Thursday, March 5, 2015

MERIT SHOULD DRIVE PUBLIC SERVICE



    ( My brief in vandag se BusinessDay)                                                                       
                                                                                               
The public service as an independent bureaucratic institution is severely threatened by the Zumafication of the African National Congress (ANC). Service delivery is seriously hampered by the erosion of expertise at all three levels of government and the politicising thereof with cadre deployment. Even the South African Revenue Service's ability to generate an income for the government has been weakened lately, as Zuma loyalists stop at nothing to protect his inner circle.  The separation between party and state is becoming blurred as the ANC fights for political survival.

In his book, Political Order and Political Decay,  US political scientist, Francis Fukuyama argues that a strong, effective, autonomous public service that is merit driven is a precondition for successful political development to assure a democracy that is regarded legitimate and is working for the benefit of citizens.

Even Germany, Prof Fukuyama demonstrates in his book, had a fairly independent bureaucratic governmental institution that withstood the Nazi experiment to lay the foundation for the strong Germany of today. Despite its autocratic rule today,  Prof Fukuyama writes than the Qin and subsequent dynasties in China relied heavily on autonomous, merit-driven bureaucracies. This explains to an extend why China is so powerful today.

The public service in Greece has been in trouble for many decades as the bureaucracy in this country suffered under party-political patronage and has been robbed of independence and merit.  This explains the unfortunate position Greece finds itself in today.

To avoid a Greek tragedy in SA , we need to reconsider the integrity of our public service. A public service must be autonomous, merit driven, corruption-free and effective to support a viable democracy.

Sunday, February 15, 2015

NUWE GESLAG SKRYWERS MOET STEEDS VRAE VRA

( My brief in die Beeld van Vrydag 13 Februarie 2015 )

By sy ​afsterwe word André P. Brink se oeuvre tereg in eervolle herinnering geroep deur letterkundiges en akademici.
Brink se werk, waarvan die strekking soos Beeld dit beskryf, ’n littérature engagée was – in Afrikaans beskryf as “betrokke letterkunde” – het ’n enorme bydrae gelewer tot die broodnodige protes teen ’n verdrukkende politieke stelsel wat moreel onverdedigbaar was.
Dat die Afrikaanse letterkunde sekerlik beskeie in vergeleke met dié van ander tale is, maak sy trotse tradisies en prestasies juis indrukwekkend.
Saam met Brink het baie ander skrywers hul konserwatiewe lesersgehore met dapperheid uitgedaag om gevestigde waardestelsels en wêreldbeskouings in her­oënskou te neem.
Die oorgang na ’n volwaardige demokrasie waarin alle Suid-Afrikaners se burgerskap en menseregte ten volle erken is, sou nie moontlik gewees het sonder hierdie merkwaardige skrywers nie.
’n Tergende vraag wat hom by my aanmeld, is of die huidige regime se hubris en onverantwoordelike regeringspraktyke eweneens deur ’n nuwe geslag skrywers uitgedaag word.
En ook: Is daar ’n leeskultuur by die tradisionele ANC-ondersteuner by wie skrywers ongemaklike vrae oor die stand van sake kan aktiveer?
’n Tradisie en kultuur van “lojale verset” (N.P. Van Wyk Louw) was nog nooit so noodsaaklik as juis nou nie.

Thursday, February 12, 2015

SOEK STERK NA SAMEBINDENDE FAKTORE

(My brief wat in die Beeld van 5 Februarie geplaas is.)

Dat daar opnuut 'n vesugting na nierassigheid en konstruktiewe nasiebou is, is min of meer die kernpunte wat genoem is tydens 'n huldigingsgeleentheid vir die F.W. de Klerk-toespraak van 2 Februare 1990. 
Die staatsmanskap van mense soos mnr. Kgalema Motlanthe laat 'n mens die vraag vra of daar nie meer sulke talent binne die ANC is nie.
Laat ons eerlik wees,  wat nasiebou betref is ons nie waar ons moet wees nie.  Ons soeke na samebindende simbole verdien dringende aandag.
 Wat ons egter moet besef, is dat samebindende simbole deur gedeelde waardes onderlê moet word. En dis waar die knoop lê.
Gedeelde waardes is nie iets op 'n stuk papier of lap wat by sportbyeenkomste uitgepluk word nie. Dit moet deel wees van ons kollektiewe psige en elke dag geleef word. 
Ek meen die kernwaardes waarop nasiebou moet steun, sluit in:

▪️Nie-rassigheid;
▪️Inklusiwiteit wat diversiteit erken;
▪️Uitnemendheid wat prestasie beloon om swak diens te neutraliseer;
▪️Korrupsievrye oftewel skoon regering;
▪️Staatsmanskap wat bo eng party politieke belange uitstyg; en
▪️Sosiale kohesie.


Die soeke na samebindende simbole is akuut belangrik. Sonder gedeelde waardes  sal ons nie vordering maak in ons strewe om nasiebou bestendig te maak nie.

Monday, February 9, 2015

ANDRÉ P BRINK (1935 - 2015)

Hiermee 'n essay ( 2009) by geleentheid van André P se afsterwe.


YOU ONLY LIVE TWICE – ‘N LITERÈRE-ETE SAAM MET ANDRÉ P BRINK

Die Insig-boeketafel word op ‘n warm Saterdagmiddag by die Centurion Lake Hotel gehou. Ons tafel is vlak voor die verhogie waar Ruda Landman die onderhoud met André P Brink sal voer. Dit val saam met die bekendstelling van Brink se memoir – Vurk in die pad. 
Die voorgereg is ‘n vars biltongslaai wat ek afsluk met ‘n koel Merlot van Laborie. Ons kuier gesellig saam met ons tafelgenote. Die tafel is gedek, letterlik en figuurlik, vir ‘n   letterkundige reis saam met die über Afrikaanse letterkundige.  
Ruda en Andre neem hulle plekke in op sulke groot leunstoele op die verhogie.  Ruda, intelligent en wyd belese, is die ideale persoon om ‘n onderhoud met André P Brink te voer.
Die gesprek is indringend en openhartig. Oor skrywerskap is André se mantra dit: You only live twice. ‘n Mens lewe, verduidelik hy, deur middel van ‘n reeks handelinge. Dan beleef jy dit ‘n tweede keer wanneer jy dit wat met jou gebeur het oordink, en in ‘n skrywer se geval, daaroor skryf. So plaas jy dit wat met jou gebeur binne perspektief. Jy heg waardes daaraan om sin daaraan te verleen.
Hy noem die driehoek van sy liefde vir kuns: skilderkuns, musiek en skryf. Dit is die mediums wat die mens inspan om sin te maak van hierdie ding wat ons lewe noem. Hy skryf altyd met musiek op die agtergrond, veral Mozart.
Die gesprek verskuif onvermydelik na sy verhouding met Ingrid Jonker. Hy praat oor hulle liefde en hoe stormagtig hulle verhouding was. Hy beskryf haar as beeldskoon en intelligent. Hy vertel ook van die onmoontlike eise wat sy aan hom en haar vriende gestel het. Sy het dikwels gedreig, en soms probeer, om selfmoord te pleeg. Hy onthou die dag toe hy die nuus oor haar dood ontvang het. Hulle verhouding was toe reeds ‘n paar maande iets van die verlede. Hy was so geskok dat hy vir die res van die dag blind was.
Die Sestigers, vertel hy, was nooit ‘n vaste beweging nie. Skrywers soos hyself, Chris Barnard en Breyten Breytenbach was net absoluut sat vir ‘n Afrikaanse letterkunde wat hoofsaaklik oor droogtes en sprinkaaplae gehandel het. Veral na swerfjare in Parys, destyds die mekka van avant garde kunstenaars van regoor die wêreld, het hy en ander diep onder die indruk gekom van die feit dat stories op verskillende maniere vertel kan word. Hier het hulle ook bewus geword van die eksistensialisme en dit, goddank, in ons lettere ingevoer.
Terug in Suid-Afrika en bewus van die onreg van apartheid het hy hom gou as die vernaamste eksponent van protesletterkunde gevestig. Sy boek, Kennis van die aand (1973), wat die verhaal van liefde oor die kleurgrens vertel, is die eerste Afrikaanse boek wat verban is.
Hy vertel van ‘n onlangse besoek aan ‘n Joodse museum in Pole. Hier word items van Joodse gevangenes uitgestal. Iets wat hom aangeraak het is ‘n gediggie wat ‘n kind met die hand op ‘n stuk papier geskryf het: “Hier in die konsentrasiekamp het ek nie vlinders gesien nie.”  Terwyl hy vertel raak hy so bewoë dat hy eers moet wag om sy stem terug te kry alvorens hy verder vertel. Juis daarin lê die krag van die geskrewe woord, gaan hy voort, dat daardie kind nie vlinders kon sien nie, maar dit met woorde kon herskep.
Hy vertel van sy ontgogeling met korrupsie en magsvergrype deur die ANC. Spyt is hy egter nie oor sy stryd vir vryheid en demokrasie nie. Hy sal nie die land verlaat nie omdat dit verraad sal wees teenoor sy voorgeslagte wat hulself so moeisaam hier aan die suidpunt van Afrika kom vestig het.
Na ‘n heerlike middagmaal en baie glase Merlot is dit tyd vir André om boeke te onderteken. Vir my onderteken hy ‘n Vurk in die pad (2009) en Die Ambassadeur (1963).
‘n Middag saam met een van die grotes. ‘n Viering van die literêre woord. Soos Audrey Blignault sou sê: ”‘n Blywende vreugde.”

Francois Bekker - 2009  

Monday, January 19, 2015

FW DE KLERK VERDIEN STRAATNAAM-EER

                                                    
(My brief in Vrydag se Beeld)

As daar 'n leier is wat dit  verdien om vereer te word deur 'n straat na hom te noem, is dit oudpres. FW de Klerk.

Etikette soos pragmatis, staatsman en bedrewe politkus hang gemaklik om sy nek.

My persoonlike belewenis as Afrikaner tydens sy presidentskap was dat hy die Afrikaner 'n ander gesig gegee het, 'n gesig van vredeliewende redelikheid wat ernstig is in ons soeke na 'n oplossing vir die doodloopstrast waarin ons onsself bevind het. Na die 2 Februarie 1990-toespraak kon ons as Afrikaners weer die wêreld vierkant in die oë kyk.

Sy vasberandenheid om te midde van gevreesde reaksies van die radikale linker-sowel as regterkant van die politieke spektrum en om alle  Suid-Afrikaners se menswaardigheid en volle burgerskap te erken en te herstel,  was en is merkwaardig.

Om homself uit 'n posisie van mag te onderhandel, kon sekerlik nie maklik gewees het nie. Sy toekomsvisie gebaseer op regverdigheid om sodoende 'n grondslag te lê vir 'n voorspoedige toekoms vir alle redelike Suid-Afrikaners het swaarder geweeg as eng party politieke belange. Hy is daarom paslik saam met oudpres. Nelson Mandela met die Nobelprys vir vrede  vereer.

Plek-en straatname moet histories inklusief wees om nasiebou te bevorder met die oog op 'n vredevolle en voorspoedige toekoms. FW de Klerk se nalatenskap staan in die teken van nasiebou, vrede en 'n soeke na voorspoed vir alle Suid-Afrikaners. 


Wednesday, October 15, 2014

TSHWANE STIL OOR LUGHAWE

    (My brief in vandag se Tshwane-Beeld)                                                      

TSHWANE STIL OOR WONDERBOOM

Die artikel oor die Wonderboomlughawe se probleme en hofsaak teen die Tshwane Metro in dié verband ( Tshwane Beeld, 8 Oktober) verdien verdere kommentaar.

As die DA se woordvoerder oor vervoer in Tshwane, kan ek beaam dat hierdie lughawe ly onder algehele wanadministarsie deur die Tshwane-metro. Stel jou 'n lughawe sonder brandstof voor en wanneer dit beskikbaar is (wat net soms die geval is), die duurste in die ganse Suid-Afrika - en 'n mens verstaan dat daar groot fout is.

Ekself probeer al die afgelope drie jaar konstruktiewe reaksie van die Metro kry in dié verband. So is amptelike vrae gestel wat onbeantwoord is. Mosies is ingedien wat sonder sinvolle oorweging summier van die tafel gevee is.
 Op die oomblik staan my vervoer-kollegas sowel  op provinsiale as nasionale vlak my by om die probleem te takel met die oog daarop om  oplossings te vind.

Die DA het volkome begrip vir die frustrasies wat vlieëniers en eienaars van lugvaartondernemings by die Wonderboom-lughawe ervaar.
Dat hierdie mense die metro moet hof toe sleep om sinvolle samewerking van die metro te kry, is betreurenswaardig en reflekteer uiters negatief op die Tshwane Metro.

Die Tshwane-metro het bewys dat hy nie oor die vermoë beskik om die lughawe suksesvol te bestuur nie. 'n Gans ander model is nodig om suksesvolle lugvaartbestuur te verseker met die oog daarop om die lughawe ekonomies lewensvatbaar te maak. Enige proses wat alternatiewe modelle ondersoek, moet deursigtig wees om geloofwaardigheid en vertroue te verseker. En sonder die samewerking en inspraak van die belanghebbendes by die lughawe sal enige proses met agterdog bejeën word. Miskien sal die hof só 'n regverdige proses aan die lughawe opdwing.

Saturday, September 27, 2014

TSHWANE-HALLUSINASIES KOM TSHWANE-INWONERS DUUR TE STAAN


      (My brief in Donderdag se Beeld)                                                    

Leë retoriek verkry 'n nuwe betekenis met die Tshwane-burgemeester se amateuragtige skadebeheerpogings oor die gekanselleerde TribeOne Dinokeng-musiekfees. Volgens hom is geen geld vermors nie. Die R40 miljoen is bloot belê.

Nie net is die vermorsing van miljoene rande (die inwoners se belastinggeld) verraad teenoor belastingbetalers en arm gemeenskappe wat dringend infrastruktuurontwikkeling wil sien nie, maar die burgemeester se sotlike opmerkings is boonop 'n belediging vir die inwoners se intelligensie.

Die DA het herhaaldelik gewaarsku oor die tekortkominge van die beplande fees, moontlike vrugtelose uitgawes en die akute behoefte aan dienslewering. Die ANC geleide Tshwane metroraad se hallusinasies oor lugkasteelprojekte kom die stad baie duur te staan terwyl diensleweringbeloftes in die niet verdwyn.



Wednesday, September 17, 2014

SKEW TAKE ON FREEDOM

(My letter in yesterday's Pretoria News)

The Tshwane  mayor's condoning of cadre deployment( Pretoria News, 6 September) is telling of the ruling party's skewed take of a democracy with a clear division between party and state.

The Mayor's arrogance is confirmed when he blatantly states that " Cadre deployment means the extending the influence of the values of the ANC and its allies at various spheres of state power." According to this statement the (ruling) party and state is one entity. What a sorry state of affairs indeed.

The mayor defends this by referring to the revolution that must not be jeopardised . What revolution Mr Mayor?  This misplaced idea of a revolution will take the country nowhere.

As long as cadre deployment,with the aim of advancing the ruling party's ideologies and enriching a selected few is in place, professional service delivery will remain a myth.

Friday, August 15, 2014

LETTERKUNDIGE GEBEURTENIS

 My indrukke van Harry Kalmer se "' n Duisend stories oor Johannesburg."

Dít moet uit die staanspoor oor Harry Kalmer se ''n Duisend stories oor Johannesburg' gesê word: enersyds is dit 'n 'page turner' - 'n boeiende en onweerstaanbare teks. Viriele Afrikaans, maklik leesbaar.
Andersyds het die boek ongelooflike letterkundige diepgang.
Stilisties kan die boek onder die ensemble genre bespreek word. Die aaneen gehegde brokkies stories kon, min of meer, in enige volgorde gerangskik gewees het.
Uiteenlopende verhale wat met interessante spel 'n aangrypende sintese vorm. Dis die verhaal van 'n stad en sy mense. Vraag is, is Zweig van Niekerk, die man wat dit gedurf het om oor die kleurgrens lief te hê toe sulke liefde strafbaar was, of is Johannesburg as stad die hoofkarakter? Moeilik om te sê. Watter rol ruimtelikheid oftewel milieu in 'n storie speel, kom hier op uitsonderlike wyse aan die bod. Die verlede en hede, verskillende mense ( en sjoe, daar is interessante karakters), asook verskillende plekke in Johannesburg, soms ander wêreldstede ook, wissel mekaar arbitrêr af.
Die sleutelsin van die boek, soos ek dit sien, is op p 37 :"Mag die stad waarheen jy terugkeer, mooier wees as die stad waarvan jy droom," het Kaleb is sy sagte, aksentlose Frans gesê.
'n Boek oor hoop, drome, verlies, swaarkry en geweld. Maar veral is dit 'n boek oor die veganklikheid van hierdie ding wat ons lewe noem.
''n Duisend stories oor Johannesburg' is 'n letterkundige gebeurtenis. Die beste wat ek in jare gelees het.

Tuesday, August 12, 2014

TIRZA - 'n persoonlike distopie

TIRZA - Arnon Grunberg ( Uit Nederlands vertaal deur Lina Spies)


Dat dit 'n belangrike Nederlandse boek is, is duidelik - dit is in 2010 in 'n rolprent verwerk om 'n groter gehoor te bereik. Dit is in Nederland met die De Gouden Uil-letterkundeprys en die Libris-letterkundeprys bekroon.
Danksy die bekroonde Suid-Afrikaanse digter, Lina Spies, is dit nou ook toeganklik vir 'n Afrikaaanse leserspubliek gemaak.

In breë trekke vertel dit die verhaal van Jörgen Hofmeester wat in 'n spogbuurt van Amsterdam woon met 'n uitsig oor Vondelpark.
Die leser maak met hom kennis terwyl hy sy geliefde dogter, Tirza, se vriende onthaal na haar eindeksamen. Met moeite sorg hy dat die kos reg is en dat alles in die algemeen vlot verloop.
Die leser verken saam met hom deur middel van herinneringe die ontsporing van sy lewe op professionele vlak, sy ongelukkige huwelik, en hoe Tirza deur dit alles die ligpunt van sy lewe was en is. Die onthaal vind plaas op die vooraand van Tirza se vertrek na Afrika met haar vriend wie Jörgen nog nie ontmoet het nie.Wanneer hy haar vriend tydens die onthaal ontmoet steier nog 'n skans tussen Jörgen en die samelewing, en word sy klassistiese en rassevooroordele skaamteloos blootgelê. Tirza se vertrek na Afrika het gevolge waarop nog Jörgen of die leser voorberei is. Die afloop van die verhaal staan in die teken van die makabere . Ook aktiveer dit die ontbloting van die Westerse siel wat bewys hoe 'n dun vernis lagie daardie ding is waarna ons as 'beskawing' verwys. Die verhaal van Tirza, oftewel die gesin Hofmeester, en spesifiek Jörgen, is niks anders as 'n persoonlike distopie nie.

Die boek beslaan 'n hele 506 bladsye. Ek moet eerlik wees, dit het nogal vasbyt gekos om die boek klaar te lees. Die geladenheid van die vertelling is langsaam, amper lomp. Ek is nie heeltemal daarvan oortuig dat  komposisie en stilering  altyd ewe suksesvol is nie. Uiteindelik is die afloop van die verhaal skokkend en die verhaal onvergeetliks - iets wat nog lank na die lees van die boek verreken sal word met allerlei eksistensiële vrae. Aanbeveel vir liefhebbers van ernstige letterkunde.

Saturday, August 9, 2014

(My speech during the snap debate in the Tshwane Council meeting on 31 July regarding the Middle East crisis)

(My toespraak oor die Israel-Palestynse krisis wat ek tydens die Tshwane raadsvergadering van 31 Julie gehou het.)


GIVE PEACE A CHANCE

Words fail us when we confront the events taking place in the Middle East and the way these events have unfolded over the past months, indeed over many years.

We watch in horror how people die in this violent conflict between Israel and Palestine.

Allow me to borrow words from one of South Africa’s most acclaimed play wrights, Athol Fugard:

“There are people staying there.”

On both sides you will find fathers and mothes;

Brothers and sisters;

Small children and newborns whose only experience of the world and life is one of conflict and bloodshed.

It breaks my heart when young children’s lives are ended in a conflict they don’t even understand.

It is for them, the innocent casualties of war, that I  have this message:

"No person deserves to be caught in the line of fire,

every person deserves a world where he or she can pursue their dreams without the fear of bullets, rockets and missiles."

 They deserve all the peace the world can offer them.

To be clear – the Israeli-Palestine conflict situation is a tragedy. As Shakespeare said so vividly, “Blood will have blood”.

Taking sides is a fruitless exercise. Let us refrain from using this tragedy for cheap political point scoring in local politics. Also to be avoided is a dogmatic approach on the issue.

These are my specific thoughts on this very complex issue:

• The DA is on record of favouring a negotiated two state- solution for Israel-Palestine;
• Without mutual recognition of sovereignty, no Middle East peace can become reality;
• The levels of violence – on both sides - must be drastically reduced to end the violence all together.
• Negotiations, based on unselfish statesmanship must guide the search for solutions for this conflict.
• Extremism on both sides will only fuel the conflict further.


The one lesson I learnt in life is that if I don’t get the desired results I must reassess the way I do things.

I hope and pray the leaders on both sides of this tragic conflict will find it in their hearts to genuinely pursue innovative ways to end the violence. Both sides have to move from entrenched positions to re-imagine their futures. I trust that they will give peace a chance in pursuing their destinies without doing so at the cost of one another.

Tuesday, July 1, 2014

'N TYDIGE RAAISKOOT OOR DIE TOEKOMS

(My opinie oor Frans Cronje se boek - A TIME TRAVELLER'S GUIDE TO OUR NEXT TEN YEARS)

Suid-Afrika is 'n baie ongewone samelewing -  baie vry en baie ongelyk. Dít is die leitmotif van Dr Frans Cronje se boek ' A time traveller's guide to our next ten years'.
Met die kartering van vier scenario's vir die volgende tien jaar, vra Cronje twee pertinenente vrae: is Suid-Afrikaners tevrede oor hoe die land regeer word en indien nie, beskik hulle oor die vermoë om 'n regeringsverandering te weeg te bring.
Die sentrale probleem is ons sukkelende ekonomie. Die regering se vermoë om die armste van die armes te voed met toelaes sal binnekort onmoontlik wees tensy daar 'n drastiese ekonomiese ommeswaai kom. Vraag is, gaan die regering die regte ding doen om ekonomiese groei te stimuleer? Sal hierdie radikale ekonomiese hervorming politieke vryheid negatief beinvloed? Of erger nog, sal die regering tot die katestrofiese ergste gaan om ondanks wat ookal aan bewind te bly?
Cronje se beskrywing van die huidige stand van sake is boeiend sonder om met tegnikaliteite en akademiese jargon te verveel. Trouens, die boek prikkel by die gewone leser 'n belangstelling in die wisselwerking tussen die ekonomie en politiek.
Enige toekomstige voorspelling is uiteraard 'n raaiskoot. Cronje se raaiskoot word ondersteun met inligting en data wat genoeg is om 'n mens slapelose nagte te besorg. Die boek doen vier scenario's aan die hand oor waar ons binne die volgende tien jaar kan wees. Dit is 'n geval van radikale verandering om weer die hoop vir 'n beter toekoms terug te gryp of 'n bloeddorstige revolusie. Baie nuttig is die padtekens en afmerklyste vir die moontlike scenario's wat die leser kan gebruik om te bepaal waarheen die land oppad is.
Hierdie boeiende en maklik leesbare boek behoort vepligte leesstof vir almal te wees wat wonder oor die land se toekoms.

Wednesday, June 11, 2014

VERWYT BEWYS LEIERSKAP IS GEBREKKIG

(My brief in gister se Beeld)

VERWYT BEWYS LEIERSKAP IS GEBREKKIG

Die ANC is met reg bekommerd oor kwynende steun in die swart middelklas (Beeld, 9 Junie) wat hoofsaaklik in metropolitaanse gebiede gevestig is. As 'n mens na stemtendense in Gauteng kyk, kan die ANC reeds in 2016 beheer oor Pretoria en Johannesburg verloor.

Dit blyk egter of gesonde selfondersoek by die ANC nie sal plaasvind nie. Die sentiment is eerder dat die swart middelklas juis hulle 'welvarende' situasie aan die die ANC te danke het. Die ANC voer aan dat hierdie middelklas ontstaan het as gevolg van die party se progressiewe beleid.

Die opkoms van die swart middelklas word dikwels uit verband geruk. Slegs sowat 5% tot 7% van swart mense maak deel uit van hierdie klas teenoor 70% wit mense.

Die vraag is in watter mate  die ANC  se  'progressiewe' beleid hiertoe bygedra het. Wat duidelik is, is dat die ANC misluk het om 'n betekenisvolle swart middelklas tot stand te bring.

Die handjievol swart mense wat deel vorm van die middelklas,  beskik waarskynlik oor genoeg kennis en insig om die ANC juis te sien as die struikelblok van daadwerklike ekonomiese groei. Hierdie mense verwag, soos alle ander Suid-Afrikaners, goeie en betroubare dienslewering waarvoor met belastinggeld betaal word.

Die ANC se selfondersoek moet eerder oor kwessies soos ekonomiese groei en dienslewering gaan. Die feit dat die swart middelklas verwyt word vir dalende steun wys duidelik dat politieke leierskap binne die ANC  feitlik nie bestaan nie.

Sunday, June 1, 2014

CRONJÉ SE KRISTALBAL REALISTIES EN NUTTIG


 ( My brief in vandag se Rapport)


Christi van der Westhuizen se venynige resensie van Frans Cronjé se boek, A ­Time Traveller’s Guide to Our Next Ten ­Years (Rapport, 25 Mei 2014), getuig van ideologiese moedswilligheid en onakkuraatheid.

By die lees van haar resensie het ek gewonder of ek en sy dieselfde boek gelees het.

Van al die boeke wat ek die afgelope twee jaar oor kontemporêre politiek gelees het, het ek Cronjé s’n die nuttigste gevind.

Dit lees maklik en sy metode van scenario-ontwikkeling word duidelik uiteengesit.

Een van die grootste kwessies, soos Cronjé se boek uitwys, is ongelykheid in Suid-Afrika. Dit is natuurlik ’n teelaarde vir ’n revolusie – wat tot niemand se voordeel sal wees nie.

Nêrens het Cronjé aangevoer swart mense mag nie verwagtings of selfs toenemende verwagtings koester nie.

Met die gevaar van disinvestering sal die regering se vermoë om aan die verwagtings van mense, veral armes, te voldoen, al hoe moeiliker of selfs onmoontlik wees.

Visieloosheid, die gebrekkige wil om goed te regeer en korrupsie te beveg, dra nie daartoe by om beleggersvertroue in te boesem nie.

Wie nie die gevaar hiervan insien nie, is roekeloos naïef.

Vir mense soos Van der Westhuizen is jy óf ’n Afro-optimis óf ’n Afro-pessimis. Ek meen Cronjé is ’n Afro-realis.

Van der Westhuizen se voortdurende pogings om witheid op ’n siniese wyse te problematiseer, plaas ’n vraagteken agter haar posisie as onafhanklike politieke kommentator.



Thursday, May 15, 2014

POLITIEKE MOBILITEIT IS BEMOEDIGEND

 (My brief in vandag se Beeld) 

Die pas afgelope verkiesing het bewys Suid-Afrika stap nie dieselfde pad as Zimbabwe nie.

Ek is van mening dat twee trajekte hierdie stelling bewys, naamlik die ANC se afwaartse trajek en die DA se opwaartse trajek.

Hierdie neigings is nie nuut nie en dis konstant.

Wat ook bemoedigend is, is die element van politieke mobiliteit wat ons politiek kenmerk.

Twee faktore speel hier ’n rol.

Enersyds die DA se vermoë om kiesers oor kultuurgrense rondom gedeelde waardes te groepeer en andersyds die feit dat die ANC ’n huis teen homself verdeel is.

Groeiende linkse politiek gaan verdere mobiliteit meebring.

Die ANC se handelsmerk rafel stadig maar seker uit en sal binne die volgende dekade nie naastenby die trekpleister wees wat dit tot nou toe was nie.

Die DA se vasberadenheid en harde werk het reeds en sal toenemend vrugte afwerp.

Feit van die saak is, ons is besig om in die rigting van ’n twee- of drieparty-staat te beweeg en die DA sal ’n beslissende mag op hierdie politieke verhoog wees.

 

Wednesday, April 30, 2014

DRIE STEM-OPSIES VIR AFRIKAANSE KIESERS


( My brief in die Beeld van 29 April 2014)

Die ballonne en beloftes voor die verkiesing kan verwarring by kiesers veroorsaak. Verglansde manifeste van sommige politieke partye belowe ’n utopie ná 7 Mei.

Vraag is, vir wie moet ek as Afrikaanssprekende stem?

Daar is basies drie opsies:

■ Marthinus van Schalkwyk het op ’n onlangse vergadering met Afrikaanse belangegroepe by die Voortrekkermonument gesê ’n mens moet vir die ANC stem omdat hierdie party nog lank sal regeer. Sonder ’n morele kompas en met min begrip van wat ’n grondwetlike demokrasie beteken, is hierdie party ’n bedreiging vir demokrasie.

■ Die VF+ en ander nispartye. Hiervolgens neem jy op ’n permanente basis ’n minderheidsposisie in. ’n Verlooropsie, dus, wat jou kwesbaar maak vir die magslus van ’n meerderheidsparty wat onder g’n verpligting is om minderheidsregte te beskerm nie. Partye wat seksionele belange, soos spesifieke godsdiensregte, wil bevorder, is soos ’n mediese spesialis wat ’n magdom pasiënte met ’n legio siektes van ondersoek uitsluit. Daar is slegs een maatstaf vir suksesvolle politieke partye en dit is die vermoë om verkiesings te kan wen. Nispartye is dalk interessant, maar onbelangrik as die groter prentjie in ag geneem word.

■ Die derde opsie is die vorming van ’n nuwe meerderheid verenig om demokratiese beginsels wat die regerende party suksesvol by die stembus kan uitdaag. Omdat die DA se verbintenis tot goeie, deursigtige en verantwoordbare regering wat dienslewering verseker tot kiesers oor kultuurgrense spreek, is die DA die enigste alternatief vir die ANC. Die DA is twee goed wat mens nie uit die oog moet verloor nie: ’n Sterk opposisieparty wat sy waghondrol deeglik vertolk en een wat reeds in ’n provinsie regeer.

Wednesday, April 23, 2014

DIE ANC VERDIEN NIE MY STEM NIE



(My brief in vandag se Beeld)

Waarom stem ek nie ANC nie? Wanneer die ANC met Afrikaners vergader (Beeld, 22 April), is dit ’n vraag wat verdien om beantwoord te word. Hier is enkele redes:

▪My stem het niks te doen met my Afrikanerskap nie – vir die ANC om dus op grond daarvan ’n emosionele snaar by my te tokkel, is ’n mistasting;

▪Ek is ten gunste van ’n grondwetlike demokrasie en ’n regstaat waarin almal gelyk is voor die reg en die onafhanklikheid van die regbank erken en uitgebou word. Die Zumafikasie van die ANC het hierdie organisasie in ’n rampokker-beweging verander wat eerder korrupsie en Nkandla-skandale goedpraat en beskerm;

▪Vryheid van spraak en ’n vrye media is die suurstof van enige lewensvatbare demokrasie. Die ANC se beheptheid met geheimhouding ten koste van deursigtigheid is ’n antitese vir die bedoeling van ’n werklike demokrasie;

▪Ek verlang goeie, deursigtige en verantwoordbare regering. Die ANC beloon droogmakers deur hulle weer in verkiesbare posisies te plaas;

▪Ek is ten gunste van ’n nie-rassige SA waar die individu die fokuspunt is. Die ANC is skaamteloos rasbehep en is inderwaarheid ’n swart nasionalistiese beweging wat op grond daarvan ’n magshegemonie wil behou;

▪Die ANC het klaaglik misluk om ons land ’n voorkeur-beleggingsbestemming te maak om ekonomiese groei te stimuleer. Sonder ekonomiese groei sal sosio-maatskaplike probleme vererger; en

▪Ter afsluiting, geen regerende party moet sekerheid hê oor ’n oorwinning by die stembus nie. Slegs dan sal arrogansie en swak regering plek maak vir goeie regering. Met die vorming van ’n nuwe meerderheid gegrond op gedeelde waardes kan ’n veelpartydemokrasie verwesenlik word.

Friday, April 4, 2014

WAAR WIL ONS OOR 20 JAAR WEES?


(My brief in die Beeld van 1 April 2014)

Die ANC se vryheidstryd het in sy primêre doel geslaag toe Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing 20 jaar gelede gehou is. Met die herdenking behoort ons oor die volgende 20 jaar te besin.

Suid-Afrika is vandag ’n beter plek as 20 jaar gelede. Die grootste prestasie van 27 April 1994 is die feit dat almal op daardie dag volwaardige burgers van hul vaderland geword het. Hulle wat eens tweedehandse burgers was, kon voortaan aanspraak maak op volle burgerskap. En ander wat, willekeurig of onwillekeurig, deel van die bevoordeelde klas was, kon daarna die wêreld vierkantig in die oë kyk. So beskou, is ons almal op 27 April 1994 bevry.

Kritiese vrae is egter of ons demokrasie kon konsolideer, of rassisme geheel en al uitgeroei is en of die regerende party oor ’n visie vir die land tesame met beginselvaste leierskap beskik.

’n Rasgebaseerde, eenparty- politieke bestel waar die regerende party verantwoordbaarheid en deursigtigheid ondermyn, is ’n resep vir mislukking. Die Zumafikasie van die ANC het die party op ’n glybaan na algehele morele inploffing gelei. Die grootste mislukking van die ANC egter is sy onwilligheid of onvermoë om van ’n bevrydingsbeweging in ’n volwaardige politieke party te transformeer wat ’n grondwetlike demokrasie verstaan en versterk.

Waar wil ons oor 20 jaar wees? Die toets waarvoor ons as nasie staan, is of die kieserskorps die vermoë het om die regering by die stembus verantwoordbaar te hou.

Tuesday, March 11, 2014



LAASTE DANS, DRIENIE deur Steve Hofmeyr

( My indrukke van die boek)

Allereers 'n vriendelike klap na Steve Hofmeyr. Miskien moet Hofmeyr onder 'n skuilnaam publiseer. My bekommernis is die popster persona met soveel bagasie. Resensente en redakteurs wat al onder sy humeur deurgeloop het. Moedswillige polemikus.  Asook sy musiek wat nie deur almal waardeer word nie. Feit van die saak is, 'Laaste dans, Drienie' belig 'n ander talent van Hofmeyr wat verras.

Te midde van die arrestasie van Oscar Pistorius in 2013 wonder Brooklyn- polisiestasie se beeldpoetser, luitenant Muller Joubert, of daar 'n meer 'n bisarre moordsaak kan wees. Na 'n anonieme oproep na die polisiestasie hoef Joubert nie langer te wonder nie. Die verdagte is 'n 91 jarige dame van 'n aftree-oord  in die stad. Oënskynlik 'n onwaarskynlike saak, nie hoë profiel nie en les bes  in 'n doodloopstraat. Joubert besef metterwyl egter, die toekoms is seker, dis die verlede wat onvoorspelbaar is.

Of dit gedurende die tweede wêreldoorlog of 'n kontemporêre Suid-Afrika is,  een ding bly dieselfde: die soeke na liefde is universeel en tydloos. Begeerte, onbeantwoorde liefde en tragiese ironie word nie begrens deur jaartal of landsgrense nie. 

Hofmeyr se verhaal is een van epiese omvang wat afspeel op twee kontinente en wat meer as 'n half eeu van storm en drang, verlange en verraad beslaan. Dit kaarteer op boeiende wyse die kontoere van die hart en 'n land vasgevang tussen 'n wêreldoorlog en verset teen deelname aan die oorlog.

Gelaai met intrige en eg menslik noop hierdie historiese roman  die leser om die Afrikaner se geskiedenis van die veertiger jare weer na te lees. Hofmeyr se historiese kennis en navorsing is fenomenaal.  Voeg hierby die boeiende manier waarop hy sy storie vertel en stileer.
Op enkele plekke het ek lui redaksionele versorging opgemerk en 'n feit of wat, wat nie korrek is nie - byvoorbeeld dat die polisiehoofkantoor nie in Johannesburg is nie, maar wel in Pretoria. Dis egter gering teen die agtergrond van 'n epiese verhaal wat die leser oorrompel met sy boeiende storie. Ek dink die verwydering tussen 'n ma en haar seun moes meer aandag verdien het en die tonele in 'n Russiese strafkamp kry te veel verteltyd.

Wannneer mens die boek klaar gelees het voel die leser uitasem, diep ontroerd en  nuuskierig oor die menslike verhale teen die agtergrond van hierdie periode in ons geskiedenis.
 
Dis die tipe boek waaroor ek wil uitroep, maak hiervan 'n rolprent. 'n Onvergeetlike leeservaring.

Terloops,  Steve mag seker onder sy eie naam publiseer- hy kan immers trots wees op hierdie werk.

LAASTE DANS, DRIENIE verskyn by Zebra Press.

Tuesday, March 4, 2014

ANC HET GEWONE KIESERS VERSAAK: NUWE PARTY IS VIR HULLE GOEIE NUUS



( My brief in vandag se Beeld)

Dat daar ’n nuwe werkersparty op die politieke horison is (Beeld, 3 Maart), is in meer as een opsig betekenisvol.

Die volgende gedagtes in hierdie verband:

Die ANC het misluk om die meerderheid voorheen benadeelde kiesers se omstandighede daadwerklik te verbeter – afgesien van ’n handjievol biljoenêrs het die mense op voetsoolvlak agterblewe gebly;

Die ekonomie se behoefte na struktuurverandering om toeganklikheid te verseker tesame met vaardigheidsontwikkeling is ons grootste enkele uitdaging vir die toekoms;
Die te stigte werkersparty, United Front and Movement for Socialism, sal inderdaad die aspirasies van baie mense artikuleer;

Met die 2019-verkiesing kan die ANC se magshegenomie tot ’n einde kom wat beteken dat die politieke toneel heel anders sal lyk; en

’n Daadwerklike veelparty- politieke stelsel waar geen party seker is van ’n oorwinning by die stembus nie, is goeie nuus vir die demokrasie.

Slegs nie-rassige partye wat die belange van alle Suid-Afrikaners op die hart dra met haalbare beleidsvoorstelle sal in die toekoms oorleef.

Sommige partye sal sterker word, ander sal verdwyn. Vir my blyk die wenner in hierdie stryd die gewone kieser te wees.