My Brief in By (Beeld) 4 September
Gebruik elke druppel ink - die nuwe protesletterkunde is hier
Die skrywer John Miles lamenteer tereg die de-ja-vu gevoel met die regering se beoogde Wet op die Beskerming van Inligting (By 28.8.2010). Miles bevind hom in die uitgelese geselskap van mense soos Andre P Brink, J.M Coetzee en Nadine Gordimer, wat hulle onlangs in die openbaar uitgespreek het teen die regering se voorneme om vryheid van spraak aan bande te lê. Hierdie skrywers beskik oor die morele hoëgrond omdat hulle juis deur middel van die geskrewe woord en aandrang om te weet wat van Jan Publiek weggehou word, ‘n onskatbare bydrae gemaak het om ‘n moreel onverdedigbare politieke stelsel omver te werp.
Die huidige aanslag op vryheid van spraak is die duidelikste boodskap nog dat die ANC nie werklik verbind is tot die demokrasie nie. Daarom is dit my vermoede dat ons op die drumpel van ‘n nuwe protesletterkunde staan. Sogenaamde betrokke letterkunde was mos juis die mantra van die Sestigers. Om weer betrokke te skryf en die huidige regering se magsvergrype bloot te lê, bied weereens oneindige uitdagings sowel as inspirasie aan die veterane en nuwe stemme van die Afrikaanse letterkunde. Kuns en die lettere is weereens alles behalwe ‘n luukse, dis ‘n noodsaaklikheid om ‘n regverdige samelewing te help skep. Die fascistiese ondertone van die huidige bewind is onmiskenbaar met planne vir ‘n media tribunaal en staatsbeheer oor inligting om so onbeperkte mag in die hande van die regering te plaas.
Sonder vryheid van spraak stuur ons op ‘n polities maatskaplike ramp af wat ons drome van ‘n vry en regverdige Suid-Afrika vir al sy mense vir eens en altyd in die wiele sal ry. Waar ‘n ondemokratiese minderheidsregering nie staande kon bly teen die aanslag teen hom nie, het swart nasionalisme ‘n dekmantel geword om ‘n soort legitimiteit aan ‘n ewe ondemokratiese meerderheidsregering te verleen. So beskou is vryheid van spraak die belangrikste skans teen ‘n outokrasie wat, alhoewel vroom voorkom as gevolg van ‘n geromantiseerde bevrydingstryd, dieselfde hubris as ‘n onwettige wit minderheidsregering vertoon.
Deur die eeue heen was die pen nog altyd magtiger as die swaard. Om ‘n ware grondwetlike demokrasie te bestendig moet nou die muse wees vir kunstenaars van alle genres, veral die geskrewe woord.
Nog ‘n magtige pen in die hande van gewone mense is die een waarmee kiesers aanstaande jaar ‘n kruis by die stembus trek. Skrywers en kiesers kan nie bekostig om ‘n druppel ink te vermors nie. Kritiese denke het weer nuwe betekenis verkry. Ons moet almal, terwyl ons nog die geleentheid het, outokrasie afskryf en uit stem.
No comments:
Post a Comment