Monday, November 1, 2010
DEON MEYER SE NUUTSTE BOEK NIE SY BESTE
Deon Meyer se jongste werk, Spoor, beslaan ‘n allemintige 541 bladsye. Konseptueel sien die boek anders daar uit as sy vorige werke. Die boek is in 4 boeke ingedeel wat uiteindelik 109 hoofstukke beslaan.
Meyer kies ‘n wye doek om sy verhaal, weereens sterk geanker in ‘n kontemporêre Suid-Afrika van georganiseerde misdaad en internasionale terreur, te vertel. In Boek 1: Milla (Komplot), word ‘n alledaagse huisvrou betrek by die binnekringe van ons land se spioenasie agentskappe as daar vermoed word dat ‘n groep Moslem- ekstremiste ‘n terreurdaad in die aanloop van die sokkerwêreldbeker wil pleeg. In Boek 2: Lemmer (Die Swart Swaan), is ons vriend Lemmer, daardie onstuitbare lyfwag van Onsigbaar,terug. Hy word gevra om hulp te verleen met die vervoer van renosters, ‘n ekspedisie wat onaangename verrassings oplewer. Boek 3 Milla (‘n Teorie van chaos), hervat Milla se verhaal as haar voorstedelike bestaan vir eens en altyd op sy kop gekeer word wanneer die enigma Lucas Becker haar pad kruis. In Boek 4: Mat Joubert (Form 92), maak nog ‘n ou staatmaker sy opwagting om die verdwyning van ‘n bestuuder by ‘n busdiens te ondersoek. Verrassende aanknopingspunte met die vorige verhaalyne , alhoewel skraps en toevallig, meld hulself aan tydens die knap speurwerk van Joubert.
Alhoewel ambisieus in omvang het iets van die impetus, outentieke situasies en spanningslyn van Meyer se vroeëre werke verlore gegaan met hierdie boek. Daar is verskeie redes hiervoor.
Die boek is hopeloos te lank. Meyer maak homself skuldig aan die kofferboek-sindroom,om te kyk hoeveel hy in een werk ingepak kan kry. Wat gevolglik in die slag bly is fokus en ritme. Ek wil my verstout om te sê dat daar met ‘n goeie twee honderd bladsye gesny kon word.
Die spioenasiewêreld wat Meyer oproep is verbeeldingloos en vervelig. Daar is eindelose jargon en onnodige dialoog om bladsyruimte te wen.
Die gebruik van spoorsny-aanhalings bokant elke nuwe hoofstuk in boek 2 (die leitmotif van die boek is inderdaad om spore te laat of te volg) is pretensieus en irriterend.
Daar is ook ander lastige foefies wat afbreuk doen aan Meyer se letterkundige vermoëns.
Al die karakters is nie ewe geloofwaardig nie en sommige situasies en ontknopingspunte is niks anders as onwaarskynlik en vergesog nie.
Meyer is op sy beste met ‘n goeie speurverhaal met ‘n minimalistiese styl. Spoor kan allermins as ‘n waardige toevoeging tot hierdie meester van die speurroman se oeuvre beskryf word. Francois Bekker
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Ek stem saam. Ek kry nie die boek gelees nie - die pas is te stadig. Waar is die weghol spanning wat jou uitasem laat?
ReplyDeleteAnna Weideman
... laat ek vinnig byvoeg - ek het sy ander boeke verslind.
ReplyDeleteAnna
Ek het pas wee vir die hoeveelste keer Spoor gelees. Het dit weereens baie geniet
ReplyDeleteEk het Spoor vandag klaar gelees. Die eind resultant aan die einde is te vinnig. Asof daar besef word die boek moet eindig.
ReplyDeleteDie samevloeing van die vier verhale kon baie meer boeiend saamgevloei het....
Ek is n Deon Meyer aanhanger en geniet sy boeke baie
ReplyDeleteEk stem egter saam met Francois Bekker, Spoor kon my nie boei nie en ek moes dikwels terug lees om te verstaan waar pas die verskillende karakters nou eintlik in