Saturday, April 23, 2011

VIER WêRELDBOEKEDAG SO


Hulle staan op my boekrak ingeryg. Karel Schoeman, Andre P Brink, Ettiene van Heerden, Deon Meyer, Marita van der Vyver, Hennie Aucamp, Ingrid Winterbach en baie ander. Wonderlike fiksie wat bewys waartoe Afrikaans in staat is. Boeke wat ek as my jare lange vriende ag en wat my op my lewensreis vergesel. Ek stem saam met wyle prof Elize Botha dat die vernaamste waarheid wat die lettere duidelik by jou tuisbring die ironie is. Staan die lewe tog nie in die teken van die ironie nie?
Politieke dier wat ek is, is daar ook ‘n skatkis politieke boeke op die rak, veral memoirs en outobiografieë. Dit vertel van voorlopers wat leiding geneem het om vir ons ‘n toekoms hier aan die suidpunt van Afrika te beding. FW de Klerk, Frederik van Zyl Slabbert, Tony Leon en ander.
Met wêreldboekedag op 23 April in gedagte, herinner ek my die dag toe ek as laerskoolseun die vreugde van wat Adrey Blignault die ‘Die eindelose avontuur’ noem, ontdek het. Tydens ‘n skoolvakansie was ek nogal verveeld by die huis. ‘n Staptog deur ‘n veldjie naby ons huis het ‘n wonderlike ontdekking opgelewer. Topsy Smith se Trompie – die Waaghals het die ure vir my skielik laat omvlieg. Woord vreugde wat die verbeelding vlerke gee.
Ek voel nou nog ontstig oor wat die essayis en rubriekskrywer, Cecile Cilliers, jare gelede iewers geskryf het: ”Ons is ‘n volk van poësie skrywers, maar kan ons onsself ‘n volk van poësie lesers noem?”
Haar versugting oor die poësie kan net sowel prosa, koerante en tydskrifte insluit. Gimnasiums is gewilder as biblioteke – dit gaan mos oor die uiterlike. Televisie voer kykers met ‘n teelepel - nuanse en ironie verg te veel van die kyker - alles moet maklik en vinnig gesnap word.
Wêreldboekedag mag nie net nog ‘n dag op die kalender wees nie. Sonder boeke, woorde of idees staar ons ‘n geestelike bankrotskap in die gesig. Boekeliefhebbers moet juis op hierdie dag besin oor hoe daar uitgereik kan word na hulle wat nie die vreugde van lees ken nie. Woorde, idees, boeke. Ek kan my ‘n lewe daarsonder nie voorstel nie.

Friday, April 22, 2011

UNKNOWN




SPELERS: Liam Neeson; Diane Kruger
REGIE : Jaume Collet-Serra
PUNTE : 7 UIT 10


As die Amerikaanse bioloog, doktor Martin Harris, in Berlyn aankom vir ‘n internasionale kongres loop ding lelik skeef wanneer hy in ‘n motor ongeluk betrokke is. As hy vier dae later uit ‘n koma wakker word, begroet ‘n nare onwerklikheid hom as hy skielik nie meer Martin Harris is nie en vind dat iemand anders sy plek by die kongres ingeneem het, selfs met sy vrou aan die vreemdeling se sy. Wat op dees aarde het gebeur dat selfs sy vrou hom verwerp as die regte Dr Harris? Sy naarstiglike soektog na antwoorde word ‘n geweldadige bloedspoor wat al hoe gevaarliker word as hy weier om tou op te gooi.
‘n Grys en koue Berlyn bied die ideale palet waarteen die verhaal van ‘n raaiselagtige identiteits verlies en frenetiese geveg om oorlewing afspeel. Fotografies is die rolprent meesterlik versorg om die dramatiese en naelbyt aksietonele treffend tot hul reg te laat kom. Die spanningslyn hou jou enduit op die punt van jou stoel.
Dit is ‘n rolprent wat jou aan die raai hou tot reg aan die einde. Beslis die moeite-werd om te sien.

Saturday, April 9, 2011

WAAK MET TWEE STEMME OOR DEMOKRASIE


(My brief in vandag se Beeld)

Omdat plaaslike owerheid die regering naaste aan die mense is, bied dit kiesers ’n unieke en belangrike inspraak in sake wat hulle direk raak. My antwoord aan Cobus Claassen se vraag “Gaan my stem help?” (Beeld, 8 April), is dus ’n klinkklare “ja”.

Met die dubbeldoor-kiesstelsel het kiesers hul broodjie aan albei kante gebotter. Hulle stem vir die party van hul keuse (proporsioneel) en hulle het ’n tweede stem direk vir hul wyksraadslid. So beskou, kan die kieser ’n naam en gesig koppel aan die mens wat direk sal omsien na die kwessies en aspirasies van die gemeenskap wat hy of sy verteenwoordig.

Om enigsins daaraan te dink om hierdie stelsel te verwater of selfs te skrap sal ’n mistasting wees wat ons brose demokrasie nadelig sal beïnvloed. Waaroor egter besin moet word, is vir wie ’n mens stem.

Veral op voetsoolvlak in Suid-Afrika gaan dit oor basiese dienslewering. Brood-en-botter-politiek met ander woorde. Dink maar aan straatligte, soneringsregte, vullisverwydering en veiligheid en sekuriteit.

Vraag is, watter party is ernstig oor dienslewering? Die Demokratiese Alliansie het ’n bewese diensleweringsgeskiedenis waar hy regeer. Selfs DA-wyke in ANC-beheerde stede kan getuig van raadslede wat omsien na die belange van die gemeenskap.

Een van die redes waarom die DA ’n waarde-gelaaide verteenwoordiging kan verseker, is die prestasiemetingsmeganisme wat hy het om te verseker sy raadslede is nie daar vir ’n salaristjek nie.

Apatie is nie ’n opsie nie. Gemeenskappe moet openbare verteenwoordigers verantwoordbaar hou. Demokrasie is iets om jaloers oor te waak.