Friday, April 22, 2011

UNKNOWN




SPELERS: Liam Neeson; Diane Kruger
REGIE : Jaume Collet-Serra
PUNTE : 7 UIT 10


As die Amerikaanse bioloog, doktor Martin Harris, in Berlyn aankom vir ‘n internasionale kongres loop ding lelik skeef wanneer hy in ‘n motor ongeluk betrokke is. As hy vier dae later uit ‘n koma wakker word, begroet ‘n nare onwerklikheid hom as hy skielik nie meer Martin Harris is nie en vind dat iemand anders sy plek by die kongres ingeneem het, selfs met sy vrou aan die vreemdeling se sy. Wat op dees aarde het gebeur dat selfs sy vrou hom verwerp as die regte Dr Harris? Sy naarstiglike soektog na antwoorde word ‘n geweldadige bloedspoor wat al hoe gevaarliker word as hy weier om tou op te gooi.
‘n Grys en koue Berlyn bied die ideale palet waarteen die verhaal van ‘n raaiselagtige identiteits verlies en frenetiese geveg om oorlewing afspeel. Fotografies is die rolprent meesterlik versorg om die dramatiese en naelbyt aksietonele treffend tot hul reg te laat kom. Die spanningslyn hou jou enduit op die punt van jou stoel.
Dit is ‘n rolprent wat jou aan die raai hou tot reg aan die einde. Beslis die moeite-werd om te sien.

Saturday, April 9, 2011

WAAK MET TWEE STEMME OOR DEMOKRASIE


(My brief in vandag se Beeld)

Omdat plaaslike owerheid die regering naaste aan die mense is, bied dit kiesers ’n unieke en belangrike inspraak in sake wat hulle direk raak. My antwoord aan Cobus Claassen se vraag “Gaan my stem help?” (Beeld, 8 April), is dus ’n klinkklare “ja”.

Met die dubbeldoor-kiesstelsel het kiesers hul broodjie aan albei kante gebotter. Hulle stem vir die party van hul keuse (proporsioneel) en hulle het ’n tweede stem direk vir hul wyksraadslid. So beskou, kan die kieser ’n naam en gesig koppel aan die mens wat direk sal omsien na die kwessies en aspirasies van die gemeenskap wat hy of sy verteenwoordig.

Om enigsins daaraan te dink om hierdie stelsel te verwater of selfs te skrap sal ’n mistasting wees wat ons brose demokrasie nadelig sal beïnvloed. Waaroor egter besin moet word, is vir wie ’n mens stem.

Veral op voetsoolvlak in Suid-Afrika gaan dit oor basiese dienslewering. Brood-en-botter-politiek met ander woorde. Dink maar aan straatligte, soneringsregte, vullisverwydering en veiligheid en sekuriteit.

Vraag is, watter party is ernstig oor dienslewering? Die Demokratiese Alliansie het ’n bewese diensleweringsgeskiedenis waar hy regeer. Selfs DA-wyke in ANC-beheerde stede kan getuig van raadslede wat omsien na die belange van die gemeenskap.

Een van die redes waarom die DA ’n waarde-gelaaide verteenwoordiging kan verseker, is die prestasiemetingsmeganisme wat hy het om te verseker sy raadslede is nie daar vir ’n salaristjek nie.

Apatie is nie ’n opsie nie. Gemeenskappe moet openbare verteenwoordigers verantwoordbaar hou. Demokrasie is iets om jaloers oor te waak.

Thursday, March 31, 2011

DA KAN TSHWANE IN MUNISIPALE VERKIESING VEROWER,MNR.BEYERS


(My brief in vandag se Beeld)

Mnr. Conrad Beyers se aanspraak in sy brief in Beeld van 29 Maart dat die DA nie die Tshwane-metro kan wen in die munisipale verkiesing nie, getuig van algehele onkunde oor kontemporêre Suid-Afrikaanse politiek.

Soos dit ’n tradisionele VF+-ondersteuner betaam, poog Beyers om die Afrikaanse kultuur as vernaamste verkiesingskwessie uit te lig.

Die feit is dat kwessies soos vullisverwydering, diensterekeninge, sigbare polisiëring en talle ander wat kiesers oor kultuurgrense heen raak, nie vra om die taal waarin jy jou frustrasies en aspirasies artikuleer nie. As straatligte buite werking is, is jy in donkerte gehul, ongeag of jy Afrikaans, Engels of Xhosa is.

Die DA het bewys dinge werk waar hy aan die bewind is. Neem die Wes-Kaap, Kaapstad en Midvaal in Gauteng as voorbeelde.

’n Ander belangrike faktor is die algehele ontgogeling onder tradisionele ANC-ondersteuners. As ’n selfdienende party wat net ’n geselekteerde binnekring verryk en bevoordeel, is die ANC nie meer ’n opsie vir sy tradisionele kiesers op voetsoolvlak nie.

Die komende munisipale verkiesing bied ’n historiese geleentheid aan die DA om die Tshwane-metro te verower. Met ’n verkiesingsmanifes wat die verbeelding van kiesers oor kultuurgrense heen aangryp, is die DA gunstig geposisioneer om vriend en vyand te verras.

Tuesday, March 29, 2011

NEVER LET ME GO


SPELERS: Carey Mulligan; Andrew Garfield
REGIE : Mark Romanek
PUNTE : 6 UIT 10


Van buite lyk hulle leefwêreld normaal. Erger nog, die kinders self ken geen ander realiteit nie. Hulle is gebreinspoel om geen vrae te vra nie en daarom aanvaar hierdie kinders van die Hailsham koshuis in die Engelse platteland dat hulle enigste nutswaarde op aarde is om orgaanskenkers te wees. Wat as ‘n salige pastorale prentjie paradeer word ‘n eksistensiële nagmerrie as twee van die kinders in hulle volwasse lewe hulle liefde vir mekaar bely en gekonfronteer word met die feit dat hulle dalk nie sielloos is nie.
Die probleem met hierdie knap vervaardigde rolprent (uitstekende rolverdeling, slim kinematografie en intelligente regie) is dat dit uitsluitlik met jou brein werk sonder om jou hartsnare te roer. Ja die verhaalgegewe is baie somber en angswekkend sonder om ooit melodramaties te wees. Tog mis ‘n mens daardie iets wat jou aan die keel gryp.
Die verhaal kan uiteraard op baie vlakke geinterpreteer word. Dit belig die etiese kwessies rondom orgaanskenkings. Op ‘n eksistensieel filosofiese vlak is die rolprent ‘n metafoor van mense wat nooit grense oorsteek nie en as nutsobjekte hulle lewens lei sonder om ooit waarlik te leef. So beskou is Never let me go ‘n verdienstelike rolprent wat ek slegs kan aanbeveel vir ernstige liefhebbers van die kunsfliek.

Sunday, March 27, 2011

TREVOR MANUAL MOET KIES: ANC OF RELEVANSIE

(My brief in vandag se Rapport)

Mnr. Trevor Manuel bevind homself by ’n kruispad nadat hy die ANC openlik gekritiseer het en dié party hom behoorlik geroskam het.

Eers dit oor die ANC: Hierdie bevrydingsbeweging van weleer is vandag moreel bankrot. Polities is dit ’n rassistiese beweging wat Verwoerdiaanse rasuitsprake (volgens Manuel) van mense soos Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, en Julius Malema kondoneer. Met die Zumafikasie van die party is die ANC besig om in ’n moeras van korrupsie weg te sak. Kyk net watter sirkus die Schabir Shaik-sage is.

Ook wat die internasionale politieke toneel betref, bevind die ANC hom op ’n glibberige pad. Die Libië-kwessie, byvoorbeeld, is ’n tameletjie vir dié party. Die waarheid is die ANC is apologete van die Ghaddafi-diktatorskap wat menseregte vertrap.

Terug by Manuel. Met struggle-credentials op voetsoolvlak, ’n reputasie as knap kabinetsminister en ’n eksponent van ’n nie-rassige Suid-Afrika voel hy verstaanbaar ontuis binne die ANC.

Wat staan hom te doen?

Hy moet homself enersyds afvra of hy hom kan versoen met die verdwaalde weë van die ANC wat nepotisme, korrupsie, rassisme en swak dienslewering verdra. Andersyds is Manuel se uitdaging om relevant te bly.

My vermoede is dat hy slegs relevant kan wees buite die ANC, maar hy kan die verbeelding aangryp deur sy bande met die ANC te verbreek en ’n ander politieke tuiste of ’n rol binne die burgerlike samelewing te vind wat ons demokrasie kan uitbou en versterk.

Daar is hoop vir Suid-Afrika – sonder ’n magshonger ANC.

Manuel het twee keuses: Wees ’n onwillige toeskouer van die ANC-hubris, maar gestroop van geloofwaardigheid; of word ’n rolspeler wat ’n bydrae lewer.

Wednesday, March 23, 2011

ANC IS UIT PAS MET DIE TYDGEES


(My brief in vandag se Beeld)

Dit moet swaar wees om aan die verkeerde kant van die geskiedenis te wees. President Jacob Zuma behoort dit goed te weet. Dat die wêreld nou so teen Moeammar Ghaddafi, eertydse ANC-bondgenoot, draai, is ‘n bitter pil om te sluk.
Terwyl Suid-Afrika nie anders kon as om te stem ten gunste van die VN resolusie wat optrede teen Ghadaffi magtig nie, kon Zuma homself nie keer om die naweek daaroor te grom nie.
Kort voor lank sal Zuma besef hoe die ANC uit pas met die Zeitgeist is as kiesers die party in groot getalle die rug toekeer.

Thursday, March 10, 2011


Tim Rice en Andrew Lloyd Webber se Evita geniet tans ‘n verlengde speelvlak by Pieter Toerien se Montecasino teater onder die regie van Paul Warwick Griffen.
Dit vertel die verhaal van die meteoriese opgang wat Eva Peron, ‘n tipiese plattelandse meisie, maak as sy haar geluk in Buenos Aires gaan soek en met die militêre leier, kolonel Juan Peron, trou. As die presidentsvrou word sy gou die ‘moeder van die nasie’, spesifiek vir die gepeupel. Die populistiese regime van Peron kom egter onder druk as die sosio-ekonomiese toestand van die land versleg. Evita sterf skielik op 33 jarige ouderdom en die land word in rou gedompel.
Hierdie Suid-Afrikaanse produksie van die internasionale treffer wat gehore al meer as 35 jaar lank betower, hou jou vasgenael van begin tot einde. Beide Angela Killian as Evita en James Bortwick as Peron, skitter in hulle rolle. Die stelonwerp is baie goed. Dit is intiem, atmosferies en funksioneel. Die skitterende choreografie sorg dat die produksie gelaai is met gevoel en energie. Ook die beligting is briljant. Al die ondersteundende spelers lewer ‘n puik bydrae om hierdie bekende musiekblyspel betowerend op te voer.
Onder die regie van Paul Warwick Griffen is hierdie Evita gelaai met al die elemente wat die storie van Eva Peron se verhaal kenmerk: ambisie, euforie en patos. Daar is soveel wonderlike tonele. Wanneer Peron vir Evita by ‘n liefdadigheidsbal ontmoet, word ‘n tango gedans wat jou hondervleis gee. Trouens, die stuk het ‘n lyflikheid en sensualiteit wat enduit boei.
Die ikoniese toneel wanneer Evita Don’t cry for me Argentina sing, is briljant. Hier waardeer ‘n mens die knap gebruik van beligting. En as die sterflikheid aan Evita se deur kom klop, is haar broosheid as gewone sterfling ontroerend.
Tim Rice en Andrew Lloyd Webber het ‘n wonderlike musiekblyspel met tydlose lirieke en musiek geskep. Hierdie Suid-Afrikaanse produksie is op internasionale standaard en het my stoutste verwagtinge oortref.

(Die speelvlak duur tot 10 April)