Thursday, March 31, 2011

DA KAN TSHWANE IN MUNISIPALE VERKIESING VEROWER,MNR.BEYERS


(My brief in vandag se Beeld)

Mnr. Conrad Beyers se aanspraak in sy brief in Beeld van 29 Maart dat die DA nie die Tshwane-metro kan wen in die munisipale verkiesing nie, getuig van algehele onkunde oor kontemporêre Suid-Afrikaanse politiek.

Soos dit ’n tradisionele VF+-ondersteuner betaam, poog Beyers om die Afrikaanse kultuur as vernaamste verkiesingskwessie uit te lig.

Die feit is dat kwessies soos vullisverwydering, diensterekeninge, sigbare polisiëring en talle ander wat kiesers oor kultuurgrense heen raak, nie vra om die taal waarin jy jou frustrasies en aspirasies artikuleer nie. As straatligte buite werking is, is jy in donkerte gehul, ongeag of jy Afrikaans, Engels of Xhosa is.

Die DA het bewys dinge werk waar hy aan die bewind is. Neem die Wes-Kaap, Kaapstad en Midvaal in Gauteng as voorbeelde.

’n Ander belangrike faktor is die algehele ontgogeling onder tradisionele ANC-ondersteuners. As ’n selfdienende party wat net ’n geselekteerde binnekring verryk en bevoordeel, is die ANC nie meer ’n opsie vir sy tradisionele kiesers op voetsoolvlak nie.

Die komende munisipale verkiesing bied ’n historiese geleentheid aan die DA om die Tshwane-metro te verower. Met ’n verkiesingsmanifes wat die verbeelding van kiesers oor kultuurgrense heen aangryp, is die DA gunstig geposisioneer om vriend en vyand te verras.

Tuesday, March 29, 2011

NEVER LET ME GO


SPELERS: Carey Mulligan; Andrew Garfield
REGIE : Mark Romanek
PUNTE : 6 UIT 10


Van buite lyk hulle leefwêreld normaal. Erger nog, die kinders self ken geen ander realiteit nie. Hulle is gebreinspoel om geen vrae te vra nie en daarom aanvaar hierdie kinders van die Hailsham koshuis in die Engelse platteland dat hulle enigste nutswaarde op aarde is om orgaanskenkers te wees. Wat as ‘n salige pastorale prentjie paradeer word ‘n eksistensiële nagmerrie as twee van die kinders in hulle volwasse lewe hulle liefde vir mekaar bely en gekonfronteer word met die feit dat hulle dalk nie sielloos is nie.
Die probleem met hierdie knap vervaardigde rolprent (uitstekende rolverdeling, slim kinematografie en intelligente regie) is dat dit uitsluitlik met jou brein werk sonder om jou hartsnare te roer. Ja die verhaalgegewe is baie somber en angswekkend sonder om ooit melodramaties te wees. Tog mis ‘n mens daardie iets wat jou aan die keel gryp.
Die verhaal kan uiteraard op baie vlakke geinterpreteer word. Dit belig die etiese kwessies rondom orgaanskenkings. Op ‘n eksistensieel filosofiese vlak is die rolprent ‘n metafoor van mense wat nooit grense oorsteek nie en as nutsobjekte hulle lewens lei sonder om ooit waarlik te leef. So beskou is Never let me go ‘n verdienstelike rolprent wat ek slegs kan aanbeveel vir ernstige liefhebbers van die kunsfliek.

Sunday, March 27, 2011

TREVOR MANUAL MOET KIES: ANC OF RELEVANSIE

(My brief in vandag se Rapport)

Mnr. Trevor Manuel bevind homself by ’n kruispad nadat hy die ANC openlik gekritiseer het en dié party hom behoorlik geroskam het.

Eers dit oor die ANC: Hierdie bevrydingsbeweging van weleer is vandag moreel bankrot. Polities is dit ’n rassistiese beweging wat Verwoerdiaanse rasuitsprake (volgens Manuel) van mense soos Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, en Julius Malema kondoneer. Met die Zumafikasie van die party is die ANC besig om in ’n moeras van korrupsie weg te sak. Kyk net watter sirkus die Schabir Shaik-sage is.

Ook wat die internasionale politieke toneel betref, bevind die ANC hom op ’n glibberige pad. Die Libië-kwessie, byvoorbeeld, is ’n tameletjie vir dié party. Die waarheid is die ANC is apologete van die Ghaddafi-diktatorskap wat menseregte vertrap.

Terug by Manuel. Met struggle-credentials op voetsoolvlak, ’n reputasie as knap kabinetsminister en ’n eksponent van ’n nie-rassige Suid-Afrika voel hy verstaanbaar ontuis binne die ANC.

Wat staan hom te doen?

Hy moet homself enersyds afvra of hy hom kan versoen met die verdwaalde weë van die ANC wat nepotisme, korrupsie, rassisme en swak dienslewering verdra. Andersyds is Manuel se uitdaging om relevant te bly.

My vermoede is dat hy slegs relevant kan wees buite die ANC, maar hy kan die verbeelding aangryp deur sy bande met die ANC te verbreek en ’n ander politieke tuiste of ’n rol binne die burgerlike samelewing te vind wat ons demokrasie kan uitbou en versterk.

Daar is hoop vir Suid-Afrika – sonder ’n magshonger ANC.

Manuel het twee keuses: Wees ’n onwillige toeskouer van die ANC-hubris, maar gestroop van geloofwaardigheid; of word ’n rolspeler wat ’n bydrae lewer.

Wednesday, March 23, 2011

ANC IS UIT PAS MET DIE TYDGEES


(My brief in vandag se Beeld)

Dit moet swaar wees om aan die verkeerde kant van die geskiedenis te wees. President Jacob Zuma behoort dit goed te weet. Dat die wêreld nou so teen Moeammar Ghaddafi, eertydse ANC-bondgenoot, draai, is ‘n bitter pil om te sluk.
Terwyl Suid-Afrika nie anders kon as om te stem ten gunste van die VN resolusie wat optrede teen Ghadaffi magtig nie, kon Zuma homself nie keer om die naweek daaroor te grom nie.
Kort voor lank sal Zuma besef hoe die ANC uit pas met die Zeitgeist is as kiesers die party in groot getalle die rug toekeer.

Thursday, March 10, 2011


Tim Rice en Andrew Lloyd Webber se Evita geniet tans ‘n verlengde speelvlak by Pieter Toerien se Montecasino teater onder die regie van Paul Warwick Griffen.
Dit vertel die verhaal van die meteoriese opgang wat Eva Peron, ‘n tipiese plattelandse meisie, maak as sy haar geluk in Buenos Aires gaan soek en met die militêre leier, kolonel Juan Peron, trou. As die presidentsvrou word sy gou die ‘moeder van die nasie’, spesifiek vir die gepeupel. Die populistiese regime van Peron kom egter onder druk as die sosio-ekonomiese toestand van die land versleg. Evita sterf skielik op 33 jarige ouderdom en die land word in rou gedompel.
Hierdie Suid-Afrikaanse produksie van die internasionale treffer wat gehore al meer as 35 jaar lank betower, hou jou vasgenael van begin tot einde. Beide Angela Killian as Evita en James Bortwick as Peron, skitter in hulle rolle. Die stelonwerp is baie goed. Dit is intiem, atmosferies en funksioneel. Die skitterende choreografie sorg dat die produksie gelaai is met gevoel en energie. Ook die beligting is briljant. Al die ondersteundende spelers lewer ‘n puik bydrae om hierdie bekende musiekblyspel betowerend op te voer.
Onder die regie van Paul Warwick Griffen is hierdie Evita gelaai met al die elemente wat die storie van Eva Peron se verhaal kenmerk: ambisie, euforie en patos. Daar is soveel wonderlike tonele. Wanneer Peron vir Evita by ‘n liefdadigheidsbal ontmoet, word ‘n tango gedans wat jou hondervleis gee. Trouens, die stuk het ‘n lyflikheid en sensualiteit wat enduit boei.
Die ikoniese toneel wanneer Evita Don’t cry for me Argentina sing, is briljant. Hier waardeer ‘n mens die knap gebruik van beligting. En as die sterflikheid aan Evita se deur kom klop, is haar broosheid as gewone sterfling ontroerend.
Tim Rice en Andrew Lloyd Webber het ‘n wonderlike musiekblyspel met tydlose lirieke en musiek geskep. Hierdie Suid-Afrikaanse produksie is op internasionale standaard en het my stoutste verwagtinge oortref.

(Die speelvlak duur tot 10 April)

Saturday, March 5, 2011

ZUMAFIKASIE TREK REGERING IN 'N MAALKOLK AF


(My brief in Beeld vandag)

Met adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, in die kruisvuur omdat sy dit durf waag het om genl. Bheki Cele, polisiehoof, van onreëlmatigheid te beskuldig, is die openbare belang ernstig in die gedrang. Dié ongelukkige toedrag van sake is boonop besig om in ‘n sirkus te ontaard. Die polisiehoof het eerstens die relevansie van die openbare beskermer, soos verskans deur die grondwet, bevraagteken. Toe volg ‘n polisieklopjag op die openbare beskermer se kantore. En nou weet die polisiehoof van geen sout of water nie. Ons grondwetlike demokrasie is erg in gevaar. Die Zumafikasie van die land met die vestiging van ‘n kultuur van kaderontplooing is besig om die regering in ‘n maalkolk van korrupsie af te trek. Indien die tendens nie drasties gestuit word nie,gaan die land gou vorder van regstaat na magstaat na plunderstaat en uiteindelik ‘n mislukte staat. Slegs ‘n kragdadige opposisie met die vermoë om die regerende party geloofwaardig by die stembus uit te daag kan hierdie vernietigende spiraal keer. Dit sal die weg baan vir die herinstelling van ‘n grondwetlike demokrasie wat die staat se mag beperk om die individu se belange doeltreffend te beskerm.

Wednesday, March 2, 2011

PIK BOTHA EN SY TYD


Theresa Papenfus kies ‘n wye doek om die lewensverhaal van Roelof Frederik Botha, Suid-Afrika se eertydse minister van Buitelandse Sake, te vertel. Dit kan nie anders nie, Pik hou immers die rekord as die lansgdienende minister van hierdie portefeulje in die wêreld. Die titel van die biografie suggureer twee temas: Botha as persoon enersyds en sy tyd andersyds.
Botha se idiosinkrasië is legendaries. Die man wat ‘soos ‘n Romeinse wag in die verte kon tier’. Ewe tuis was voor sakemanne in Sandton as voor boere op die platteland. Voortdurend versies op sigaretboksies geskryf het. Joernaliste wat gesukkel het om by te hou tydens kuiersessies. Die minister wat tydens ‘n deftige onthaal spontaan begin eet het aan die ruiker rose wat aan sy vrou gegee is. Jagnaweke op ‘n kollega se plaas in die Waterberge. Sy plek volgestaan het op die internasionale politieke verhoog. ‘n Slag met die media gehad het – soos ‘n buitelandse politikus opgemerk het:’ ....he never met a microphone he didn’t like.’ Daar was ook die talle skinderstories. ‘Pik die rokjagter.’ Die minister wat ‘n soort volksmite geword het. Skitterend, welsprekend, dronklap en opportunis. Botha self ontken baie van die beskuldigings maar erken’dat hy nie ‘n engel was nie.’
Die tydgleuf waartydens Botha minister was word wydlopig behandel. Hy het welliswaar onder vier Suid-Afrikaanse regeringshoofde gedien: BJ Vorster, PW Botha en FW de Klerk. In die Mandela kabinet het hy saam met ander Nasionale Party lede ‘n korstondige termyn in ‘n ander portefeulje gehad. Elkeen van hierdie regeringshoofde se tyd het unieke eise, kwessies en ambisies gehad. Botha was persoonlik by groot vraagstukke soos Suid-Wes Afrika, Angola en Mosambiek betrokke. Die Samora Machel vliegongeluk lees soos ‘n hoofstuk reg uit ‘n spanningsverhaal. ‘n Nogal rampspoedige Europese besoek saam met PW Botha met wie die meeste Europese staatshoofde niks te doen wou he nie laat mens besef hoe ongewild die apartheidsregering was.
Wat ook aan die bod kom is die innerlike reis wat die Afrikaner as minderheidsgroep gemaak het om weg te beweeg van apartheid, die vrees vir meerderheidsregering en uiteindelik die aanvaarding van 'n een-man- een-stem kiesstelsel. Botha was in hierdie verband sy tydgenote ver vooruit. Hy het as nuweling in die parlement menseregte bepleit en later ‘n beroering veroorsaak toe hy in die Botha kabinet gesê het dat Suid-Afrika eendag ‘n swart president sal hê. Ironies was dit FW de Klerk wat blykbaar die meeste gekla het oor sy uitlating.
Botha het baie teleurstellings en terugslae beleef. Sy vrou wat verlam was na ‘n fratsongeluk. Die feit dat ‘n provinsiale leierskap hom bly ontwyk het tot amper teen die einde – maar toe was die Transvaalse leierskap amper ‘n troosprys. Die feit dat hy nie eerste minister geword het nie. En die jaloesie onder kollegas wat sy populêre styl as opportunisties ervaar het.
Pik Botha en sy Tyd is uiteindelik ‘n waardevolle toevoeging tot die Suid-Afrikaanse politieke literere tradisie. Foutloos is dit nie. Die boek van net oor die agthonderd bladsye kon onder ‘n strenger redakteurshand met maklik twee honderd plus bladsye gesny gewees het. Die herhaalde terugkeer na die Suid-Wes kwessie is hinderlik. Soms te veel detail en soms bloot onbenullig. Ek twyfel of Pik Botha die openbare figuur werklik 'ontmasker' word met die boek om Pik die mens aan die leser voor te stel – hy bly nog altyd die enigma van iemand tussen fenominaal en ‘n aandagsoeker. Miskien moet mens volstaan met sy skoonsuster, die literator Elize Botha se opmerking oor hom kort voor haar dood: “Ten spyte van al sy opvallende foute, ten spyte van al sy Don Giovanni-en Don Quichote-neigings, kry jy by hom ‘n vaste indruk van waardes –‘n mens wat volgens sulke outydse, ridderlike waardes lewe.”