Sunday, June 1, 2014

CRONJÉ SE KRISTALBAL REALISTIES EN NUTTIG


 ( My brief in vandag se Rapport)


Christi van der Westhuizen se venynige resensie van Frans Cronjé se boek, A ­Time Traveller’s Guide to Our Next Ten ­Years (Rapport, 25 Mei 2014), getuig van ideologiese moedswilligheid en onakkuraatheid.

By die lees van haar resensie het ek gewonder of ek en sy dieselfde boek gelees het.

Van al die boeke wat ek die afgelope twee jaar oor kontemporêre politiek gelees het, het ek Cronjé s’n die nuttigste gevind.

Dit lees maklik en sy metode van scenario-ontwikkeling word duidelik uiteengesit.

Een van die grootste kwessies, soos Cronjé se boek uitwys, is ongelykheid in Suid-Afrika. Dit is natuurlik ’n teelaarde vir ’n revolusie – wat tot niemand se voordeel sal wees nie.

Nêrens het Cronjé aangevoer swart mense mag nie verwagtings of selfs toenemende verwagtings koester nie.

Met die gevaar van disinvestering sal die regering se vermoë om aan die verwagtings van mense, veral armes, te voldoen, al hoe moeiliker of selfs onmoontlik wees.

Visieloosheid, die gebrekkige wil om goed te regeer en korrupsie te beveg, dra nie daartoe by om beleggersvertroue in te boesem nie.

Wie nie die gevaar hiervan insien nie, is roekeloos naïef.

Vir mense soos Van der Westhuizen is jy óf ’n Afro-optimis óf ’n Afro-pessimis. Ek meen Cronjé is ’n Afro-realis.

Van der Westhuizen se voortdurende pogings om witheid op ’n siniese wyse te problematiseer, plaas ’n vraagteken agter haar posisie as onafhanklike politieke kommentator.



Thursday, May 15, 2014

POLITIEKE MOBILITEIT IS BEMOEDIGEND

 (My brief in vandag se Beeld) 

Die pas afgelope verkiesing het bewys Suid-Afrika stap nie dieselfde pad as Zimbabwe nie.

Ek is van mening dat twee trajekte hierdie stelling bewys, naamlik die ANC se afwaartse trajek en die DA se opwaartse trajek.

Hierdie neigings is nie nuut nie en dis konstant.

Wat ook bemoedigend is, is die element van politieke mobiliteit wat ons politiek kenmerk.

Twee faktore speel hier ’n rol.

Enersyds die DA se vermoë om kiesers oor kultuurgrense rondom gedeelde waardes te groepeer en andersyds die feit dat die ANC ’n huis teen homself verdeel is.

Groeiende linkse politiek gaan verdere mobiliteit meebring.

Die ANC se handelsmerk rafel stadig maar seker uit en sal binne die volgende dekade nie naastenby die trekpleister wees wat dit tot nou toe was nie.

Die DA se vasberadenheid en harde werk het reeds en sal toenemend vrugte afwerp.

Feit van die saak is, ons is besig om in die rigting van ’n twee- of drieparty-staat te beweeg en die DA sal ’n beslissende mag op hierdie politieke verhoog wees.

 

Wednesday, April 30, 2014

DRIE STEM-OPSIES VIR AFRIKAANSE KIESERS


( My brief in die Beeld van 29 April 2014)

Die ballonne en beloftes voor die verkiesing kan verwarring by kiesers veroorsaak. Verglansde manifeste van sommige politieke partye belowe ’n utopie ná 7 Mei.

Vraag is, vir wie moet ek as Afrikaanssprekende stem?

Daar is basies drie opsies:

■ Marthinus van Schalkwyk het op ’n onlangse vergadering met Afrikaanse belangegroepe by die Voortrekkermonument gesê ’n mens moet vir die ANC stem omdat hierdie party nog lank sal regeer. Sonder ’n morele kompas en met min begrip van wat ’n grondwetlike demokrasie beteken, is hierdie party ’n bedreiging vir demokrasie.

■ Die VF+ en ander nispartye. Hiervolgens neem jy op ’n permanente basis ’n minderheidsposisie in. ’n Verlooropsie, dus, wat jou kwesbaar maak vir die magslus van ’n meerderheidsparty wat onder g’n verpligting is om minderheidsregte te beskerm nie. Partye wat seksionele belange, soos spesifieke godsdiensregte, wil bevorder, is soos ’n mediese spesialis wat ’n magdom pasiënte met ’n legio siektes van ondersoek uitsluit. Daar is slegs een maatstaf vir suksesvolle politieke partye en dit is die vermoë om verkiesings te kan wen. Nispartye is dalk interessant, maar onbelangrik as die groter prentjie in ag geneem word.

■ Die derde opsie is die vorming van ’n nuwe meerderheid verenig om demokratiese beginsels wat die regerende party suksesvol by die stembus kan uitdaag. Omdat die DA se verbintenis tot goeie, deursigtige en verantwoordbare regering wat dienslewering verseker tot kiesers oor kultuurgrense spreek, is die DA die enigste alternatief vir die ANC. Die DA is twee goed wat mens nie uit die oog moet verloor nie: ’n Sterk opposisieparty wat sy waghondrol deeglik vertolk en een wat reeds in ’n provinsie regeer.

Wednesday, April 23, 2014

DIE ANC VERDIEN NIE MY STEM NIE



(My brief in vandag se Beeld)

Waarom stem ek nie ANC nie? Wanneer die ANC met Afrikaners vergader (Beeld, 22 April), is dit ’n vraag wat verdien om beantwoord te word. Hier is enkele redes:

▪My stem het niks te doen met my Afrikanerskap nie – vir die ANC om dus op grond daarvan ’n emosionele snaar by my te tokkel, is ’n mistasting;

▪Ek is ten gunste van ’n grondwetlike demokrasie en ’n regstaat waarin almal gelyk is voor die reg en die onafhanklikheid van die regbank erken en uitgebou word. Die Zumafikasie van die ANC het hierdie organisasie in ’n rampokker-beweging verander wat eerder korrupsie en Nkandla-skandale goedpraat en beskerm;

▪Vryheid van spraak en ’n vrye media is die suurstof van enige lewensvatbare demokrasie. Die ANC se beheptheid met geheimhouding ten koste van deursigtigheid is ’n antitese vir die bedoeling van ’n werklike demokrasie;

▪Ek verlang goeie, deursigtige en verantwoordbare regering. Die ANC beloon droogmakers deur hulle weer in verkiesbare posisies te plaas;

▪Ek is ten gunste van ’n nie-rassige SA waar die individu die fokuspunt is. Die ANC is skaamteloos rasbehep en is inderwaarheid ’n swart nasionalistiese beweging wat op grond daarvan ’n magshegemonie wil behou;

▪Die ANC het klaaglik misluk om ons land ’n voorkeur-beleggingsbestemming te maak om ekonomiese groei te stimuleer. Sonder ekonomiese groei sal sosio-maatskaplike probleme vererger; en

▪Ter afsluiting, geen regerende party moet sekerheid hê oor ’n oorwinning by die stembus nie. Slegs dan sal arrogansie en swak regering plek maak vir goeie regering. Met die vorming van ’n nuwe meerderheid gegrond op gedeelde waardes kan ’n veelpartydemokrasie verwesenlik word.

Friday, April 4, 2014

WAAR WIL ONS OOR 20 JAAR WEES?


(My brief in die Beeld van 1 April 2014)

Die ANC se vryheidstryd het in sy primêre doel geslaag toe Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing 20 jaar gelede gehou is. Met die herdenking behoort ons oor die volgende 20 jaar te besin.

Suid-Afrika is vandag ’n beter plek as 20 jaar gelede. Die grootste prestasie van 27 April 1994 is die feit dat almal op daardie dag volwaardige burgers van hul vaderland geword het. Hulle wat eens tweedehandse burgers was, kon voortaan aanspraak maak op volle burgerskap. En ander wat, willekeurig of onwillekeurig, deel van die bevoordeelde klas was, kon daarna die wêreld vierkantig in die oë kyk. So beskou, is ons almal op 27 April 1994 bevry.

Kritiese vrae is egter of ons demokrasie kon konsolideer, of rassisme geheel en al uitgeroei is en of die regerende party oor ’n visie vir die land tesame met beginselvaste leierskap beskik.

’n Rasgebaseerde, eenparty- politieke bestel waar die regerende party verantwoordbaarheid en deursigtigheid ondermyn, is ’n resep vir mislukking. Die Zumafikasie van die ANC het die party op ’n glybaan na algehele morele inploffing gelei. Die grootste mislukking van die ANC egter is sy onwilligheid of onvermoë om van ’n bevrydingsbeweging in ’n volwaardige politieke party te transformeer wat ’n grondwetlike demokrasie verstaan en versterk.

Waar wil ons oor 20 jaar wees? Die toets waarvoor ons as nasie staan, is of die kieserskorps die vermoë het om die regering by die stembus verantwoordbaar te hou.

Tuesday, March 11, 2014



LAASTE DANS, DRIENIE deur Steve Hofmeyr

( My indrukke van die boek)

Allereers 'n vriendelike klap na Steve Hofmeyr. Miskien moet Hofmeyr onder 'n skuilnaam publiseer. My bekommernis is die popster persona met soveel bagasie. Resensente en redakteurs wat al onder sy humeur deurgeloop het. Moedswillige polemikus.  Asook sy musiek wat nie deur almal waardeer word nie. Feit van die saak is, 'Laaste dans, Drienie' belig 'n ander talent van Hofmeyr wat verras.

Te midde van die arrestasie van Oscar Pistorius in 2013 wonder Brooklyn- polisiestasie se beeldpoetser, luitenant Muller Joubert, of daar 'n meer 'n bisarre moordsaak kan wees. Na 'n anonieme oproep na die polisiestasie hoef Joubert nie langer te wonder nie. Die verdagte is 'n 91 jarige dame van 'n aftree-oord  in die stad. Oënskynlik 'n onwaarskynlike saak, nie hoë profiel nie en les bes  in 'n doodloopstraat. Joubert besef metterwyl egter, die toekoms is seker, dis die verlede wat onvoorspelbaar is.

Of dit gedurende die tweede wêreldoorlog of 'n kontemporêre Suid-Afrika is,  een ding bly dieselfde: die soeke na liefde is universeel en tydloos. Begeerte, onbeantwoorde liefde en tragiese ironie word nie begrens deur jaartal of landsgrense nie. 

Hofmeyr se verhaal is een van epiese omvang wat afspeel op twee kontinente en wat meer as 'n half eeu van storm en drang, verlange en verraad beslaan. Dit kaarteer op boeiende wyse die kontoere van die hart en 'n land vasgevang tussen 'n wêreldoorlog en verset teen deelname aan die oorlog.

Gelaai met intrige en eg menslik noop hierdie historiese roman  die leser om die Afrikaner se geskiedenis van die veertiger jare weer na te lees. Hofmeyr se historiese kennis en navorsing is fenomenaal.  Voeg hierby die boeiende manier waarop hy sy storie vertel en stileer.
Op enkele plekke het ek lui redaksionele versorging opgemerk en 'n feit of wat, wat nie korrek is nie - byvoorbeeld dat die polisiehoofkantoor nie in Johannesburg is nie, maar wel in Pretoria. Dis egter gering teen die agtergrond van 'n epiese verhaal wat die leser oorrompel met sy boeiende storie. Ek dink die verwydering tussen 'n ma en haar seun moes meer aandag verdien het en die tonele in 'n Russiese strafkamp kry te veel verteltyd.

Wannneer mens die boek klaar gelees het voel die leser uitasem, diep ontroerd en  nuuskierig oor die menslike verhale teen die agtergrond van hierdie periode in ons geskiedenis.
 
Dis die tipe boek waaroor ek wil uitroep, maak hiervan 'n rolprent. 'n Onvergeetlike leeservaring.

Terloops,  Steve mag seker onder sy eie naam publiseer- hy kan immers trots wees op hierdie werk.

LAASTE DANS, DRIENIE verskyn by Zebra Press.

Tuesday, March 4, 2014

ANC HET GEWONE KIESERS VERSAAK: NUWE PARTY IS VIR HULLE GOEIE NUUS



( My brief in vandag se Beeld)

Dat daar ’n nuwe werkersparty op die politieke horison is (Beeld, 3 Maart), is in meer as een opsig betekenisvol.

Die volgende gedagtes in hierdie verband:

Die ANC het misluk om die meerderheid voorheen benadeelde kiesers se omstandighede daadwerklik te verbeter – afgesien van ’n handjievol biljoenêrs het die mense op voetsoolvlak agterblewe gebly;

Die ekonomie se behoefte na struktuurverandering om toeganklikheid te verseker tesame met vaardigheidsontwikkeling is ons grootste enkele uitdaging vir die toekoms;
Die te stigte werkersparty, United Front and Movement for Socialism, sal inderdaad die aspirasies van baie mense artikuleer;

Met die 2019-verkiesing kan die ANC se magshegenomie tot ’n einde kom wat beteken dat die politieke toneel heel anders sal lyk; en

’n Daadwerklike veelparty- politieke stelsel waar geen party seker is van ’n oorwinning by die stembus nie, is goeie nuus vir die demokrasie.

Slegs nie-rassige partye wat die belange van alle Suid-Afrikaners op die hart dra met haalbare beleidsvoorstelle sal in die toekoms oorleef.

Sommige partye sal sterker word, ander sal verdwyn. Vir my blyk die wenner in hierdie stryd die gewone kieser te wees.