Thursday, September 29, 2011

DA AKKOMMODEER MENSE VAN VERSKILLENDE TALE EN GODSDIENSTE



(My brief in vandag se Beeld)

As Afrikaner en trotse lid van die Tshwane DA-koukus het ek ‘n plig om te reageer op die berig “DA sê oor taal en hoekom hy nie bid” (Beeld, 28 September). Hierdie berig, wat gebaseer is op ‘n kwaadwillige en anonieme e-pos, wek ‘n wanindruk van die positiewe gees in hierdie koukus.
‘n Minuut stilte vir elkeen van die 82 koukuslede om elkeen vir sy of haar God te bid, is in pas met die grondwet wat geloofsvryheid waarborg. Omdat die DA ‘n nie-rassige Suid-Afrikaanse party is wat die ANC toenemend geloofwaardig by die stembus uitdaag, is die DA uiteraard nie ‘n eksklusiewe Christen of Afrikaner party nie. Desnieteenstaande voel ek as Afrikaanssprekende my volkome tuis in hierdie koukus wat dikwels my saak in Afrikaans stel, maar in Engels genotuleer word sodat al my kollegas verstaan wat gesê word. Dit is ook so dat ek my dikwels in Engels uitdruk sodat almal my argument volg. Stel jou voor as my Xhoza- kollega aandring om in Xhoza te praat, want ek moet erken ek kan nie Xhoza praat nie. Hierdie taaldilemma is nie eie aan die DA se Tshwane-koukus nie, maar word soos in elke denkbare Suid-Afrikaanse werksomgewing pragmaties gehanteer. So word alle lede van die span wat gemeenskaplike doelwitte nastreef, geakkommodeer .
Onder die bekwame leierskap van die Engelsprekende Brandon Topham, wat met ‘n Afrikaanse vrou getroud is en pragtige Afrikaans met sy Afrikaanssprekende kollegas praat, beywer die DA in die Tshwane- koukus hom vir gehaltedienslewering aan alle inwoners van die stad om uiteindelik ‘n haalbare alternatief vir die ANC te wees.

Thursday, September 22, 2011

UITTREKSEL UIT 'N BRIEF AAN MY KIND


Oor net bietjie meer as 'n maand word ons eerste kind gebore. Ek is besig om 'n brief vir haar te skryf wat sy eendag as volwassene kan lees. Hieronder die gedeelte waarin ek in 'n neutedop ons politieke situasie beskryf:

'Belangrike datums op die politieke kalender is 1652, 1948, 1990, 1994. Aanvanklik kolonialisme, toe ‘n blanke( Afrikaner) heerskapy, later die aanbreek van die sogenaamde nuwe Suid-Afrika en 17 jaar gelede ons eerste volwaardige demokratiese verkiesing.
Ek is twintig jaar na die amptelike instelling van apartheid gebore. Teen die tyd wat ek stemgeregtig was het ek ‘n progresiewe Nasionale Party ondersteun wat minderheidsoorheersing wou beëindig omdat apartheid nog moreel verdedigbaar, nog volhoubaar was.
Rasgebaseerde politiek gerugsteun deur getalle politiek bedreig egter ‘n grondwetlike demokrasie gebaseer op ‘n regstaat waarbinne die magte van die wetgewende, uitvoerende en regsgesag duidelik geskei is. Voeg hierby die gaping tussen die ‘haves’ en die ‘have nots’ en jy snap iets van die geweldige uitdaging wat hierdie land in die gesig staar. Ekonomiese ongelykhede is die teelaarde vir verdwaalde revolusionêre ideale.
Die volgende belangrike datum sal die dag wees waarop die te magtige ANC skeur. ‘n Nie-rassige veelparty demokrasie sal slegs lewensvatbaar wees as een party nie ongeveer sewentig persent van die steun (ras gebaseerd) het en die ander partye meeding vir die oorblywende dertig persent steun nie. Alleen wanneer die regerende party nie seker is of hy die volgende verkiesing sal wen nie, kan ons hoop op goeie en effektiewe regering.'

Monday, September 12, 2011

RYKIE - 'n Lewe Met WOORDE



Skrywer:Lizette Rabe
Uitgewer: Tafelberg


Omdat Rykie van Reenen baanbrekerswerk in die Suid-Afrikaanse joernalistiek gedoen het regverdig dit ‘n boek wat haar loopbaan huldig. Vroue in die joernalistiek vandag se skatpligtheid teenoor hierdie nuuspionier word met hierdie boek beklemtoon. Veral die hoofstuk waarin die vrou se mindere rol destyds in die Suid-Afrikaanse media belig word, is om dit sagkens te stel, skokkend. Van Reenen se bydrae tot die emansipasie van die vrou in hierdie omgewing, wat tot onlangs toe nog deur mans oorheers is, is insiggewend en aangrypend. Die leser kom in hierdie verband diep onder die indruk watter rol haar mentor, Maria Elizabeth Rothman, oftewel M.E.R, gespeel het. Formidabele vroue wat met hul liefde vir die waarheid, onafhanklike denke en woord virtuositeit, die weg gebaan het sodat vroue volwaardige medeskrywers aan die “first rough draft of history” in Suid-Afrika kan wees.
Rabe se boek moes egter ‘n struikelblok te bowe kom, naamlik van Reenen se lewe wat in die teken van ‘n amper heilige privaatheid gestaan het. Hierdie privaatheid belemmer die boek in sy ideaal om ‘n volwaardige biografiese gelandenheid te verwerf. Dus word daar onophoudelik verwys na van Reenen se buitengewone skryftalent. Ek het die herhaalde lofsang sonder ophou steurend gevind. Nadat ek die boek gelees het, het die onderwerp van die biografie – van Reenen - om Hennie Aucamp by te haal, nooit vir my na mens kon ruik nie – daar is net te min substansie in hierdie lewenskets.
Dit is nogtans ‘n insiggewende kyk na die Suid-Afrikaanse joernalistiek met sy gender politiek. Kan enigeiemand , per slot van sake, hom of haarself ‘n wêreld sonder woorde voorstel?

Tuesday, September 6, 2011

WAAR IS DIE ANC SE VAN ZYL SLABBERT


(My brief in vandag se Beeld)

Me. Helen Zille se bereidwilligheid om in 2010 terug te staan vir mnr. Trevor Manuel as DA-leier (Beeld, 5 September) bewys onweerlegbaar dat dit by die DA nie oor eiebelang gaan nie.

Die DA is ernstig daaroor om ’n nie-rassige veelparty-demokrasie te bevorder. Manuel se vasklou aan sy pos in die ANC het die hoop op sy bydrae tot die DA se ideaal laat beskaam.

Wat my betref, is die ANC ’n groot struikelblok op pad na ’n veelparty¬demokrasie. Interessant is dat die DA intussen die mees nie-rassige party op die Suid-Afrikaanse politieke toneel geword het.

Die ANC en die land is wagtend op die ANC se dr. Frederik Van Zyl Slabbert, wat die party se rasse-ideologie kan blootlê en dit verwerp om só kragte los te laat wat die partypolitieke toneel vir altyd kan verander. Slabbert het die verstokte Afrikaner-politiek in 1986 ten goede geskud toe hy die irrelevansie van die parlement se driekamerstelsel die rug toegekeer het.

Hy was toe nie juis ’n gewilde man nie, maar sy visioenêre vermoë het die weg gebaan vir werklike hervorming om ’n ware demokrasie te verseker.

Iewers onder die gematigde ANC-lede, weet ek, is iemand met gravitas wat sekerlik nie gemaklik is met die huidige rasgebaseerde diskoers onderlê deur ’n verdwaalde hunkering na revolusie nie.

Wie dié persoon is, kan ons maar net raai, maar hy/sy is daar.

Hopelik maak die ANC se Slabbert eersdaags sy verskyning.

Intussen verdien die DA lof vir die dapper wyse waarop die party die kultuur van veelparty-demokrasie lewend hou.

Thursday, August 25, 2011

PARKING BAY LEVY WILL HIT CONSUMERS HARD

(MY MEDIA VERKLARING WAT VANDAG UITGESTUUR IS)

The DA warned today that the proposed Parking Bay Levy will put further pressure on consumers in Pretoria. This proposed levy will probably be applicable to all commercial and industrial parking areas throughout the whole metro if the municipality gets its way. Only residential parking will be exempt.
The scope can be very wide, indeed to the extent that where businesses provide parking facilities free of charge, such parking bays will be taxed for the account of the business owner who on his part will be forced to recover the costs from his customers in one way or the other.
The proposed Parking Bay Levy is, according to the report that served at today’s monthly Council meeting, a concealed toll tariff to be imposed on the city’s motorists. The row over the Ben Schoeman toll system has barely calmed down and here we are faced with another taxation of which the legality is open to challenge.
“It is all fair and well to encourage people to use public transport and at the same time generate funds to upgrade roads.” said councillor Francois Bekker “What is worrying is the fact that such an alternative toll tariff system is implemented while no significant public transport system exists.” Bekker added.
The DA cannot support the proposed Parking Bay Levy in the absence of an effective and reliable public transport system. “Amidst challenging economic times, high fuel prices and high taxes, an additional Parking Bay Levy will have a negative ripple effect on the economy.” Bekker said.
This is an unfair and insensitive way to generate income for the Tshwane Metro. The DA strongly condemns this type of money making ploy and will strongly oppose it.

Sunday, August 21, 2011

NET 'N LEWE



Skrywer: Fransi Phillips
Uitgewer: Lapa uitgewers


Ligvoets, tong-in-die kies en sommer net aweregs is hoe hierdie baie vermaaklike boek van Fransi Phillips beskryf kan word.
Die hoofkarakter wie se naam onbekend bly, kry gestalte aan die hand van haar dagboek wat deur haar vriendin Heleen verwerk word na haar ”relatief ordentelike moord, gemeet aan Suid-Afrikaanse standaarde.” Die resultaat is ‘n eksentrieke lewenskroniek gevul met politieke, sosiale en eksistensiële kommentaar wat strek oor min of meer vier dekades binne die bestek van 248 bladsye. My raad aan voornemende lesers dus, gordel vas, want die pas is vinnig, die storie is interessant en onvoorspelbaar en die waarneming van hierdie land waarbinne ons leef, vlymskerp.
Wat aan die bod kom is die ironie van die lewe, die clichés waarteen ons ons moet verweer, en ‘n vrou wie se skans teen die aanslae van hierdie ding wat ons lewe noem, kreatiwiteit is. Op die keper beskou, die lewe en die wêreld soos ons dit ken, al erken ons dit nie altyd so eerlik soos die heldin van hierdie snaakse, by tye siniese maar strykdeur onweerstaanbare verhaal nie.
Oor hierdie boek voel ek lus om op die dak te klim en hardop te skreeu, KRY DIT EN LEES DIT!

Tuesday, August 16, 2011

TE BETWYFEL OF WELVAARTBELASTING VERSKIL AAN ARMES SE LOT SAL MAAK


(My brief in vandag se Beeld)

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu se sekerlik goed bedoelde voorstel dat wit mense oorweging aan welvaartbelasting skenk, sal om verstaanbare redes nie gunstig ontvang word deur die wit mense wie Tutu in gedagte het nie.
Wat minder opspraak wek, is dat hy op dieselfde geleentheid voorgestel het dat kabinetsministers hulle luukse ampsmotors verkoop.
Ek vermoed ‘n opregte bekommernis by die aartsbiskop oor die ekonomiese ongelykhede van die land wat nie heeltmal losgemaak kan word van die apartheid-nalatenskap nie. Ons behoort almal hierdie bekommernis te deel. Die gaping tussen die haves en die have nots is ‘n vrugbare teelaarde vir revolusionêre invloede wat ons eerder gespaar kan bly.
Tutu se voorgestelde welvaartbelasting sal om die volgende redes teenproduktief wees:
• Dit is nie lewensvatbaar of volhoubaar as die gedagte daarmee is om die ekonomiese ongelykhede uit te wis nie. Dit is kotstondig en kan nie werklik bydra om ekonomiese groei te stimuleer nie.
• Wie sal die belastingopbrengs administreer? Dieselfde mense onder wie se toesig die Lotto-geld vir verdwaalde revolusionere partytjies gebruik word? Onbevoegde en korrupte politici en amptenare wat luukse lewens lei? So beskou is dit te betwyfel of welvaartbelasting enige verskil aan die armes se lot sal maak.
• Welvaartbelasting hou die risiko in dat welvaartskeppers eerder hul kapitaal en kundigheid elders sal neem waar ondernemingsgees nie voortdurend gestraf word nie.

Verskillende mense lewer verskillende bydraes om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak. Kom ons kapitaliseer eerder op almal se individuele vermoëns om so bo ons omstandighede uit te styg sonder om die verlede lewend te hou ten koste van ‘n voorspoedige toekoms.