Monday, July 8, 2013

DIE LAASTE TANGO


(My bespreking van Deon Meyer se rolprent)

Aangenaam verras. Dis hoe ek voel oor die skrywer/ regisseur Deon Meyer se Afrikaanse aksie-fliek, Die Laaste Tango. Dit vertel die verhaal van 'n psigies uitgebrande speuder wat op 'n Karoo dorp moet gaan afkoel nadat hy die kluts kwytraak op die spoor van 'n reeksmoordenaar. Op Loxton moet hy net rondvra oor 'n polisieman wat gedros het en verder probeer om te ontspan. Maar ontspan is nie juis sy ding nie. Sy pad kruis met Ella, 'n kankerlyer wat nog eenmaal die Tango wil dans, en ander dorpenaars wat kan aanspraak maak op die onskuld van die lewe. Of kan hulle?
Ek is 'n getroue leser van Meyer se aksie romans. Maar ek het ernstige voorbehoude gehad oor hom as draaiboekskrywer en regisseur. Sy Jakhalsdans was byvoorbeeld 'n groot telleurstelling. Die Laaste Tango het my egter verras. Meyer druk sy stempel duidelik af op hierdie rolprent. Hier en daar is 'n karakter en akteur wat nie oortuig nie.  Die glibberige prokureur is darem net te oordrewe. Die spel van die vroue dokter is swak. 
Wat ook opgeval het is die aanwendig van verkeerde polisie rangtekens. Wou die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie die projek ondersteun nie of is daar kortpad gevat aan die kant van die regisseur en produksiespan? Sulke detail behoort so getrou en korrek moontlik uitgebeeld te word.
Nie foutloos nie maar ek het dit nogal boeiend en onderhoudend gevind - soos sy boeke. Ek beveel dit sterk aan as 'n knap Afrikaanse aksie rolprent en gee dit 'n stewige 6 uit 10. Gaan sien dit gerus.

Monday, July 1, 2013

WOLF, WOLF

My bespreking van Eben Venter se boek

WOLF, WOLF  deur Eben Venter (Tafelberg)

VERDIENSTELIK, MAAR NIE ONVERGEETLIK NIE

Ek moet uit die staanspoor sê dat ek nie 'n getroue aanhanger van Venter se oeuvre is nie. Sy skryfstyl het my nog altyd vreemd opgeval. Tog beskou ek hom as 'n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde. 'Ek stamel, ek sterwe' wat die kwessie van vigs onder die loep geneem het, het wye lof ingepalm. 'Begeerte'  was vir my 'n boeiende leesondervinding. Dit was prosa met  'n lyflikheid wat enduit geboei het.

Wolf, wolf , vertel die verhaal van 'n gay man wat sy sterwende vader versorg. Tematies word die gebroke verhouding tussen 'n seun en sy vader ondersoek.  Verskeie kwessies kom aan die bod. Oorheersend is die spanning tussen die patriagale lewensbeskouing ingegee deur die Calvinisme en 'n kontemporêre lewensuitkyk ingegee deur die hedonisme. Die vader se homofobiese uitkyk plaas druk op die sukkelende verhouding tussen Mattheüs en sy lover, Jack. Mattheüs se suster wat ons net as Sissie leer ken bly op die agtergrond waar sy 'n gerieflike afstand tussen haarself en die sterwensdae van haar vader handhaaf. Mattheüs se pornografiese verslawing kompliseer sy verhouding met Jack verder. Die kwessie van geld is van meet af teenwoordig.

Venter probeer kennelik met 'n vernuwende  skryfstyl sy storie vertel. Dit adem wel iets van die hedonistiese en het ek my verbeel  'n nihilistiese ingesteldheid van die hoofkarakter. Of dit egter prosa word wat enduit slaag is iets waaroor ek nie seker voel nie.   Die dialoog tussen vader en seun en veral die vader se monoloë wat hy op band opneem is nie altyd oortuigend nie. Die afloop van die verhaal kon korter en meer kreatief  gewees het. Dit is asof die verhalende elemente sukkel om momentum te verkry.

Problematies vir my is die verband tussen titel en tema. Die wolf motief is nie duidelik nie. Eers speel Jack wolf, wolf. Later speel Mattheüs en Jack saam wolf, wolf met die idee om te treiter en die geteikendes aan die raai te hou oor hulle identiteite.

Uiteindelik vertolk ek die tema as 'n introspektiewe insig wat by Mattheüs aanklop as hy sy eie vermoë of onvermoë tot die liefde moet herken vir wat dit is of nie is nie. Dit is 'n verdienstelike leeservaring wat iets vertel van mense verhoudings. Ek twyfel of dit Venter se beste werk is, daarvoor is beide die verhalende elemente asook die tematiese motiewe nie altyd oortuigend nie.