 7) is an insightful article that touches on the problem of South African politics, namely, traditional ANC supporter’s blind loyalty to the party.
I don’t have to convince Monare that this liberation movement failed to transform itself into a political party, subscribing to a constitutional democracy underpinned by transparency and accountability. He clearly hints at this in his justifiable critique of the ANC.
Monare’s comments about misplaced nostalgia towards the ANC, reminds me of what the late Dr Frederik van Zyl Slabbert said: as long as we are kept hostage to a racist past, we must make provision for a racist future. This is the problem with our political discourse - the ANC’s abuse of identity politics that offers them an advantage at the ballot box, despite poor service delivery, incompetence and corruption.
Monare labels the opposition as useless, with which I don’t agree. I however, share Monare’s concern about the ANC’s unjustifiable monopoly on South African politics.
What is to be done? Traditional ANC supporters should cross their own rubicon by not voting for the ruling party if it does not deliver. That is the democratic and patriotic thing to do.
The DA’s philosophy defies any racist ideas. The only criteria that applies in the DA is Fit for Purpose. Voters who are tired of the ANC’s empty promises must join the DA and outnumber the ANC at the ballot box.

Tuesday, February 8, 2011

DESPERATE ANC HET NIE MEER ANTWOORDE


(My brief in vandag se Beeld)

Die mense vra basiese dienste, maar in plaas daarvan belowe die ANC hulle die hemel.

Die ANC is desperaat. Pres. Jacob Zuma se praatjies oor die hiernamaals bewys dit.

Beloftes oor tasbare dinge soos huise en basiese dienslewering word nou vervang deur die abstrakte.

Die ewige lewe in die hemel is die beloning wat aangebied word vir steun aan die ANC.

Om godsdiens in te span vir jou verkiesingsveldtog, en so onbeskaamd, is ’n dwaling wat nie geïgnoreer kan word nie.

Kerkleiers verteenwoordig ons morele gewete. Die kerk het ’n belangrike rol gespeel om van apartheid ontslae te raak deur dit tot sonde te verklaar. Nou moet kerkleiers weer na vore tree om dwalings soos dié van Zuma aan die kaak te stel.

Wat Zuma sê, is godslasterlik en kan die weg baan vir ’n verpolitiseerde godsdiens wat polarisasie in die hand sal werk.

Niemand gaan baat vind by die ANC-lugkastele en verbeeldingsvlugte nie.

Daadwerklike dienslewering is waarna mense op voetsoolvlak smag. Jy kan mense net so lank vir die gek hou.

Ná 17 jaar van demokrasie het die ANC nie meer antwoorde vir gebrekkige dienslewering nie.

Dit verduidelik Zuma se onaanvaarbare hemelbeloftes.

Sunday, February 6, 2011

BLACK SWAN


SPELERS: Natalie Portman; Vincent Cassel
REGIE : Darren Aronofsky
PUNTE : 8 UIT 10


Wees gewaarsku, Black Swan is nie ‘n pienk versiersuiker balletrolprent nie. Dit vertel die verhaal van ‘n ballerina se innerlike reis om haar magnum opus te lewer en wat dit van haar verg om die hoogste sport te bereik.

‘n Mens kan velerlei temas of motiewe uitlig. Die fyn lyn tussen ambisie en obsessie of dat die dekadente en sublieme nie altyd onderskeibaar blyk te wees nie. Belangriker nog is om nie in jou eie pad te staan nie. Uiteindelik blyk selfverwesenliking beskore te wees vir hulle wie met passie leef, hoe pervers dit ookal blyk te wees.
Black Swan is ‘n donker rolprent, allermins veilig of vervelig. Die kamera word treffend ingespan om intensiteit te bewerkstelling. Wat kinematografie betref is dit 'n briljante werk. Wat aan die bod kom, is ballet as ‘n metafoor van die lewe se stryd en strewe, pyn en ekstase, lig en donker. ‘n Moet-sien-fliek vir die kyker wat nie wegskram van uitdagende rolprente nie.