Monday, April 29, 2013

OOP SAMELEWINGS VERDUUR NIE LEWENSLANGE REGERINGS NIE



(My brief in Saterdag se Beeld)

Die filosoof Karl Popper was die vernaamste eksponent van hierdie soort samelewing. Popper se wetenskapbeeld, falsifisering, het as vertrekpunt van die oop samelewing gedien. Hiervolgens word wetenskaplike vordering gemaak as foute ontdek en deur regstelling uitgeskakel word.

In politieke verband dus die moontlikheid en vermoë deur middel van kritiese denke om die regering van die dag by die stembus deur ’n ander te vervang indien te veel foute en dwaling vra om herbesinning en selfs die opstel van ’n nuwe sosiale kontrak.

Die oop samelewing is ’n bedreiging vir die ANC. Anderkant swak dienslewering, korrupsie, kaderontplooiing en opportunistiese magspolitiek lê die ANC se Achilleshiel eerder daarin dat hy verstrengel geraak het in die retoriek van ’n geslote samelewing. So ’n samelewing verkies die kollektiewe bo die individuele.

Ras-nasionalisme bied ’n kortstondige magshegenomie wat lei tot verdere misplaaste selfvertroue. Wat oorbly, is ’n arrogansie wat vriend en vyand verras.

Staatsmag gegrond op die idee van ’n geslote samelewing is uiteindelik nie volhoubaar nie. Die vermoë om te voorsien in die behoeftes van die samelewing, ongeag ras, kultuur of agtergrond, neem in so ’n mate af dat ’n herwaardering van die situasie onafwendbaar word.

Met sy rug teen die muur sal die ANC alles doen om die idee van ’n oop samelewing verdag te maak. Verwag toenemende skop, skreeu en skel van ’n party wat die storielyn verloor het. Anderkant die geraas sal tradisionele ondersteuners van hierdie party toenemend kritiese denke toepas, kopskuiwe maak en alternatiewe oorweeg om goeie regering en dienslewering te verseker.



Sunday, April 21, 2013

BUITENGEWONE AUCAMP SE BRIEWE BOEI


MITS DESE WIL EK VIR JOU SÊ - briewe van HENNIE AUCAMP

Deur Petrovna Metelerkamp (hemel&see boeke)

 
My indrukke van hierdie meesleurende boek:

As woordvirtuoos het Hennie Aucamp die Afrikaanse letterkunde verryk met sy bydrae tot verskillende genres: die kortverhaal, kaberet, bloemlesings,poësie, liedtekste, akademiese werk, joernalistiek. Voeg hierby sy gepubliseerde dagboeke en hierdie bundel briewe wat in die vakkie 'ego dokumente' tuishoort.

Hierdie 'ego dokumente' bied die leser 'n unieke blik op die gedagte wêreld van 'n skrywer as kunstenaar en mens. Wat aan die bod kom,  is die dinamika van skrywerskap. Wat verreken word is watter  energie, psigiese en fisiese eise van 'n kunstenaar vereis word.  Aucamp se aanspraak op afsondering tydens kreatiewe episodes in sy lewe bepaal dikwels sy verhouding met familie en vriende. 'Mits dese wil ek vir jou sê' is 'n waardige toevoeging tot sy gepubliseerde dagboeke van vroeër.

Die ernstige leser van Afrikaanse letterkunde kry goeie insae oor die werking van tekste en hul dramatiese elemente,onder andere. Aucamp lewer gereeld kommentaar op konsepte op versoek van skrywersvriende.

Daar is soveel insigte wat hulself aanmeld in die briewe van hierdie woordmeester. Aucamp hou byvoorbeeld nie van kwalifikasies soos feministiese of gay onderskeidings in die letterkunde nie - 'dit impliseer 'n verenging van menswees'. Hy lamenteer die 'provincial culture' van die afrikaanse letterkunde, 'n letterkunde dus wat 'n vergelyking met die beste elders vermy. Oor die aard van briewe deel Aucamp interesante insigte met die leser. So beskryf hy die aard van briefskryf as 'n 'threesome' - die skrywer wat skryf, die persoon aan wie geskryf word maar dan weer die skrywer self, want hy tree via die brief ook in gesprek met homself. 

Suid-Afrika en sy geliefde Kaapstad tydens die eeuwending tot onlangs staan vir Aucamp in die teken van 'n fin-de-siècle, selfs 'n apokalips. Om sy moeder by te haal, dis ongerieflik om oud te word. Sosiale verval. Tuimelende waardes en standaarde. En die uitgewersbedryf as monolopie.

As samesteller van hierdie bundel briewe verdien Petrovna Metelerkamp groot lof dat sy hierdie geskrifte bestendig het en aan 'n wye leserspubliek beskikbaar gestel het. Dit is per slot van sake die geestesgoed van die mens wat die lewe, hoe prekêr en moeilik ookal, betekenisvol maak.

Tuesday, April 2, 2013

BEYERS GLO SEKER OOK AAN TANDEMUIS


(My brief  in vandag se Beeld)

Conrad Beyers se lawwe brief “DA vaar maar vrot toe hy Potch beheer” is paslik op 1 April, oftewel Gekkedag, in Beeld gepubliseer.

Ten opsigte van Potchefstroom sal selfs ’n kind op laerskool besef dat die DA in dié dorp in sy maand of wat in beheer net genoeg tyd gehad het om die skades en skandes van die ANC-beheerde raad te lys en om beter alternatiewe uit te wys.

Midvaal en Kaapstad, wat nou al etlike jare onder DA-beheer is, word beter regeer en bestuur as enige ander plaaslike raad in die ganse Suid-Afrika. As Beyers die teendeel glo, glo hy seker ook aan die tandemuis.







Monday, April 1, 2013

SWEET TOOTH


Onderhoudende boek wat enduit boei 

Sweet Tooth is Ian McEwan se jongste boek (2012). Dit vertel die verhaal van die naiewe Serena Frome wat deur die intelligensie dienste gewerf word om aan 'n projek met die naam Sweet Tooth deel te neem. As geheime agent moet sy 'n jong opkomende skrywer onder valse voorwensels beinvloed om dienstige letterkunde te skep. Die kandidaat is 'n nihilistiese skrywer wat eerder die distopiese gevolge van die huidige orde karteer. Serena se gevestigde sienings oor haarself, haar werkgewers en die samelewing in die algemeen begin wankel as sy geen invloed op die jong man kan uitoefen nie en boonop verlief raak op hom.
Oorrompelende prosa, interessante karakters en 'n storielyn wat die leser tot aan die einde boei, is die bestanddele van hierdie uiters leesbare boek. ' n Spioenasie  roman wat sonder geweld die banale nuanses van die sogenaamde Koue Oorlog boekstaaf. Met die interessante karakter van Tom Haley as die jong skrywer word Sweet Tooth ook 'n boek oor skrywers en letterkunde.  

Monday, December 10, 2012

Behoud van Pta was wil van die mense


(My brief in vandag se Beeld) 
Waarom die speakerskantoor van die Tshwane-metroraad geskok is oor die meerderheidsteun vir die behoud van die naam Pretoria (Beeld, 6 Desember) weet nugter.

Dan is die speakerskantoor seker ook onbewus van die kompromis wat jare gelede reeds aangegaan is om die metro Tshwane te noem met die behoud van Pretoria as pleknaam.

Die ANC gee altyd hoog op oor die wil van die mense.

Nou dat die wil van die mense nie ooreenstem met hul eie magspolitiek nie, verkeer die klomp in skok en praat selfs van “spookstemme”.

Kortsigtige politiekery moet eerder vervang word deur die strewe en ywer om dienslewering ’n prioriteit te maak.

Of sal dieselfde speakerskantoor ewe geskok wees om te verneem van pleidooie in elke uithoek van die stad vir beter dienslewering waarvoor getrou betaal word in die vorm van tariefheffings en belasting?

 

Wednesday, September 26, 2012

STAD SE 2055-VISIE LYK NA DAGDROMERY



(My brief in vandag se Tshwane Beeld)

  Kgosiento Ramokgopa, Tshwane se burgemeester se opgewondenheid oor die 2055 visie vir Tshwane ( Tshwane Beeld, 5 September), bring 'n ongemaklike  de-ja-vu by 'n mens tuis.

Ek herinner my oud president Thabo Mbeki se Afrika renaissance-konsep wat nie by  mense op voetsoolvlak aanklank gevind het nie. Dit is akademiese konstruksies wat nie brood-en-botter kwessies aanspreek nie. Mbeki se filosofiese insigte en impulse in stede van tasbare dienslewering het hom sy presidentskap gekos.

Die 2055 visie klink vir my na dagdromery. Hou in gedagte dat die Tshwane Metro blykbaar 'tegnies' bankrot is. Daar is geen planne op die tafel om werk te maak van  onmiddelike diensleweringsprobleme nie.  Om nie eens van gebrekkige infrastruktuur-onderhoud te praat nie. As daar met kaderontplooing volgehou word en deursigtige en verantwoordbare regering met slim politieke truuks omseil word, sal  die 2055 visie om die groter Pretoria 'n wereldstad te maak slegs 'n droom bly.



Thursday, September 13, 2012

DIE WONDERWERKER

(My resensie oor  hierdie Afrikaanse rolprent)


Om die enigmatiese, veelsydige en briljante Eugene Marais se siel bloot te le. Dit was die uitdaging wat Katinka Heyns (regisseur) en Chris Barnard( draaiboek) op hulle geneem het. Wat op die grootskerm ontvou, is 'n liefdesdaad wat Marais en die ander karakters in hierdie episode van sy lewe met deernis uitbeeld.

Dit vertel die verhaal van 'n gesin wat Marais tydelik verblyf aanbied as hy op 'n dag met 'n hoe koors op hul plaas opdaag. Wat volg is 'n veelvlakkige manifestasie van Marais se leefwereld en wereldbeskouing wat sy tyd vooruit was. Ook die foltering van buitestaander wees en ' n ewige verlange na sy vrou wat hom vroeg ontval het. Teen die agtergrond van 'n patriagale gemeenskap verstaan 'n mens iets van Marais se posisie wat verskillende reaksies op sy swerwersbestaan, anders kyk na die lewe en diepe nuuskierigheid na 'n wye reeks verskynsels ten gevolg gehad het. Dit ontlok bewondering,spanning en diep menslike intrige wat die omtes van die hart verken.

Die sonderlinge liefdesverhaal tussen Marais en die jong Jane Bradshaw word op sober wyse aan die bod gestel.  Ook is die emosionele ontwaking wat Marais by die plaasvrou ontlok, verfrissend. Die blootle van die rigiede patriagie van destyds is egter nie 'n nuwe tema nie.  Marius  Weyers se karakter bied weinig nuut met die nuanse van hierdie verhaallyn.

Marais se morfienverslawing word met eerlikheid en deernis hanteer. Wat mynsinsiens te kort skiet is die feit dat Marais se fenominale skrywersgees, Marais het van die mooiste verse in Afrikaans neergepen, net in die verbygaan genoem word. Dit is soos om 'n fliek oor Shakespeare te maak en nie sy pennevrug of kunstenaarskap onder die loep te neem nie.

Goed gefotografeer, goeie toneelspel en stemmingvolle regie. Vraag is, sit die fliek se hart op die regte plek?   Andersins beslis die moeite-werd om die fliek te sien.