Tuesday, July 1, 2014

'N TYDIGE RAAISKOOT OOR DIE TOEKOMS

(My opinie oor Frans Cronje se boek - A TIME TRAVELLER'S GUIDE TO OUR NEXT TEN YEARS)

Suid-Afrika is 'n baie ongewone samelewing -  baie vry en baie ongelyk. Dít is die leitmotif van Dr Frans Cronje se boek ' A time traveller's guide to our next ten years'.
Met die kartering van vier scenario's vir die volgende tien jaar, vra Cronje twee pertinenente vrae: is Suid-Afrikaners tevrede oor hoe die land regeer word en indien nie, beskik hulle oor die vermoë om 'n regeringsverandering te weeg te bring.
Die sentrale probleem is ons sukkelende ekonomie. Die regering se vermoë om die armste van die armes te voed met toelaes sal binnekort onmoontlik wees tensy daar 'n drastiese ekonomiese ommeswaai kom. Vraag is, gaan die regering die regte ding doen om ekonomiese groei te stimuleer? Sal hierdie radikale ekonomiese hervorming politieke vryheid negatief beinvloed? Of erger nog, sal die regering tot die katestrofiese ergste gaan om ondanks wat ookal aan bewind te bly?
Cronje se beskrywing van die huidige stand van sake is boeiend sonder om met tegnikaliteite en akademiese jargon te verveel. Trouens, die boek prikkel by die gewone leser 'n belangstelling in die wisselwerking tussen die ekonomie en politiek.
Enige toekomstige voorspelling is uiteraard 'n raaiskoot. Cronje se raaiskoot word ondersteun met inligting en data wat genoeg is om 'n mens slapelose nagte te besorg. Die boek doen vier scenario's aan die hand oor waar ons binne die volgende tien jaar kan wees. Dit is 'n geval van radikale verandering om weer die hoop vir 'n beter toekoms terug te gryp of 'n bloeddorstige revolusie. Baie nuttig is die padtekens en afmerklyste vir die moontlike scenario's wat die leser kan gebruik om te bepaal waarheen die land oppad is.
Hierdie boeiende en maklik leesbare boek behoort vepligte leesstof vir almal te wees wat wonder oor die land se toekoms.

Wednesday, June 11, 2014

VERWYT BEWYS LEIERSKAP IS GEBREKKIG

(My brief in gister se Beeld)

VERWYT BEWYS LEIERSKAP IS GEBREKKIG

Die ANC is met reg bekommerd oor kwynende steun in die swart middelklas (Beeld, 9 Junie) wat hoofsaaklik in metropolitaanse gebiede gevestig is. As 'n mens na stemtendense in Gauteng kyk, kan die ANC reeds in 2016 beheer oor Pretoria en Johannesburg verloor.

Dit blyk egter of gesonde selfondersoek by die ANC nie sal plaasvind nie. Die sentiment is eerder dat die swart middelklas juis hulle 'welvarende' situasie aan die die ANC te danke het. Die ANC voer aan dat hierdie middelklas ontstaan het as gevolg van die party se progressiewe beleid.

Die opkoms van die swart middelklas word dikwels uit verband geruk. Slegs sowat 5% tot 7% van swart mense maak deel uit van hierdie klas teenoor 70% wit mense.

Die vraag is in watter mate  die ANC  se  'progressiewe' beleid hiertoe bygedra het. Wat duidelik is, is dat die ANC misluk het om 'n betekenisvolle swart middelklas tot stand te bring.

Die handjievol swart mense wat deel vorm van die middelklas,  beskik waarskynlik oor genoeg kennis en insig om die ANC juis te sien as die struikelblok van daadwerklike ekonomiese groei. Hierdie mense verwag, soos alle ander Suid-Afrikaners, goeie en betroubare dienslewering waarvoor met belastinggeld betaal word.

Die ANC se selfondersoek moet eerder oor kwessies soos ekonomiese groei en dienslewering gaan. Die feit dat die swart middelklas verwyt word vir dalende steun wys duidelik dat politieke leierskap binne die ANC  feitlik nie bestaan nie.

Sunday, June 1, 2014

CRONJÉ SE KRISTALBAL REALISTIES EN NUTTIG


 ( My brief in vandag se Rapport)


Christi van der Westhuizen se venynige resensie van Frans Cronjé se boek, A ­Time Traveller’s Guide to Our Next Ten ­Years (Rapport, 25 Mei 2014), getuig van ideologiese moedswilligheid en onakkuraatheid.

By die lees van haar resensie het ek gewonder of ek en sy dieselfde boek gelees het.

Van al die boeke wat ek die afgelope twee jaar oor kontemporêre politiek gelees het, het ek Cronjé s’n die nuttigste gevind.

Dit lees maklik en sy metode van scenario-ontwikkeling word duidelik uiteengesit.

Een van die grootste kwessies, soos Cronjé se boek uitwys, is ongelykheid in Suid-Afrika. Dit is natuurlik ’n teelaarde vir ’n revolusie – wat tot niemand se voordeel sal wees nie.

Nêrens het Cronjé aangevoer swart mense mag nie verwagtings of selfs toenemende verwagtings koester nie.

Met die gevaar van disinvestering sal die regering se vermoë om aan die verwagtings van mense, veral armes, te voldoen, al hoe moeiliker of selfs onmoontlik wees.

Visieloosheid, die gebrekkige wil om goed te regeer en korrupsie te beveg, dra nie daartoe by om beleggersvertroue in te boesem nie.

Wie nie die gevaar hiervan insien nie, is roekeloos naïef.

Vir mense soos Van der Westhuizen is jy óf ’n Afro-optimis óf ’n Afro-pessimis. Ek meen Cronjé is ’n Afro-realis.

Van der Westhuizen se voortdurende pogings om witheid op ’n siniese wyse te problematiseer, plaas ’n vraagteken agter haar posisie as onafhanklike politieke kommentator.



Thursday, May 15, 2014

POLITIEKE MOBILITEIT IS BEMOEDIGEND

 (My brief in vandag se Beeld) 

Die pas afgelope verkiesing het bewys Suid-Afrika stap nie dieselfde pad as Zimbabwe nie.

Ek is van mening dat twee trajekte hierdie stelling bewys, naamlik die ANC se afwaartse trajek en die DA se opwaartse trajek.

Hierdie neigings is nie nuut nie en dis konstant.

Wat ook bemoedigend is, is die element van politieke mobiliteit wat ons politiek kenmerk.

Twee faktore speel hier ’n rol.

Enersyds die DA se vermoë om kiesers oor kultuurgrense rondom gedeelde waardes te groepeer en andersyds die feit dat die ANC ’n huis teen homself verdeel is.

Groeiende linkse politiek gaan verdere mobiliteit meebring.

Die ANC se handelsmerk rafel stadig maar seker uit en sal binne die volgende dekade nie naastenby die trekpleister wees wat dit tot nou toe was nie.

Die DA se vasberadenheid en harde werk het reeds en sal toenemend vrugte afwerp.

Feit van die saak is, ons is besig om in die rigting van ’n twee- of drieparty-staat te beweeg en die DA sal ’n beslissende mag op hierdie politieke verhoog wees.

 

Wednesday, April 30, 2014

DRIE STEM-OPSIES VIR AFRIKAANSE KIESERS


( My brief in die Beeld van 29 April 2014)

Die ballonne en beloftes voor die verkiesing kan verwarring by kiesers veroorsaak. Verglansde manifeste van sommige politieke partye belowe ’n utopie ná 7 Mei.

Vraag is, vir wie moet ek as Afrikaanssprekende stem?

Daar is basies drie opsies:

■ Marthinus van Schalkwyk het op ’n onlangse vergadering met Afrikaanse belangegroepe by die Voortrekkermonument gesê ’n mens moet vir die ANC stem omdat hierdie party nog lank sal regeer. Sonder ’n morele kompas en met min begrip van wat ’n grondwetlike demokrasie beteken, is hierdie party ’n bedreiging vir demokrasie.

■ Die VF+ en ander nispartye. Hiervolgens neem jy op ’n permanente basis ’n minderheidsposisie in. ’n Verlooropsie, dus, wat jou kwesbaar maak vir die magslus van ’n meerderheidsparty wat onder g’n verpligting is om minderheidsregte te beskerm nie. Partye wat seksionele belange, soos spesifieke godsdiensregte, wil bevorder, is soos ’n mediese spesialis wat ’n magdom pasiënte met ’n legio siektes van ondersoek uitsluit. Daar is slegs een maatstaf vir suksesvolle politieke partye en dit is die vermoë om verkiesings te kan wen. Nispartye is dalk interessant, maar onbelangrik as die groter prentjie in ag geneem word.

■ Die derde opsie is die vorming van ’n nuwe meerderheid verenig om demokratiese beginsels wat die regerende party suksesvol by die stembus kan uitdaag. Omdat die DA se verbintenis tot goeie, deursigtige en verantwoordbare regering wat dienslewering verseker tot kiesers oor kultuurgrense spreek, is die DA die enigste alternatief vir die ANC. Die DA is twee goed wat mens nie uit die oog moet verloor nie: ’n Sterk opposisieparty wat sy waghondrol deeglik vertolk en een wat reeds in ’n provinsie regeer.

Wednesday, April 23, 2014

DIE ANC VERDIEN NIE MY STEM NIE



(My brief in vandag se Beeld)

Waarom stem ek nie ANC nie? Wanneer die ANC met Afrikaners vergader (Beeld, 22 April), is dit ’n vraag wat verdien om beantwoord te word. Hier is enkele redes:

▪My stem het niks te doen met my Afrikanerskap nie – vir die ANC om dus op grond daarvan ’n emosionele snaar by my te tokkel, is ’n mistasting;

▪Ek is ten gunste van ’n grondwetlike demokrasie en ’n regstaat waarin almal gelyk is voor die reg en die onafhanklikheid van die regbank erken en uitgebou word. Die Zumafikasie van die ANC het hierdie organisasie in ’n rampokker-beweging verander wat eerder korrupsie en Nkandla-skandale goedpraat en beskerm;

▪Vryheid van spraak en ’n vrye media is die suurstof van enige lewensvatbare demokrasie. Die ANC se beheptheid met geheimhouding ten koste van deursigtigheid is ’n antitese vir die bedoeling van ’n werklike demokrasie;

▪Ek verlang goeie, deursigtige en verantwoordbare regering. Die ANC beloon droogmakers deur hulle weer in verkiesbare posisies te plaas;

▪Ek is ten gunste van ’n nie-rassige SA waar die individu die fokuspunt is. Die ANC is skaamteloos rasbehep en is inderwaarheid ’n swart nasionalistiese beweging wat op grond daarvan ’n magshegemonie wil behou;

▪Die ANC het klaaglik misluk om ons land ’n voorkeur-beleggingsbestemming te maak om ekonomiese groei te stimuleer. Sonder ekonomiese groei sal sosio-maatskaplike probleme vererger; en

▪Ter afsluiting, geen regerende party moet sekerheid hê oor ’n oorwinning by die stembus nie. Slegs dan sal arrogansie en swak regering plek maak vir goeie regering. Met die vorming van ’n nuwe meerderheid gegrond op gedeelde waardes kan ’n veelpartydemokrasie verwesenlik word.

Friday, April 4, 2014

WAAR WIL ONS OOR 20 JAAR WEES?


(My brief in die Beeld van 1 April 2014)

Die ANC se vryheidstryd het in sy primêre doel geslaag toe Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing 20 jaar gelede gehou is. Met die herdenking behoort ons oor die volgende 20 jaar te besin.

Suid-Afrika is vandag ’n beter plek as 20 jaar gelede. Die grootste prestasie van 27 April 1994 is die feit dat almal op daardie dag volwaardige burgers van hul vaderland geword het. Hulle wat eens tweedehandse burgers was, kon voortaan aanspraak maak op volle burgerskap. En ander wat, willekeurig of onwillekeurig, deel van die bevoordeelde klas was, kon daarna die wêreld vierkantig in die oë kyk. So beskou, is ons almal op 27 April 1994 bevry.

Kritiese vrae is egter of ons demokrasie kon konsolideer, of rassisme geheel en al uitgeroei is en of die regerende party oor ’n visie vir die land tesame met beginselvaste leierskap beskik.

’n Rasgebaseerde, eenparty- politieke bestel waar die regerende party verantwoordbaarheid en deursigtigheid ondermyn, is ’n resep vir mislukking. Die Zumafikasie van die ANC het die party op ’n glybaan na algehele morele inploffing gelei. Die grootste mislukking van die ANC egter is sy onwilligheid of onvermoë om van ’n bevrydingsbeweging in ’n volwaardige politieke party te transformeer wat ’n grondwetlike demokrasie verstaan en versterk.

Waar wil ons oor 20 jaar wees? Die toets waarvoor ons as nasie staan, is of die kieserskorps die vermoë het om die regering by die stembus verantwoordbaar te hou.