Wednesday, September 29, 2010

TONY BLAIR - A JOURNEY


Tony Blair lyk energieryk op die omslag van sy memoir. Die vars skryf-aanslag wat dit suggureer, is nie ‘n vals belofte nie. Met Blair as ‘n woord virtuoos is dit ‘n boek wat lekker lees. Die leser word op ‘n boeiende reis geneem van ‘n politikus wat besef het dat sy party uit pas is met die kiesers se behoeftes. Blair karteer die paradigma skuif wat die Arbeiders moes maak om in pas te kom met ‘n moderne samelewing . Die zeitgeist waarmee die Arbeiders hulself moes vereenselwig, bewys hoe daar altyd ‘n wisselwerking tussen die samelewing en ‘n politieke party is. Om dit te ignoreer veronderstel stagnasie en uiteindelik irrelevansie. Met ander woorde, om die volksgemoed aan te voel. Hy besin oor waardes , sosiaal demokraties in sy geval, en die praktiese toepassing daarvan. Hy het ‘n hekel aan die ver- linkses in sy party se diktum. Terloops, sy beskrywing van die drie kategorieë Arbeiders binne sy party is fassinerend. Met die afsterwe van John Smith, Blair se voorganger, bevind die party hom by ‘n Rubicon wat oorgesteek moes word. ‘n Jare lange vriendskap met Gordon Brown het die oomblik verander toe Blair as aangewese leier na vore tree. Brown was van mening dat hy nogtans die de facto leier sou wees, iets wat Blair nooit toegelaat het nie.
As die argitek van New Labour het Blair die Arbeiders na die sentrum van Britse politiek geneem. Die breek met die verlede, die herdefiniering van ou tradisies en die omarming van die hede en die toekoms word die mantra van dit wat New Labour is. Oorweeg die slagspreuk: “Tough on crime, tough on the causes of crime.” Blair plaas ‘n besondere hoë premie op die rol en waarde van die individu. Hy respekteer aspirasie. En daarom glo hy aan ‘n samelewing wat geleenthede skep en harde werk beloon.
Die leser kry insae in moderne regerings wat soms as sofa governments beskryf word as Blair die rol van adviseurs oortuigend verduidelik. Ook die problematiek van regering word treffend beskryf. Die staatshervormings wat in die Blair jare onderneem is, is enorm. “You campaign in poetry and govern in prose.”
Daar kom baie aan die bod in hierdie nogal lywige memoir. Vrede in Noord-Ierland, Kosovo. Prinses Diana en Blair se verhouding met die vorstehuis. En natuurlik Irak en Gordon Brown.
Blair vra nie verskoning vir die oorlog in Irak nie. Oor die feit dat die inligting verkeerd was oor Weapons of Mass Destruction is hy uiteraard jammer. Hy ontken egter enige poging om intelligensie te versin om destyds ‘n oorlog te begin. Blair bely ‘n tekortkoming met die Irak kwessie. Die omvang van ‘n mislukte staat was nooit behoorlik verreken nie.
Die Blair-Brown verhouding was van meet af moeilik. Albei is van briljante kaliber. Albei ongelooflik ambisieus. En om sake net meer te kompliseer was Blair die eksponent van New Labour terwyl Brown se sentiment by die ou linkse tradisie van die Arbeiders gelê het. Wanneer jy jou van hierdie feite vergewis, verstaan jy waarom Brown as premier misluk het en waarom die Arbeiders, sonder ‘n visie om New Labour verder te neem, ‘n koue skouer by die kiesers gekry het.
Daar is heerlike anekdotes oor wêreldleiers, hul persoonlikhede, blapse en leierskapstyle. Soos George Bush wat op ‘n motorfiets by ‘n G 8 beraad ‘n polisieman raakry. Die Franse president wat Britse kos beledig. Om nie te praat van Gordon Brown wat op ‘n keer binne ‘n toilet vasgekeer is nie.
Uiteindelik ‘n sonderlinge blik op die Britse politiek, die internasionale politieke verhoog en Tony Blair die mens.

Saturday, September 25, 2010

WALL STREET: MONEY NEVER SLEEPS


Vanuit ‘n visuele oogpunt is Wall Street: Money never sleeps een van die beste rolprente wat ek in jare gesien het. Oliver Stone se rolprent verkry ‘n impresionistiese geladenheid met kameraskote wat die hebsug van geld skouspelagtig aan die kaak stel. ‘n Mens voel soms duiselig tussen die wolkekrabbers en bling wat die groot geld van Amerika aanhou skep. As gesoute regisseur laat Stone egter nooit sy karakters verdwyn teen ‘n asembenewende agtergrond nie.
Jacob (Shia LaBeouf) is die ambisieuse protégé wat ‘n waardevolle mentor verloor, een van die rolprent se aandoenlikse tonele, om daarna teen alle raad in, agter Gordon Gekko (Michael Doglas) aan te hardloop nadat hy so pas uit die tronk uitgestap het. Selfs Gordon se dogter, op wie Jacob verlief is, waarsku hom teen hierdie geldwolf.
Die deurlopende tema van die rolprent is die geldborrels wat spekulatiewe ekonomieë aanhou skep. Ook die ellende wat dit ten gevolg het. Sommiges kan hiervan wegstap, ander word magneties hiernatoe aangetrek. Dis die aard van die mens. En dis niks nuuts nie. ‘n Treffende annekdote wat Gordon Gekko met ons in hierdie verband deel is die tulpbolle eiendomslenter eeue gelede in Nederland..
Kragtige toneelspel, briljante fotografie wat simbolies gelaai is en ‘n regisseur wat weet hoe om sy storie te vertel, maak Wall Street ’n besondere rolprentervaring. Geld, sê hierdie rolprent, kraai nou maar eenmaal koning. Dit kry 8 uit 10. Francois Bekker

Sunday, September 19, 2010

NEDERLANDSE FILM ONTROER


OORLOGSWINTER

(7 UIT 10)

Dit is asof menslike deugde en swakhede meer akuut belig word tydens ‘n oorlog. In Oorlogswinter word lojaliteit, verraad en integriteit treffend aan die orde gestel. Ook die verlies aan onskuld is onafwendbaar gedurende oorloë. In hierdie rolprent sien ons die oorlog deur die oë van die tienerseun Michiel wie se pa ‘n burgemeester van ‘n klein Hollandse dorpie is. Michiel se eerste dilemma is of hy betrokke moet raak of wegkyk. Wanneer hy tot die redding van ‘n Britse vlieënier kom verander sy perspektief onherroepbaar met verreikende gevolge.
Oorlogswinter is knap verfilm en word gekomplimenteer met hoogstaande spel. Die jong akteur Martijn Lakemeier wat die rol van Michiel vertolk dra die film eiehandig met sy subtiele en gevoelvolle spel. Moenie ‘n gewone aksie belaaide oorlogprent verwag nie. Die regisseur Martin Koolhoven se aanslag is delikaat met ‘n spanningslyn wat eerder spruit uit menslike elemente as kordiet en grofgeskut. Emosioneel miskien te afgetrokke, maar nogtans ‘n treffende herinnering van die verwoestende aard van oorlog.

(Oorlogswinter is gebaseer op ‘n roman van Jan Terlouw. Baie Afrikaanssprekendes het reeds op skool met sy skryfwerk kennis gemaak met die voorgeskrewe boek Koning van Katoren)

Saturday, September 18, 2010

CASAC 'N WELKOME INISIATIEF

Niks is so kragtig soos ‘n idee waarvoor die tyd ryp is nie. Die stigting van die raad vir die bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) is innoverend en akuut relevant. Die zeitgeist van Suid-Afrika noodsaak ‘n inisiatief van hierdie aard om tot die redding van ons jong en brose demokrasie te kom. Ofskoon Casac dit nie ten doel het om anti-ANC te wees nie, weet almal dat die wankelrige ANC-Cosatu-SAKP alliansie ‘n hoër premie op mag plaas as die beskerming en uitbouding van die demokrasie. Die party politieke landskap is die verhoog waarop politieke rolspelers hulself posisioneer om hulle ondersteuners se belange en aspirasies te artikuleer. Die grondwet is die teater waarbinne die politieke drama homself afspeel. Sonder ‘n trefseker Grondwet loop Suid-Afrika die gevaar om ‘n totalitere staat te word waarin legitieme rolspelers van die toneel af sal verdwyn. Anders gestel, Casac is ‘n insiatief wat allerweë verwelkom en ondersteun moet word om te verseker dat politieke mag
bly waar dit hoort – in die hande van die kiesers.

Saturday, September 11, 2010

BEWUSMAKING TEEN MEDIA INPERKING

MY BRIEF IN BEELD: 11 SEPTEMBER
Swart strikkie moet verset teen aanslag op vrye media uitbeeld
deur Francois Bekker van Lynnwood


Die regering se planne vir ’n mediatribunaal verteenwoordig die kreeftegang van ons demokrasie.

Sonder ’n vrye media is deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die gedrang en sal onbeperkte mag in die hande van die regerende party geplaas word.

’n Openbare bewusmakingsveldtog moet dringend begin word om die burgerlike samelewing te mobiliseer teen dié aanslag op ons demokrasie.

Ek stel voor dat ’n strikkie vir mediavryheid geskep word wat mense kan dra om hul verset teen die aanslag op vryheid van spraak uit te beeld.

Soos vigs- en kankerstrikkies moet so ’n strik ons elke dag daaraan herinner dat ’n vrye media noodsaaklik is.

’n Stigting vir ’n vrye media kan geld insamel met die verkoop van sulke strikkies vir hofsake waarin joernaliste in die toekoms gewikkel kan wees.

Die pen was nog altyd magtiger as die swaard.

’n Swart strik kan die ink wat nodig is vir die vrye vloei van inligting simboliseer.

Alle Suid-Afrikaners wat hierdie oortuiging deel, moet nou saamstaan om die regering se aanslag op ’n vrye media te stuit.

Monday, August 30, 2010

PROTESLETTERKUNDE

My Brief in By (Beeld) 4 September

Gebruik elke druppel ink - die nuwe protesletterkunde is hier

Die skrywer John Miles lamenteer tereg die de-ja-vu gevoel met die regering se beoogde Wet op die Beskerming van Inligting (By 28.8.2010). Miles bevind hom in die uitgelese geselskap van mense soos Andre P Brink, J.M Coetzee en Nadine Gordimer, wat hulle onlangs in die openbaar uitgespreek het teen die regering se voorneme om vryheid van spraak aan bande te lê. Hierdie skrywers beskik oor die morele hoëgrond omdat hulle juis deur middel van die geskrewe woord en aandrang om te weet wat van Jan Publiek weggehou word, ‘n onskatbare bydrae gemaak het om ‘n moreel onverdedigbare politieke stelsel omver te werp.
Die huidige aanslag op vryheid van spraak is die duidelikste boodskap nog dat die ANC nie werklik verbind is tot die demokrasie nie. Daarom is dit my vermoede dat ons op die drumpel van ‘n nuwe protesletterkunde staan. Sogenaamde betrokke letterkunde was mos juis die mantra van die Sestigers. Om weer betrokke te skryf en die huidige regering se magsvergrype bloot te lê, bied weereens oneindige uitdagings sowel as inspirasie aan die veterane en nuwe stemme van die Afrikaanse letterkunde. Kuns en die lettere is weereens alles behalwe ‘n luukse, dis ‘n noodsaaklikheid om ‘n regverdige samelewing te help skep. Die fascistiese ondertone van die huidige bewind is onmiskenbaar met planne vir ‘n media tribunaal en staatsbeheer oor inligting om so onbeperkte mag in die hande van die regering te plaas.
Sonder vryheid van spraak stuur ons op ‘n polities maatskaplike ramp af wat ons drome van ‘n vry en regverdige Suid-Afrika vir al sy mense vir eens en altyd in die wiele sal ry. Waar ‘n ondemokratiese minderheidsregering nie staande kon bly teen die aanslag teen hom nie, het swart nasionalisme ‘n dekmantel geword om ‘n soort legitimiteit aan ‘n ewe ondemokratiese meerderheidsregering te verleen. So beskou is vryheid van spraak die belangrikste skans teen ‘n outokrasie wat, alhoewel vroom voorkom as gevolg van ‘n geromantiseerde bevrydingstryd, dieselfde hubris as ‘n onwettige wit minderheidsregering vertoon.
Deur die eeue heen was die pen nog altyd magtiger as die swaard. Om ‘n ware grondwetlike demokrasie te bestendig moet nou die muse wees vir kunstenaars van alle genres, veral die geskrewe woord.
Nog ‘n magtige pen in die hande van gewone mense is die een waarmee kiesers aanstaande jaar ‘n kruis by die stembus trek. Skrywers en kiesers kan nie bekostig om ‘n druppel ink te vermors nie. Kritiese denke het weer nuwe betekenis verkry. Ons moet almal, terwyl ons nog die geleentheid het, outokrasie afskryf en uit stem.

Sunday, August 29, 2010

TSHWANE BUSDIENS FIASKO

DIE REDAKTEUR

REKORD


NOG 'N VERSPEELDE KANS VIR PRETORIA BUSDIENS

Die weiering van die Tswane raad om die amptelike opposisie se mosie oor ernstige probleme by die busdiens te laat dien vir bespreking by die pas afgelope maandelikse raadsvergadering was ‘n verspeelde kans om oor sinvolle oplossings te besin.
Sedert 1 Julie vanjaar heers daar groot verwarring en gepaardgaande ongelukkigheid onder pendelaars oor die nuwe kaartjiestelsel wat die Tshwane raad sonder vooraf konsultasie of kommunikasie met belanghebbendes geimplementeer het.
Die ongelukkige toedrag van sake benadeel nie alleen pendelaars wat afhanklik is van openbare vervoer nie, dit maak ook geen bydrae vanuit ‘n besigheidsoogpunt tot die busdiens nie.
Die stad se busdiens is ‘n brood-en-botter aangeleentheid wat nie ‘n party politieke kwessie behoort te wees nie. Die amptelike opposisie vind dit daarom onbegryplik waarom die Tshwane raad ‘n eensydige en hardvogtige benadering tot hierdie kwessie inneem.
Omdat alle pogings om met die Tshwane raad in gesprek te tree oor die busdiens op niks uit geloop het nie, oorweeg die amptelike opposisie sy opsies om die saak verder te neem met die oog daarop om die publiek se belange te bevorder. Soos hulle in engels se, watch the space.

Vriendelik, die uwe

Francois Bekker