(My brief in vandag se Beeld)
Die beoogde wetgewing wat residensiële eiendom swaar sal belas in gevalle waar eienaars twee of meer eiendomme besit, word om verskseie redes nie gunstig ontvang nie en smeek om dringende heroorweging.
Die volgende aspekte moet in ag geneem word:
• Belasting moet ingevolge die wet verhaal word dienooreenkomstig die gebruik van so ‘n eiendom. Omdat residensiële eiendom nie soos sake-eiendomme verdere druk op infrastruktuur plaas nie, is dit verkeerd om residensiële eiendomme aan hoër belasting te onderwerp.
• Dit sal mense wat daarvoor voorsiening maak om na aftrede nie van die staat afhanklik te wees nie ontmoedig om verder in die eiendomsmark te belê. Kort voor lank sal die staat dus self ‘n swaarder las hê weens mense se onvoldoende pensioen by aftrede.
• Mense met agterstallige verbande sal onmiddelik negatief geaffekteer word wat weer ‘n negatiewe uitwerking op die ekonomie sal hê.
• Die onbedoelde gevolg van hoër belasting sal verhoogde huurgeld wees sodat eienaars nie slagoffers van slegte skuld word nie en om genoegsaam voorsiening te maak vir pensioenwaardes.
• Omdat huurders hoër huur sal moet betaal, sal die aandrang op hoër besoldiging groter druk op werkgewers plaas. Hou ingedagte dat die vernaamste werkgewer in hierdie kategorie juis die staat is. In stede van hoër inkomste deur middel van verhoogde belasting sal die staat onder druk wees om hoër salarisse te betaal. Uiteindelik is daar net verloorders en geen wenners nie. Die ekonomie sal in geheel negatief geraak word.
Die eerste linie slagoffers van die beoogde wetgewing sal die huurders wees en daarna sal werkgewers, wat die staat insluit, die negatiewe gevolge moet verdiskonteer. So beskou blyk die voortselle om die wetgewing te wysig in alle opsigte teenproduktief te wees.
No comments:
Post a Comment