Friday, November 25, 2011

ANC SE GEBREKKIGE INSIG GEE OPPOSISIE 'N GULDE GELEENTHEID





(My brief in vanda se Beeld)

Die ANC het sy eerbare ideale finaal die rug toegekeer deur ten gunste van die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting te stem.

’n Vrees vir die waarheid het die regerende party genoop om sy hegemonie te gebruik ten koste van redelikheid, deursigtigheid en verantwoordbaarheid. Soveel stemme vanuit uit¬- eenlopende oorde het opgegaan teen hierdie wetsontwerp. Om bloot sy meerderheidstem in die parlement te gebruik, druis in teen die gees van ’n werklik lewensvatbare demokrasie.

Wat hou die toekoms in? Myns insiens het die ANC die geveg gewen terwyl hy die oorlog verloor.

Die ANC besit nie meer die morele hoë terrein nie. Gewone Suid-Afrikaners voel al hoe meer vervreemd van hierdie party, wat slegs in eiebelang regeer. Dis ’n sukkelende party wat gekortwiek word deur binnegevegte, korrupsie en die onvermoë om basiese dienste van gehalte te lewer. En nou het die ANC die duidelikste sein nog gegee dat hy nie verbind is tot ware demokrasie nie.

Opposisiepolitiek het nog nooit so ’n gulde geleentheid gehad om munt te slaan uit die ANC se gebrekkige insig in die waarde wat Suid-Afrikaners aan ’n lewensvatbare demokrasie heg nie.

My voorspelling is dat die finale oordeel by die stembus gevel sal word en dat die regerende party baie spyt gaan wees omdat hy die geskiedenis verkeerd vertolk het.

Monday, November 21, 2011

DIE ANC KORT 'N MORELE KOMPAS


(My brief in vandag se Beeld)

Die stortvloed berigte oor ANC politici wat hulle aan vergrype skuldig maak, laat die vraag by die siniese leser ontstaan of die regerende party enigsins ernstig is oor ‘n skoon, deursigtige en verantwoordbare regering.
Verskoon my sinisme, maar ek kan nie anders as om te vermoed dat politieke rampokkers soos mnr. Julius Malema eers hulle rieme styfloop as hulle ‘n bedreiging vir die politieke ambisies van iemand in die ANC word. Wat ‘n treurige toedrag van sake.
Kan iemand ‘n dringende e-pos aan Kersfeesvader stuur om ‘n morele kompas by Luthuli-huis af te lewer? Die ANC is lank al nie meer sinoniem met beginselvaste besluite wat in die beste belang van gewone Suid-Afrikaners geneem word nie.

Thursday, November 17, 2011

7 DAE


Skrywer: Deon Meyer
Uitgewer: Human & Rousseau



Sewe dae in die lewe van kaptein Bennie Griesel, verbonde aan die Valke, die polisie se spesiale ondersoekeenheid, bied ‘n insiggewende blik op meedoënlose speurwerk wat die labirint van georganiseerde misdaad in ‘n kontemporêre Suid-Afrika verken. Sy doelwit is om ‘n sluipskutter wat polisiemanne skiet vas te trek. Sy tweede doel is om die moord op Hanneke Sloet op te los. Die sluipskutter sal immers toeslaan totdat die Sloet-moord opgelos is. Tussendeur moet Griesel met sy eie verlede en demone worstel om kop bo water te hou.
Deon Meyer aanhangers weet wat om te verwag met elke nuwe boek uit sy spanning-en-misdaad pen. Lewensgetroue karakterisering, filmiese aksie-tonele en 'n boeiende speurtog teen die agtergrond van ‘n multikulturele Suid-Afrika.
Wat aan die bod kom in 7 DAE is die anatomie van ‘n polisieondersoek wat ‘n moord en ekstremistiese waansin moet blootlê ten einde vas te stel wie het gemoor en waarom. Dis ‘n oeroue verhaal wat die mensdom nooit verveel nie.
Meyer is ‘n meester stilis wat die alledaagse, spanningelemente en die ding van gewoon menswees onderlê deur ‘n vrees vir mislukking, jaloesie, hebsug en wraak op ‘n verhalende manier opstel om die leser by die intrige te betrek en enduit te boei.
Volgens Meyer se eie erkentenis aspireer hy nie om hogere letterkunde te skep nie. Soos die res van sy oeuvre is 7 Dae egter ontspanningslektuur uit die boonste rakke. Dis intelligent en hoogs vermaaklik.
Lees dit en geniet dit.