Tuesday, June 28, 2011

DIE VERSTE UUR

Deur Steve Hofmeyr

Zebra Press



Steve Hofmeyr se debuut novelle verlede jaar , Vier briewe vir Jan Ellis het oor die algemeen gunstige resensies ontvang – selfs van die literêre rissiepit, Joan Hambidge. Met sy nuwe roman, Die verste uur, bewys Hofmeyr dat hy tot meer in staat is as Bloubuliedjies.

Die Verste uur is alles behalwe konvensioneel. Tematies verken dit eksistensiële moontlikhede met behulp van time travel as die eerstejaar student, Jamie van der Merwe, in 'n voorvader se lyf beland, ‘n yslike glipsie maak en siedaar, die ganse gang van die Boerevolk se geskiedenis in ‘n ander ringting stuur. Stel jouself voor ‘n Pretoria in 2011 sonder Jakaranda bome, Engelse straatname en die Afrikaner ideaal wat gedy sonder mededinging of uitdagers. Is dit ‘n neo-regse hallusinasie of ‘n kreatiewe verkenning van ‘n alternatiewe Suid-Afrikaanse geskiedenis? Utopie of distopie – ek is nie seker nie.

Struktureel is Die verste uur ‘n boeiende literere eksperiment. Daar is verskillende storielyne wat op verskillende tye en plekke parallel vertel word. Die verhaal van die komponis Jean-Philippe Rameau ( 1683 – 1764) is die sleutel tot die wetenskapfiksie van die verhaal. Ofskoon Rameau se verhaal interessant is, word daar te veel vertelruimte aan hom afgestaan. As ‘n kant aantekening net dit, Hofmeyr se kennis oor klassieke musiek en filosofie is indrukwekkend – om Hofmeyr net te assosieer met gewilde liefdesliedjies is ‘n fout.

Die verhaal van Jamie van der Merwe wat per toeval ‘n tydsreis onderneem, ‘n historiese glipsie maak en in ‘n ander 2011 homself bevind sal enige leser se verbeelding prikkel. Hofmeyr se satiriese vermoë is indrukwekkend. Sy speelse vrae betreffende die volk, godsdiens en politiek is by tye skreeusnaaks.

‘n Dun boek van net meer as eenhonderd bladsye. En dankie tog dis nie ‘n lywige bundel nie want dit was nie vir my van dieselfde kaliber prosa as Vier briewe vir Jan Ellis nie. Tog is dit 'n interessante literêre eksperiment.


Naskrif:
Alhoewel mooi uitgegee deur Zebra Press (treffende voorblad) laat die lofsang van Deon Meyer en Dana Snyman op die agterblad ‘n wrang smaak in die mond. Meyer se pretensieuse brabbel is genoeg om enige voornemende leser koue voete te gee. Voeg hierby Snyman se goedkeurende opmerkings terwyl beide Meyer en Snyman binne die boek deur die outeur bedank word vir hulle ondersteuning tydens die skryfproses – ‘n mens kan nie anders as om die gunstige kommentaar met suspisie te bejeen nie.

No comments:

Post a Comment