(My gepubliseerde brief in gister se Beeld bylaag: BY)
Ons kan nie meer verwag dat politiek mense bevry nie. Die tyd het aangebreek dat mense die politiek bevry. Hierdie waarheid word bevestig deur beide Max du Preez (“Wat beteken ‘n naam? Wat beteken ‘kokkerot’?”) en Michiel le Roux (‘n Doodskoot vir wegbreek-politiek”) vir se artikels oor onderskeidelik die onbeskofte Malema en Cope wat in ‘n oorlewingstryd gewikkel is.
Eers iets oor Cope.
Ek is nie ‘n lid of ‘n ondersteuner van hierdie party nie. Tog hou ek my duime styf vas dat die party sy mojo sal herwin en sy leierskapsverskille sal bylê om uiteindelik ‘n sinvolle bydrae tot ‘n veelparty politieke stelsel te lewer. Voor dit egter kan gebeur, sal die party daadwerkilk moet demokratiseer waartydens ondersteuners sê wat hulle wil hê met die ego’s van die party se leiers vêr op die agtergrond. Slaag Cope nie die toets nie, is die party gedoem tot ondergang.
Om ‘n politieke opponent ‘n kokkerot te noem is primitief. Om deur jou party toegelaat te word om dit te sê, is skandalig. Waarom, vra ons almal, doen die ANC sulke dinge. Die antwoord is voor die hand liggend; want hy kan. Die magsbalans is mos in die ANC se guns.
Die DA se liberale waardes, wat gestalte kry in sy idee van ‘n oop samelewing, behoort byval te vind by kiesers oor ras- en kultuurgrense heen. Die ANC besef dit en sal daarom swart nasionalisme uitbuit solank hy kan. Die prys wat die ANC hiervoor gaan betaal is stagnasie omdat progressiewe politiek wat aanpas by die vereistes van die tyd nie tuishoort by hierdie beperkte tipe politiek nie.
Uiteindelik egter, hopelik gouer eerder as later, sal kiesers in groterwordende getalle besef dat die mag lê in hulle hande. Veral swart kiesers, meer as ooit, bevind hulle by ‘n politieke Rubicon. Ware bevryding gebeur wanneer mense besef dat die politiek oor keuses gaan. Kokkorot-politiek hoort nie tuis in ‘n progressiewe samelewing waar die belange van die mense deur politici gedien word nie.
No comments:
Post a Comment