Saturday, September 25, 2010
WALL STREET: MONEY NEVER SLEEPS
Vanuit ‘n visuele oogpunt is Wall Street: Money never sleeps een van die beste rolprente wat ek in jare gesien het. Oliver Stone se rolprent verkry ‘n impresionistiese geladenheid met kameraskote wat die hebsug van geld skouspelagtig aan die kaak stel. ‘n Mens voel soms duiselig tussen die wolkekrabbers en bling wat die groot geld van Amerika aanhou skep. As gesoute regisseur laat Stone egter nooit sy karakters verdwyn teen ‘n asembenewende agtergrond nie.
Jacob (Shia LaBeouf) is die ambisieuse protégé wat ‘n waardevolle mentor verloor, een van die rolprent se aandoenlikse tonele, om daarna teen alle raad in, agter Gordon Gekko (Michael Doglas) aan te hardloop nadat hy so pas uit die tronk uitgestap het. Selfs Gordon se dogter, op wie Jacob verlief is, waarsku hom teen hierdie geldwolf.
Die deurlopende tema van die rolprent is die geldborrels wat spekulatiewe ekonomieë aanhou skep. Ook die ellende wat dit ten gevolg het. Sommiges kan hiervan wegstap, ander word magneties hiernatoe aangetrek. Dis die aard van die mens. En dis niks nuuts nie. ‘n Treffende annekdote wat Gordon Gekko met ons in hierdie verband deel is die tulpbolle eiendomslenter eeue gelede in Nederland..
Kragtige toneelspel, briljante fotografie wat simbolies gelaai is en ‘n regisseur wat weet hoe om sy storie te vertel, maak Wall Street ’n besondere rolprentervaring. Geld, sê hierdie rolprent, kraai nou maar eenmaal koning. Dit kry 8 uit 10. Francois Bekker
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment