Monday, May 13, 2013

TUTU SE RUBICON-KRUISING BETEKENISVOL



(My brief in vandag se Beeld)

Dit is goed dat iemand met die statuur van emiritus-aartsbiskop Desmond Tutu in die openbaar bekend maak dat hy nie weer vir die ANC sal stem nie. Baie mense sal vra hoekom dit Tutu so lank geneem het om hierdie besluit te neem.
In die storm-en-drang-jare van die stryd teen apartheid het Tutu ook op sy manier die strewe na gelykheid en vryheid vir alle Suid-Afrikaners verpersoonlik.
Die weë van die Tutu’s van hierdie wêreld en die ANC as ’n bevrydingsbeweging het soos een geloop in ’n narratief wat die afskaffing van rassediskriminasie bepleit het.
Die land het sedert 1994 ingrypend verander met ’n grootste poging om ’n land vir almal te wees vir hulle wat hulself Suid-Afrikaners noem.
Die ANC het ongelukkig nie verander nie. Of in ieder geval nie progressief of ten goede nie. Sonder morele kompas, sonder ’n visie en sonder leierskap het hierdie party nie net gestagneer nie, dit het degenereer tot iets destruktiefs.
Dit vat dus baie van iemand soos Tutu, wie se lewenspad nou verstrengel was met die bevrydingstryd, om oor ’n persoonlike Rubicon te kom. ’n Bevestiging van die feit dat ’n veelparty-demokrasie oor keuses gaan. En ’n wins vir andersdenkendes wat al hoe ongemakliker voel oor die verdwaalde politiek van die ANC.

Wednesday, May 8, 2013

BRIEF AAN HENNIE AUCAMP

 Hierdie brief is vandag aan Hennie Aucamp gestuur.

Geagte Hennie Aucamp

Met waardering teenoor u goedgunstige reaksie op my versoek na u kontakbesonderhede is dit met opgewondenheid dat ek aan u skryf.  'Mits dese wil ek vir jou sê' het trouens die vermoë om enige mens weer aan die skryf te kry. Dankie ook vir die vriendelike woorde oor die telefoon vanmôre.

Dit is die eerste 'fan' brief wat ek skryf. 'n Adolosente daad?   Wat is die vereistes van 'n bewonderaarsbrief?  Die term bewonderaar klink vreemd.  Ontsag vir die bydrae wat u op soveel gebiede van die letterkunde gemaak het is waar. Dat ek veral u gepubliseerde dagboeke ( al drie van hulle), die memórie 'In die vroegte' asook die portrette 'Bly te kenne'  onneersitbaar geniet het is waar. Amper vergeet ek u bundel aforismes, ' Pluk die dag'. En tans u gepubliseerde briewe - wat 'n wonderlike vreugde!  Dat ek 'n heilige respek het vir u ryk geskakeerde kuns en-literatuur kennis is waar. Maar veral is dit die menslike aspek in u dagboeke en briewe wat my aangryp. 'n Skrywer en opebare figuur wat, om u woorde te gebruik, 'na mens ruik'. Bewondering dus ja, maar veral ontsag en respek.

Welwetend dat u nie oor 'n rekenaar beskik nie en dus nie van die internet en e-posse gebruik maak nie moet ek tydsverloop al voorlopig verreken. Ek beny u hierdie posisie. In my werk is dit haas ondenkbaar om sonder 'n i-Pad oftewel  tabletrekenaar deesdae te werk. My generasie is vasgevang in die tegno-era.  Soos die filosoof Johann Rossouw dit treffend beskryf,  is die internet en e-posse die tiranie van die onmiddelike.  Om onmiddelik kennis te neem van standpunte en opdragte en onmiddelik te reageer. Indien niks anders nie, 'n absolute malligheid wat nuwe betekenis aan ' 'n gejaag na wind' gee.

Dan het u seker ook kennis geneem van Facebook, Twitter en derglike sosiale netwerke. Oor Facebook voel ek ambivalent. 'n Mens sou kon argumenteer dat dit weer mense aan die skryf gekry het. Nie geheel en al onwaar nie. Waaroor en hoe geskryf word plaas die Facebook kultus egter onder  verdenking. Ook is die 'kontak' wat mense met mekaar behou via Facebook dikwels oppervlakkig, selfs vals.  Tog bied dit my die geleentheid om my opinie oor rolprente, boeke en sake van die dag met ander te deel. Sosiale media is dus nie heeltemal sonder meriete nie.

Wat ek van u briewe waardeer is 'n ou,wêreldse bedagsaamheid. Met die hand geskryf nogal. In sy bundel kits-essays ( Ettienne van Heerden se 'Stilte ná die boek' ) is daar 'n wonderlike ode aan die brief. ' Die wete dat die brief lank in 'n kondukteurswa of op 'n stoomboot sou vertoef, het die skrywer daarvan des te versigtiger gestem' skryf van Heerden. Stemming, gemoed, hoflikheid, ook substansie en 'n soeke na antwoorde kenmerk u briewe.

Omdat ek in die politiek is ( DA raadslid in Pretoria), skryf ek gereeld briewe wat in die dagblad Beeld verskyn. Sake van die dag dus wat ek onder die loep neem. Standpunt inname dus, politieke retoriek en skaamtelose propoganda vorm die basis van my briewe. Dit verskaf my baie vreugde.

Ek vertrou en hoop dat u gesondheid daar goed uitsien. Dat u nog vreugde put uit u belangstellings in so 'n wye reeks onderwerpe. Dit sou 'n mistasting wees om 'n enkele etiket om u nek te hang. As ek Aucamp aan die oningeligte moes beskryf sou dit wees as Aucamp die esteet en woordkunstenaar wat 'n onskatbare bydrae tot die Afrikaanse lettere gelewer het.

Met baie goeie wense

Francois Bekker

Pretoria

Saturday, May 4, 2013

UNIEGEBOU MOES WEET VAN GUPTA-INVAL


My brief in vandag se BEELD

Die Gupta-sirkus wat hom in ons land afspeel, kan net aan een ding toegeskryf word: die Zumafikasie van die ANC en hierdie party se disrespek vir Suid-Afrika.
Feit is, hier is kolonisasie ’n stappie verder geneem. Met ’n prostituut-mentaliteit word ons trots, integriteit en soewereiniteit verkwansel vir Zuma-binnekring-sakekonneksies.
Enige poging om kamtige individue as skuldiges uit te wys is ’n verdere belediging vir enige Suid-Afrikaner se intelligensie.
Die Gupta-inval by die Waterkloof-lughawe sou nie plaasgevind het sonder die medewete en goedkeuring van die Uniegebou nie.
Gelukkig het ons nog ’n vrye pers wat voorvalle soos hierdie aan die groot klok hang. Wat weer bewys hoe belangrik dit is om jaloers oor persvryheid te waak.

Monday, April 29, 2013

OOP SAMELEWINGS VERDUUR NIE LEWENSLANGE REGERINGS NIE



(My brief in Saterdag se Beeld)

Die filosoof Karl Popper was die vernaamste eksponent van hierdie soort samelewing. Popper se wetenskapbeeld, falsifisering, het as vertrekpunt van die oop samelewing gedien. Hiervolgens word wetenskaplike vordering gemaak as foute ontdek en deur regstelling uitgeskakel word.

In politieke verband dus die moontlikheid en vermoë deur middel van kritiese denke om die regering van die dag by die stembus deur ’n ander te vervang indien te veel foute en dwaling vra om herbesinning en selfs die opstel van ’n nuwe sosiale kontrak.

Die oop samelewing is ’n bedreiging vir die ANC. Anderkant swak dienslewering, korrupsie, kaderontplooiing en opportunistiese magspolitiek lê die ANC se Achilleshiel eerder daarin dat hy verstrengel geraak het in die retoriek van ’n geslote samelewing. So ’n samelewing verkies die kollektiewe bo die individuele.

Ras-nasionalisme bied ’n kortstondige magshegenomie wat lei tot verdere misplaaste selfvertroue. Wat oorbly, is ’n arrogansie wat vriend en vyand verras.

Staatsmag gegrond op die idee van ’n geslote samelewing is uiteindelik nie volhoubaar nie. Die vermoë om te voorsien in die behoeftes van die samelewing, ongeag ras, kultuur of agtergrond, neem in so ’n mate af dat ’n herwaardering van die situasie onafwendbaar word.

Met sy rug teen die muur sal die ANC alles doen om die idee van ’n oop samelewing verdag te maak. Verwag toenemende skop, skreeu en skel van ’n party wat die storielyn verloor het. Anderkant die geraas sal tradisionele ondersteuners van hierdie party toenemend kritiese denke toepas, kopskuiwe maak en alternatiewe oorweeg om goeie regering en dienslewering te verseker.



Sunday, April 21, 2013

BUITENGEWONE AUCAMP SE BRIEWE BOEI


MITS DESE WIL EK VIR JOU SÊ - briewe van HENNIE AUCAMP

Deur Petrovna Metelerkamp (hemel&see boeke)

 
My indrukke van hierdie meesleurende boek:

As woordvirtuoos het Hennie Aucamp die Afrikaanse letterkunde verryk met sy bydrae tot verskillende genres: die kortverhaal, kaberet, bloemlesings,poësie, liedtekste, akademiese werk, joernalistiek. Voeg hierby sy gepubliseerde dagboeke en hierdie bundel briewe wat in die vakkie 'ego dokumente' tuishoort.

Hierdie 'ego dokumente' bied die leser 'n unieke blik op die gedagte wêreld van 'n skrywer as kunstenaar en mens. Wat aan die bod kom,  is die dinamika van skrywerskap. Wat verreken word is watter  energie, psigiese en fisiese eise van 'n kunstenaar vereis word.  Aucamp se aanspraak op afsondering tydens kreatiewe episodes in sy lewe bepaal dikwels sy verhouding met familie en vriende. 'Mits dese wil ek vir jou sê' is 'n waardige toevoeging tot sy gepubliseerde dagboeke van vroeër.

Die ernstige leser van Afrikaanse letterkunde kry goeie insae oor die werking van tekste en hul dramatiese elemente,onder andere. Aucamp lewer gereeld kommentaar op konsepte op versoek van skrywersvriende.

Daar is soveel insigte wat hulself aanmeld in die briewe van hierdie woordmeester. Aucamp hou byvoorbeeld nie van kwalifikasies soos feministiese of gay onderskeidings in die letterkunde nie - 'dit impliseer 'n verenging van menswees'. Hy lamenteer die 'provincial culture' van die afrikaanse letterkunde, 'n letterkunde dus wat 'n vergelyking met die beste elders vermy. Oor die aard van briewe deel Aucamp interesante insigte met die leser. So beskryf hy die aard van briefskryf as 'n 'threesome' - die skrywer wat skryf, die persoon aan wie geskryf word maar dan weer die skrywer self, want hy tree via die brief ook in gesprek met homself. 

Suid-Afrika en sy geliefde Kaapstad tydens die eeuwending tot onlangs staan vir Aucamp in die teken van 'n fin-de-siècle, selfs 'n apokalips. Om sy moeder by te haal, dis ongerieflik om oud te word. Sosiale verval. Tuimelende waardes en standaarde. En die uitgewersbedryf as monolopie.

As samesteller van hierdie bundel briewe verdien Petrovna Metelerkamp groot lof dat sy hierdie geskrifte bestendig het en aan 'n wye leserspubliek beskikbaar gestel het. Dit is per slot van sake die geestesgoed van die mens wat die lewe, hoe prekêr en moeilik ookal, betekenisvol maak.

Tuesday, April 2, 2013

BEYERS GLO SEKER OOK AAN TANDEMUIS


(My brief  in vandag se Beeld)

Conrad Beyers se lawwe brief “DA vaar maar vrot toe hy Potch beheer” is paslik op 1 April, oftewel Gekkedag, in Beeld gepubliseer.

Ten opsigte van Potchefstroom sal selfs ’n kind op laerskool besef dat die DA in dié dorp in sy maand of wat in beheer net genoeg tyd gehad het om die skades en skandes van die ANC-beheerde raad te lys en om beter alternatiewe uit te wys.

Midvaal en Kaapstad, wat nou al etlike jare onder DA-beheer is, word beter regeer en bestuur as enige ander plaaslike raad in die ganse Suid-Afrika. As Beyers die teendeel glo, glo hy seker ook aan die tandemuis.







Monday, April 1, 2013

SWEET TOOTH


Onderhoudende boek wat enduit boei 

Sweet Tooth is Ian McEwan se jongste boek (2012). Dit vertel die verhaal van die naiewe Serena Frome wat deur die intelligensie dienste gewerf word om aan 'n projek met die naam Sweet Tooth deel te neem. As geheime agent moet sy 'n jong opkomende skrywer onder valse voorwensels beinvloed om dienstige letterkunde te skep. Die kandidaat is 'n nihilistiese skrywer wat eerder die distopiese gevolge van die huidige orde karteer. Serena se gevestigde sienings oor haarself, haar werkgewers en die samelewing in die algemeen begin wankel as sy geen invloed op die jong man kan uitoefen nie en boonop verlief raak op hom.
Oorrompelende prosa, interessante karakters en 'n storielyn wat die leser tot aan die einde boei, is die bestanddele van hierdie uiters leesbare boek. ' n Spioenasie  roman wat sonder geweld die banale nuanses van die sogenaamde Koue Oorlog boekstaaf. Met die interessante karakter van Tom Haley as die jong skrywer word Sweet Tooth ook 'n boek oor skrywers en letterkunde.