Tuesday, July 1, 2014

'N TYDIGE RAAISKOOT OOR DIE TOEKOMS

(My opinie oor Frans Cronje se boek - A TIME TRAVELLER'S GUIDE TO OUR NEXT TEN YEARS)

Suid-Afrika is 'n baie ongewone samelewing -  baie vry en baie ongelyk. Dít is die leitmotif van Dr Frans Cronje se boek ' A time traveller's guide to our next ten years'.
Met die kartering van vier scenario's vir die volgende tien jaar, vra Cronje twee pertinenente vrae: is Suid-Afrikaners tevrede oor hoe die land regeer word en indien nie, beskik hulle oor die vermoë om 'n regeringsverandering te weeg te bring.
Die sentrale probleem is ons sukkelende ekonomie. Die regering se vermoë om die armste van die armes te voed met toelaes sal binnekort onmoontlik wees tensy daar 'n drastiese ekonomiese ommeswaai kom. Vraag is, gaan die regering die regte ding doen om ekonomiese groei te stimuleer? Sal hierdie radikale ekonomiese hervorming politieke vryheid negatief beinvloed? Of erger nog, sal die regering tot die katestrofiese ergste gaan om ondanks wat ookal aan bewind te bly?
Cronje se beskrywing van die huidige stand van sake is boeiend sonder om met tegnikaliteite en akademiese jargon te verveel. Trouens, die boek prikkel by die gewone leser 'n belangstelling in die wisselwerking tussen die ekonomie en politiek.
Enige toekomstige voorspelling is uiteraard 'n raaiskoot. Cronje se raaiskoot word ondersteun met inligting en data wat genoeg is om 'n mens slapelose nagte te besorg. Die boek doen vier scenario's aan die hand oor waar ons binne die volgende tien jaar kan wees. Dit is 'n geval van radikale verandering om weer die hoop vir 'n beter toekoms terug te gryp of 'n bloeddorstige revolusie. Baie nuttig is die padtekens en afmerklyste vir die moontlike scenario's wat die leser kan gebruik om te bepaal waarheen die land oppad is.
Hierdie boeiende en maklik leesbare boek behoort vepligte leesstof vir almal te wees wat wonder oor die land se toekoms.