Tuesday, May 1, 2012

AKTIVISME TEEN SWAK REGERING NODIG

(My brief in vandag se Beeld)

Die e-tol-debakel is ’n nuttige prisma waardeur na die huidige Suid-Afrikaanse politiek gekyk kan word.

Anderkant die jubelsange oor die hof se welkome uitspraak dat die stelsel hersien moet word, behoort alle Suid-Afrikaners te besin oor die stand van sake.

Die sterk openbare reaksie is die gevolg van ’n swak regering wat al hoe meer slegs uit eiebelang optree.

Omdat die regering sy plig versaak om haalbare openbare vervoer daar te stel, kan die e-tolstelsel moeilik geregverdig word, al is die beginsel dat die gebruiker moet betaal nie sonder meriete nie.

Feit van die saak is, sonder alternatiewe het die gebruiker geen keuses nie, daarom die woede oor die duur stelsel wat die hele ekonomie nadelig kan beïnvloed.

Eiebelang en selfverryking blyk eerder die motivering vir die inwerkingstelling van die stelsel te wees omdat dit weer die geleentheid aan die regering gebied het om ’n klein groepie vriende te verryk. Dit maak die stelsel nog ongewilder.

Noudat die hof die proses tot halt geroep het, is dit duidelik dat die regering nie onaantasbaar is en alles kan stoomroller nie.

Daar is nog meganismes soos ’n vry media en ’n regstelsel wat die regering tot verantwoording kan roep.

Natuurlik sou dit dwaas wees om te dink dat die regerende party hierdie meganisme geduldig sal verdra. Wat die gevierde sukses in die hof bewys, is dat aktivisme teen swak regering onontbeerlik is.

Die ontgogeling met die regerende party strek oor kultuurgrense heen en die een of ander tyd sal ’n nuwe meerderheid sê genoeg is genoeg.



Top of Form

Bottom of Form