Sunday, December 29, 2013

ZUMA IS DIE KEERPUNT IN SA SE POLITIEK



(My brief in die Beeld van 28 Desember)

Pres. Jacob Zuma is besig om die Suid-Afrikaanse politiek ’n guns te bewys.
Uiteraard onbedoeld, maar tog.
Hy verpersoonlik alles wat ’n president nie moet wees nie: visieloos, arrogant en argaïes.
Sy plundertog wat hom ’n Nkandla toeëien, is ’n wekroep tot besinning oor die tipe land waarin ons wil bly.
Alles dui daarop dat ’n kragdadige werkersparty links van die regering aan volgende jaar se verkiesing sal deelneem.
Dit bring ’n belangrike wending in ons politiek mee. Die drieparty-alliansie se einde is in sig.
Ontleders is dit eens dat Zuma die gesig van die ANC sal wees in die aanloop tot die verkiesing bloot omdat dit te laat is om nou van hom ontslae te raak.
Dat sy leierskap kort ná die verkiesing uitgedaag sal word, is egter seker. Feit van die saak is, die ANC kan Zuma nie langer bekostig nie.
Binne die ANC sal kragte en magte ná die 2014-verkiesing losgelaat word wat hierdie party sal herdefinieer.
Die ANC as ’n “breëkerk-beweging” se einde sal dan aanbreek. Die linkses, nasionaliste en die behoudendes kan nie meer knus langs mekaar bly sit nie.
Etnisiteit sal ook ’n deurslaggewende faktor wees. Omdat die anti-apartheidshandelsmerk van die ANC uitgedien is, sal debatte oor waardes en hoe beleidsvoorstelle kiesers se behoeftes na dienslewering en goeie regering aanspreek toenemend deurslaggewend word.
So beskou, verteenwoordig Zuma die keerpunt in ons politiek.
Die misplaaste romantisering van die ANC as ’n bevrydingsorganisasie het in hom sy laaste stuiptrekking gehad.
Die kiesers het aanbeweeg en soek oplossings vir die talle kwessies waarmee hulle worstel. Die einde van ’n eenparty- gedomineerde politieke stelsel is in sig.

Friday, December 20, 2013

ALMAL MOET VERANTWOORDELIKHEID VIR HUL TOEKOMS AANVAAR



(My brief in die Beeld van 18 Desember)

Mondli Makhanya se opvatting van wit skuld aan Mandela (“Wittes skuld Mandela”, Beeld, 17 Desember) gaan mank aan nuanse.
Laat my dadelik byvoeg, as die artikel eksklusief vir Beeld geskryf is, sou ek dit aanvaar het as skokterapie wat in die regte lig beskou moet word. Feit is, dit is oorspronklik vir City Press geskryf wat ’n moedswilligheid te kenne gee en die skrywer se “ons/hulle”-bril verraai. Dis mos juis waarvan ons moet wegbeweeg, hierdie “ons-teenoor-hulle”-opstellery.
Dat alle Suid-Afrikaners groot dank verskuldig is aan Nelson Mandela is ondebatteerbaar.
Mandela se onselfsugtige diensbaarheid aan gewone mense, byvoorbeeld, is al hoe minder sigbaar in die huidige ANC.
Laat ons eerlik wees met mekaar. Dit is makliker vir wit mense as vir swart mense om apartheid te vergeet. Drie vrae in hierdie verband: hoe verreken ons die verlede, hoe hanteer ons ’n komplekse hede en hoe gaan ons ’n beter toekoms tegemoet?
. Die verlede kan en mag nie ontken word nie. Waarteen egter gewaak moet word, is om die rassistiese verlede so te koester om ’n rassistiese toekoms te regverdig;
. Nelson Mandela se visie van ’n nie-rassige samelewing en rassegelykheid vereis vandag konstruktiewe transformasie. Toegegee, dit gebeur nie vinnig en indringend genoeg nie. Weer eens moet egter daarteen gewaak word om ’n nuwe, verskanste rassisme onder die dekmantel van transformasie te pleeg. ’n Kwota-gebaseerde samelewing, hetsy in die arbeidsmag, op die sportveld of waar ook al, is teenproduktief vir die soort sosiale kohesie waarna ons streef;
. Die toekoms moet reënboog-geskakeerd wees. Nie wit nie en nie swart nie. Divers, dinamies en regverdig.
Artikels met opskrifte wat wit skuld uitbasuin, is passé.
Alle Suid-Afrikaners moet opnuut verantwoordelikheid vir hul toekoms aanvaar en hulle verbind tot ’n vreedsame en voorspoedige toekoms.

Saturday, December 7, 2013

TOEKOMS MAG NIE GESABOTEUR WORD


 ( My brief in vandag se Beeld)


Almal wat lief is vir hierdie land is vandag diep geraak deur die heengaan van oudpres. Nelson Mandela.
Sy onwrikbare geloof in ’n toekoms gegrond op geregtigheid vir almal was lank ’n baken van hoop vir baie Suid-Afrikaners. Dit het wêreldwyd geresoneer as ’n dapper vryheidstryd.
Simbolies het Mandela alles verpersoonlik wat ons as ’n nasie kan, wil en moet wees:

Ons kan mekaar vergewe en vorentoe kyk;
Die meeste Suid-Afrikaners wil in vrede saamleef ongeag verskille; en
Ons moet verantwoordelikheid vir ons toekoms neem.

Min politici styg bo die storm en drang van die onmiddellike uit.
Met sy talent vir staatsmanskap het Mandela hom gevestig as die Suid-Afrikaanse demokrasie se vaderfiguur. Hy sal so in die annale van die geskiedenis gehuldig word.
Herinneringe aan hierdie groot staatshoof alleen is nie genoeg nie.
Ons toekoms mag nie gesaboteer word deur politici wat oneerlik, korrup of swak regeer nie.
Daarom moet ons opnuut verantwoordelikheid vir ons toekoms neem.
Deur dit te doen sal ons die Mandela-droom van vrede, voorspoed en versoening lewend hou.

KEEP THE MANDELA DREAM ALIVE



                                                                                                  

NELSON MANDELA

(July 18 1918 to December 5 2013)

Some will say it is the end of an era. It need not to be so. Everyone who loves this country will be deeply saddened by the passing away of former president Nelson Mandela. His unshakeable belief in a future based on justice for all has been a beacon of hope for many South-Africans. His dedication,  leadership and humanity resonated internationally as an example of a fearless liberation hero. His presence in our collective thoughts manifested as a unifying force that guided our strife for reconciliation.

 From a symbolic point of view Nelson Mandela represented everything we as a nation can, want and should be:

▪We can forgive one another and move on.

▪Most South Africans want to live together in peace despite their differences.

▪We must take responsibility for our future.

Few politicians rise above the 'Sturm und Drang' of every day politics. With his talent for statesmanship, Mandela established himself as the father figure of South Africa'democracy. He will be recognised as such in the annals of history.

Memories of this great statesman alone are however not enough. We must not allow our future to be sabotaged by corruption or poor governance.

 We therefor need to take responsibility for our future. Of cardinal importance in this regard is an active civil society based on critical thinking and democratic values, the acknowledgement of common interests as well as the acceptance of otherness in our diverse society. By doing this we will keep the Mandela dream of peace, prosperity and reconciliation alive. In doing so, the Mandela era need not to come to an end. 

Monday, December 2, 2013

4 REDES WAAROM MEYER SO GOED IS


(My brief in Beeld van 25 November)

Die resensie van Deon Meyer se boek het my laat wonder wat die Afrikaans vir ’n page turner is. Nog ’n vraag, waarom is sy boeke so gewild en wat is die letterkundige waarde daarvan?
Ek het Meyer se Kobra pas gelees en dis ongetwyfeld ’n glip-lees-boek. (My vertaling vir page turner).
Veral vier elemente kenmerk Meyer se skryfwerk:
Die vermoë van Afrikaans om aksiebeelde onder woorde te bring word verbluffend goed geïllustreer;
Daar is ’n spanningslyn wat jou vasgenael hou van begin tot einde;
Die stories is geanker in ’n kontemporêre Suid-Afrika met sy sosio-politiese nuanses. Die leser herken die milieu en identifiseer daarmee; en
Karakterisering. Dis Meyer se sterkpunt. Om Hennie Aucamp by te haal, die karakters ruik na mens.
Die Meyer-oeuvre is ontvlugtings-leesvermaak in snelrat. Dit verruim die Afrikaanse letterkunde, spesifiek die aksie-genre wat lankal nie meer terugstaan vir ander genres nie. Dit is goeie prosa onderlê deur soepel en kreatiewe Afrikaans.
Letterkundige meriete en ’n boeiende storie hoef nie wedersyds uitsluitende begrippe te wees nie. Skrywers soos Meyer kry en hou mense aan die lees. ’n Aanwins vir die lettere dus.



RUBRIEK DEURSPEK MET VOOROORDELE



(My brief in die Beeld van 29 November)

Dít moet ek Christi van der Westhuizen oor haar rubriek in Beeld gelyk gee: Die DA is nie ’n ANC Lite nie!
Beslis nie, want die rasnasionalisme wat die ANC aanhang om ’n rasgebaseerde magshegenomie te behou is teenproduktief vir ’n lewensvatbare veelpartydemokrasie.
Andersins is van der Westhuizen se geniepsige rubriek oor die DA se beleidskonferensie deurspek met ideologiese vooroordele en halwe waarhede.
Nêrens in haar rubriek verwys Van der Westhuizen na die ANC se kwotastelsel nie. ’n Kwotastelsel is omgekeerde apartheid.
Die ANC se strafmaatreëls wat maatskappye wil verplig om aan kwotas te voldoen sal ekonomiese groei in so ’n mate belemmer dat absoluut niemand hierby baat sal vind nie. Daarom is die DA se benadering van aansporing konstruktief en slim.
Die oogmerk moet wees om nie net die markekonomie aan die gang te hou nie, maar om volgehoue groei te verseker met groeiende geleenthede vir alle Suid-Afrikaners.
Historiese ongelykhede moet reggestel word. Daarom ondersteun die DA transformasie en die nodige regstelling wat dit verg. Nepotisme en verdwaalde nasionalisme neutraliseer egter enige poging tot regstelling.

Monday, September 30, 2013

VRYHEID MET MENSWAARDIGHEID




(My brief in gister se Rapport)

In ’n land met baie negatiwiteit en sinisme is die verfrissende insigte van JP Landman welkom.

Hanlie Retief se onderhoudende gesprek met Landman (Rapport, 22 September) noop ’n mens om gevestigde opvattings te herwaardeer.

Optimisme is goed, maar dit kan en mag nie ons plig om krities te dink, vervang nie. Die gesprek of debat tussen politici of mense oor die algemeen moet eerlik omgaan met kwessies en uitdagings van die dag. Ek herinner my aan dr. Frederik van Zyl Slabbert wat by geleentheid gesê het jy kan politici nie vertrou nie.

Die implikasie vir ’n opbouende diskoers is dus dat kritiese denke ’n wesenlike element van konstruktiewe patriotisme moet bly.

’n Lewensvatbare veelpartystelsel waar die regerende party se mag in bedwang gehou word, is ononderhandelbaar – daar moet dus die moontlikheid wees om enige regerende party suksesvol by die stembus uit te daag.

’n Veelparty-demokrasie gaan oor keuses. Die mag moet by die kieser lê en nie by politici nie.

Regeringsmag word verder in bedwang gehou deur werklike onafhanklike en doeltreffende instellings soos die howe en burgerregte-organisasies, asook vrye media. Hierdie instellings is instrumenteel belangrik om ’n oop samelewing te verseker.

Geen regering moet ooit met trefsekerheid kan verklaar dat hy die volgende verkiesing sal wen nie. Sodanige regerings is dan ook meer geneig om beter te regeer.

Dis goed om te weet dat watter party ook al die ANC uit die kussings sal lig onmiddellik met ’n gedugte opposisie te doene sal kry.

Ons is inderdaad ’n diep verdeelde samelewing met wesenlike ongelykheid. Groepsdenke in watter vorm ook al blyk nie die oplossing te wees om dit te takel nie. Gewaarborgde individuele vryheid is die sleutel tot mense se menswaardigheid. Wat dus gevra word, is vryheid wat ons kan gebruik, wat geleenthede skep en menswaardigheid bevorder.

Wednesday, September 18, 2013

KOSPAKKIE-POLITIEK WYS NIKS VERANDER

( My brief in vandag se Beeld)


Blou T-hemde vs. kospakkies, titelaktes en huise. Wat is die verskil en wat sê dit van Suid-Afrika se twee hoofstroom- politieke partye?
Die nou reeds bekende blou T-hemde van die DA is doodgewoon branding, oftewel die uitbouing van ’n handelsmerk. Dit versinnebeeld die amptelike opposisie se idee van ’n oopgeleentheidsamelewing waar individuele vryheid gewaarborg en staatsmag in toom gehou word.
Hierdie handelsmerk-bevordering is ’n aanvaarde praktyk by politieke partye oor die wêreld heen, veral as dit met eie fondsinsameling en nie deur belastinggeld gefinansier word nie.
Die uitdeel van kospakkies en huise het egter niks met die uitbou van ’n handelsmerk te doen nie. Dit verontagsaam die skeiding tussen party en staat.
Die verskaffing van behuising, byvoorbeeld, is ’n regeringsfunksie wat met belastinggeld gedoen word. Om huise uit te deel kort voor kritiese tussenverkiesings is oneerlik en moreel korrup. Dit getuig ook van toenemende onsekerheid by die regerende party oor sy steun.
Dat die tradisionele ANC-ondersteuner onderwerp word aan kospakkie-politiek is ’n aanduiding dat die lewensomstandighede van hierdie kiesers nie veel verander het die afgelope 20 jaar nie. Die ANC buit hul sosio-maatskaplike omstandighede skaamteloos uit.
Hopelik sal hierdie kiesers besef dat ’n kruisie op die stembrief meer werd is as ’n kospakkie of enkele titelaktes elke vyf jaar. Goeie regering beteken deurlopende dienslewering.

Monday, September 9, 2013

LUGKASTELE NIE VAN NUT VIR INWONERS

(My brief in vandag se Beeld)



Die Tshwane-metro se 2055- visie is interessant, maar irrelevant. Dat dit met soveel trompetgeskal aangekondig is, spreek boekdele van beeldpoetsery wat moet vergoed vir swak diens.

Dié visie laat my onwillekeurig dink aan oudpres. Thabo Mbeki se Afrika-renaissannce. Sulke abstrakte konstruksies spreek nie tot mense op voetsoolvlak nie. Vra maar vir Mbeki; hy is verslaan by Polokwane ondanks lugkastele, of dalk weens die lugkastele.

Terwyl die Tshwane-metro sy pragtige visie bekend gemaak  het, was die Wonderboom-lughawe weer vandeesweek vir die hoeveelste keer die afgelope drie jaar sonder brandstof. 

Dit is maar een voorbeeld van die Tshwane-metro se mislukkings.

Brood-en-botter-sake spreek direk tot inwoners van 'n stad. Wat mense verlang, is tasbare bewyse van die politieke wil by die owerheid om deurgaans tot voordeel van inwoners te regeer.

Wednesday, August 7, 2013

OUSTED FORMER MAYOR OF TLOKWE SHOWED POOR GRASP OF DEMOCRACY


The article "Good and bad in the Tlokwe farce" (Pretoria News, 2 August) deserves comment. The Potchefstroom face-off between the ANC and the DA is the epitome of what is wrong with our democracy and that it is possible to ensure genuine multiparty democracy.

The ANC believes it is entitled to power despite the rule of law, the democratic will of the people and policies dictating the election of office bearers.
 Hence the pathetic but failed attempt by the ANC mayor of that city to cling to power. To add insult to injury, the ousted Mayor now threatens to change the place name of Potchefstroom to Tlokwe once power is retained again. 

The name change threat is unfortunate. Not only does this confirm the suspicion held by many that the name change drive has little to do with celebrating the contributions of all in the country, but that it is a revenge-based endeavor.

A mayor, as is the case with a premier or the state president of the country, must demonstrate statesmanship by not only promoting the interests of a specific political party, but of all the residents despite political affiliation. A logical point of departure in this regard will be to ensure quality service delivery to all. 
Everything the former mayor of the Tlokwe municipality, Maphetle Maphetle, said and did over the past few weeks underlined his inability to grasp this basic truth of a genuine and mature democracy.

The Tlokwe incident also has an important message to South Africa at large. There is power mobility within the ANC and in the party political arena in general. It is up to voters to realise that they don't have to be satisfied with second-best and that they have a choice regarding the type of government they want. The power is seated with the voters, not with the politicians.

Thursday, August 1, 2013

POTCH IS 'N TOETS VIR SA SE DEMOKRASIE


POTCH IS 'N TOETS VIR ONS DEMOKRASIE 
(My brief in vandag se Beeld)

Polities onvolwasse en onverantwoordelik. 
Dít is hoe die ANC se reaksie in Potchefstroom verstaan moet word. 

Dit is verder nie 'n bemoedigende aanduiding van hoe die ANC sal reageer wanneer hy 'n nasionale verkiesingsnederlaag ly nie, wat volgens ontleders nie te ver in die toekoms lê nie.

Vraag is, moet hierdie optrede in Potchefstroom sinisme onder ons as kiesers ontketen? 
Allermins, dit beklemtoon juis die feit dat ons moet volhard in ons opeising van ons demokratiese regte.

Daarby moet ons intussen jaloers waak oor alle meganismes wat die demokrasie kan handhaaf en magsmisbruik bekamp. 
Elke andersdenkende, met anderwoorde hulle wie nie vir die ANC stem nie, moet besef dat die momentum om 'n nuwe meerderheid te vorm nou behou moet word. 
Die ANC sal nie sonder slenters afstand van hul mag doen nie. Dit strek hulle natuurlik tot skande en ontbloot hul werklike verbintenis tot die demokrasie. Soos die gerekende politieke ontleder dr. Frederik Van Zyl Slabbert destyds gewaarsku het, die ware toets vir ons demokrasie sal wees wanneer die ANC by die stembus verslaan word. Ons durf nie daardie toets druip nie.

Monday, July 8, 2013

DIE LAASTE TANGO


(My bespreking van Deon Meyer se rolprent)

Aangenaam verras. Dis hoe ek voel oor die skrywer/ regisseur Deon Meyer se Afrikaanse aksie-fliek, Die Laaste Tango. Dit vertel die verhaal van 'n psigies uitgebrande speuder wat op 'n Karoo dorp moet gaan afkoel nadat hy die kluts kwytraak op die spoor van 'n reeksmoordenaar. Op Loxton moet hy net rondvra oor 'n polisieman wat gedros het en verder probeer om te ontspan. Maar ontspan is nie juis sy ding nie. Sy pad kruis met Ella, 'n kankerlyer wat nog eenmaal die Tango wil dans, en ander dorpenaars wat kan aanspraak maak op die onskuld van die lewe. Of kan hulle?
Ek is 'n getroue leser van Meyer se aksie romans. Maar ek het ernstige voorbehoude gehad oor hom as draaiboekskrywer en regisseur. Sy Jakhalsdans was byvoorbeeld 'n groot telleurstelling. Die Laaste Tango het my egter verras. Meyer druk sy stempel duidelik af op hierdie rolprent. Hier en daar is 'n karakter en akteur wat nie oortuig nie.  Die glibberige prokureur is darem net te oordrewe. Die spel van die vroue dokter is swak. 
Wat ook opgeval het is die aanwendig van verkeerde polisie rangtekens. Wou die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie die projek ondersteun nie of is daar kortpad gevat aan die kant van die regisseur en produksiespan? Sulke detail behoort so getrou en korrek moontlik uitgebeeld te word.
Nie foutloos nie maar ek het dit nogal boeiend en onderhoudend gevind - soos sy boeke. Ek beveel dit sterk aan as 'n knap Afrikaanse aksie rolprent en gee dit 'n stewige 6 uit 10. Gaan sien dit gerus.

Monday, July 1, 2013

WOLF, WOLF

My bespreking van Eben Venter se boek

WOLF, WOLF  deur Eben Venter (Tafelberg)

VERDIENSTELIK, MAAR NIE ONVERGEETLIK NIE

Ek moet uit die staanspoor sê dat ek nie 'n getroue aanhanger van Venter se oeuvre is nie. Sy skryfstyl het my nog altyd vreemd opgeval. Tog beskou ek hom as 'n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde. 'Ek stamel, ek sterwe' wat die kwessie van vigs onder die loep geneem het, het wye lof ingepalm. 'Begeerte'  was vir my 'n boeiende leesondervinding. Dit was prosa met  'n lyflikheid wat enduit geboei het.

Wolf, wolf , vertel die verhaal van 'n gay man wat sy sterwende vader versorg. Tematies word die gebroke verhouding tussen 'n seun en sy vader ondersoek.  Verskeie kwessies kom aan die bod. Oorheersend is die spanning tussen die patriagale lewensbeskouing ingegee deur die Calvinisme en 'n kontemporêre lewensuitkyk ingegee deur die hedonisme. Die vader se homofobiese uitkyk plaas druk op die sukkelende verhouding tussen Mattheüs en sy lover, Jack. Mattheüs se suster wat ons net as Sissie leer ken bly op die agtergrond waar sy 'n gerieflike afstand tussen haarself en die sterwensdae van haar vader handhaaf. Mattheüs se pornografiese verslawing kompliseer sy verhouding met Jack verder. Die kwessie van geld is van meet af teenwoordig.

Venter probeer kennelik met 'n vernuwende  skryfstyl sy storie vertel. Dit adem wel iets van die hedonistiese en het ek my verbeel  'n nihilistiese ingesteldheid van die hoofkarakter. Of dit egter prosa word wat enduit slaag is iets waaroor ek nie seker voel nie.   Die dialoog tussen vader en seun en veral die vader se monoloë wat hy op band opneem is nie altyd oortuigend nie. Die afloop van die verhaal kon korter en meer kreatief  gewees het. Dit is asof die verhalende elemente sukkel om momentum te verkry.

Problematies vir my is die verband tussen titel en tema. Die wolf motief is nie duidelik nie. Eers speel Jack wolf, wolf. Later speel Mattheüs en Jack saam wolf, wolf met die idee om te treiter en die geteikendes aan die raai te hou oor hulle identiteite.

Uiteindelik vertolk ek die tema as 'n introspektiewe insig wat by Mattheüs aanklop as hy sy eie vermoë of onvermoë tot die liefde moet herken vir wat dit is of nie is nie. Dit is 'n verdienstelike leeservaring wat iets vertel van mense verhoudings. Ek twyfel of dit Venter se beste werk is, daarvoor is beide die verhalende elemente asook die tematiese motiewe nie altyd oortuigend nie.    

Saturday, June 15, 2013

JUJU SE POLITIEKE BEWEGING IS SÓ IRONIES


( My brief wat in Donderdag se Beeld verskyn het)

Die naam van Julius Malema se politieke platform, “Economic Freedom Fighters”, is ironies.
Dit is die soort politieke beweging wat byval sal vind by die armstes van die armes. Maar pleks daarvan dat dit armes uit hul sosio-ekonomiese situasie sal “bevry”, sal hulle juis slegter daaraan toe wees as Malema se beweging sukses by die stembus behaal.
’n Verdere ironie is dat Malema nie bekend is vir sy beskeie leefstyl nie. Peperduur klere, horlosies, huise en motors pas nie by iemand wat kamtig soveel empatie met die armes het nie.
Daar is inderwaarheid nie plek vir Malema se beweging met sy rassistiese innuendo en verdwaalde ekonomiese idees in ’n moderne Suid-Afrikaanse demokrasie nie. In ’n markgedrewe omgewing waar Suid-Afrikaners toenemend ’n hoë premie op verdraagsaamheid plaas, sal Malema se uitgediende idees slegs onder ’n marginale groep Suid-Afrikaners byval vind.
Sou ’n Malema-geleide party volgende jaar aan die verkiesing deelneem, is dit net die ANC wat nog ’n bietjie steun onder ’n sekere segment van die samelewing sal verloor. Met baie ander probleme waarmee die ANC tans gekonfronteer word, sal dit ons politiek meer vloeibaar maak.
So beskou kan Malema, heel ironies, bydra om die demokrasie te versterk.

Thursday, June 6, 2013

BE GENEROUS WITH YOUR INPUT


( My brief in vandag se Pretoria News )                                                                     

Any plan to improve public transport should be welcomed. If surveys are needed to determine the needs of commuters to ensure the best possible transport system, as was reported in the Pretoria News of 30 May, they must be supported. My appeal to residents is to be generous with their proposals and input - it is their needs after all that need to be addressed and this will only be possible with adequate information.

Plans informed by information collected through surveys will however, only be of value if implemented correctly. A concern in this regard is that the Tshwane Metro did similar surveys before. The most recent survey, if my memory serves me correctly, was conducted by the CSIR and to this day I cannot say what positive changes it brought about.

The situation with the Tshwane bus service is desperate. As a DA member serving on the  Tshwane transport oversight committee, I receive calls almost daily from frustrated commuters from all over the city. I am cautiously exited about the survey to enable the Tshwane Metro to offer an effective public transport service. 





Thursday, May 30, 2013

TOLERATING INCOMPETENT CONTRACTORS- SCANDALOUS


(My toespraak wat ek vandag in die Raad gehou het)

This report is an insult to the residents of Ward 83 and a confirmation of the ANC’S inability to use tax money wisely.
Window dressing and spin doctoring to camouflage the failures of this local government is one thing – looking at the tangibles that affect our residents directly on a daily basis is another thing altogether.
I do not wish to debate the merit of transferring funds from one project to another as such.
I want to highlight the reprehensible way in which this Metro tolerates contractors who cannot do the job assigned to them, contractors who pocket a lot of money for not delivering and then after all this the Tshwane Metro decides to abandon the project leaving it incomplete.
I refer you to point 3.4 of this report – The Garsfontein Pipe Reinforcement Project.
An incomplete construction site on the corner of Rubenstein Drive and Blouhaak Street is a monument and testimony of non delivery and wasteful expenditure.
Residents send me photos of this site almost weekly. The immediate vicinity of the site is an eyesore with old pipes and heaps of dirt abandoned for the past 2 years - a daily reminder to the residents of this Metro’s disregard for them. Incidentally, this site is bordering the Moreleta Nature reserve. Beautiful nature scenes on the one hand, depressing unsightliness caused by the Metro on the other hand.
The contractor in this instance failed to deliver and was given more chances than a cat with nine lives can ask for. Time and time again the contractor proved his inability to deliver.
Why, why, why? What systems allow such incapable businesses to get the contracts in the first place? There is no mention of penalties. Madame Speaker, the Tshwane Metro is failing the resident of this city.    
Now I must take this report to the residents who complain to me every other day and say, your local government decided to transfer the remaining funds, R1.5 million rand, to another project.
I cannot give indication when the work will be completed but I can confirm that your tax money was wasted.
What an insult. Scandalous, scandalous, scandalous.

Saturday, May 25, 2013

ZUMA SE AANSIEN IS NIE HERSTELBAAR NIE


(My brief in vandag se BEELD)

Ek het nuus vir die ANC en spesifiek vir pres. Jacob Zuma.
Die beste beeldpoetsers, die mees verbete toesmeerdery van skandale en selfs meningspeilings wat Zuma se gewildheid onder sekere segmente van die samelewing aantoon, is nie genoeg om sy aansien onder die stille meerderheid Suid-Afrikaners te herstel nie.
Hoe het dit gebeur?
Militêre betrokkenheid in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Nkandla en die Gupta-fiasko is net ’n deel van die probleem.
Aan die wortel van die probleem is die verlies aan geloofwaardigheid.
Zuma se arrogansie, gebrekkige insig in wat ’n grondwetlike demokrasie beteken en algehele onverskilligheid teenoor die waardigheid en verantwoordelikheid van sy amp het mense van hom vervreem.
Die feit van die saak is dat mense Zuma, hoe sjarmant ook al, lankal nie meer ernstig opneem nie.

Monday, May 13, 2013

TUTU SE RUBICON-KRUISING BETEKENISVOL



(My brief in vandag se Beeld)

Dit is goed dat iemand met die statuur van emiritus-aartsbiskop Desmond Tutu in die openbaar bekend maak dat hy nie weer vir die ANC sal stem nie. Baie mense sal vra hoekom dit Tutu so lank geneem het om hierdie besluit te neem.
In die storm-en-drang-jare van die stryd teen apartheid het Tutu ook op sy manier die strewe na gelykheid en vryheid vir alle Suid-Afrikaners verpersoonlik.
Die weë van die Tutu’s van hierdie wêreld en die ANC as ’n bevrydingsbeweging het soos een geloop in ’n narratief wat die afskaffing van rassediskriminasie bepleit het.
Die land het sedert 1994 ingrypend verander met ’n grootste poging om ’n land vir almal te wees vir hulle wat hulself Suid-Afrikaners noem.
Die ANC het ongelukkig nie verander nie. Of in ieder geval nie progressief of ten goede nie. Sonder morele kompas, sonder ’n visie en sonder leierskap het hierdie party nie net gestagneer nie, dit het degenereer tot iets destruktiefs.
Dit vat dus baie van iemand soos Tutu, wie se lewenspad nou verstrengel was met die bevrydingstryd, om oor ’n persoonlike Rubicon te kom. ’n Bevestiging van die feit dat ’n veelparty-demokrasie oor keuses gaan. En ’n wins vir andersdenkendes wat al hoe ongemakliker voel oor die verdwaalde politiek van die ANC.

Wednesday, May 8, 2013

BRIEF AAN HENNIE AUCAMP

 Hierdie brief is vandag aan Hennie Aucamp gestuur.

Geagte Hennie Aucamp

Met waardering teenoor u goedgunstige reaksie op my versoek na u kontakbesonderhede is dit met opgewondenheid dat ek aan u skryf.  'Mits dese wil ek vir jou sê' het trouens die vermoë om enige mens weer aan die skryf te kry. Dankie ook vir die vriendelike woorde oor die telefoon vanmôre.

Dit is die eerste 'fan' brief wat ek skryf. 'n Adolosente daad?   Wat is die vereistes van 'n bewonderaarsbrief?  Die term bewonderaar klink vreemd.  Ontsag vir die bydrae wat u op soveel gebiede van die letterkunde gemaak het is waar. Dat ek veral u gepubliseerde dagboeke ( al drie van hulle), die memórie 'In die vroegte' asook die portrette 'Bly te kenne'  onneersitbaar geniet het is waar. Amper vergeet ek u bundel aforismes, ' Pluk die dag'. En tans u gepubliseerde briewe - wat 'n wonderlike vreugde!  Dat ek 'n heilige respek het vir u ryk geskakeerde kuns en-literatuur kennis is waar. Maar veral is dit die menslike aspek in u dagboeke en briewe wat my aangryp. 'n Skrywer en opebare figuur wat, om u woorde te gebruik, 'na mens ruik'. Bewondering dus ja, maar veral ontsag en respek.

Welwetend dat u nie oor 'n rekenaar beskik nie en dus nie van die internet en e-posse gebruik maak nie moet ek tydsverloop al voorlopig verreken. Ek beny u hierdie posisie. In my werk is dit haas ondenkbaar om sonder 'n i-Pad oftewel  tabletrekenaar deesdae te werk. My generasie is vasgevang in die tegno-era.  Soos die filosoof Johann Rossouw dit treffend beskryf,  is die internet en e-posse die tiranie van die onmiddelike.  Om onmiddelik kennis te neem van standpunte en opdragte en onmiddelik te reageer. Indien niks anders nie, 'n absolute malligheid wat nuwe betekenis aan ' 'n gejaag na wind' gee.

Dan het u seker ook kennis geneem van Facebook, Twitter en derglike sosiale netwerke. Oor Facebook voel ek ambivalent. 'n Mens sou kon argumenteer dat dit weer mense aan die skryf gekry het. Nie geheel en al onwaar nie. Waaroor en hoe geskryf word plaas die Facebook kultus egter onder  verdenking. Ook is die 'kontak' wat mense met mekaar behou via Facebook dikwels oppervlakkig, selfs vals.  Tog bied dit my die geleentheid om my opinie oor rolprente, boeke en sake van die dag met ander te deel. Sosiale media is dus nie heeltemal sonder meriete nie.

Wat ek van u briewe waardeer is 'n ou,wêreldse bedagsaamheid. Met die hand geskryf nogal. In sy bundel kits-essays ( Ettienne van Heerden se 'Stilte ná die boek' ) is daar 'n wonderlike ode aan die brief. ' Die wete dat die brief lank in 'n kondukteurswa of op 'n stoomboot sou vertoef, het die skrywer daarvan des te versigtiger gestem' skryf van Heerden. Stemming, gemoed, hoflikheid, ook substansie en 'n soeke na antwoorde kenmerk u briewe.

Omdat ek in die politiek is ( DA raadslid in Pretoria), skryf ek gereeld briewe wat in die dagblad Beeld verskyn. Sake van die dag dus wat ek onder die loep neem. Standpunt inname dus, politieke retoriek en skaamtelose propoganda vorm die basis van my briewe. Dit verskaf my baie vreugde.

Ek vertrou en hoop dat u gesondheid daar goed uitsien. Dat u nog vreugde put uit u belangstellings in so 'n wye reeks onderwerpe. Dit sou 'n mistasting wees om 'n enkele etiket om u nek te hang. As ek Aucamp aan die oningeligte moes beskryf sou dit wees as Aucamp die esteet en woordkunstenaar wat 'n onskatbare bydrae tot die Afrikaanse lettere gelewer het.

Met baie goeie wense

Francois Bekker

Pretoria

Saturday, May 4, 2013

UNIEGEBOU MOES WEET VAN GUPTA-INVAL


My brief in vandag se BEELD

Die Gupta-sirkus wat hom in ons land afspeel, kan net aan een ding toegeskryf word: die Zumafikasie van die ANC en hierdie party se disrespek vir Suid-Afrika.
Feit is, hier is kolonisasie ’n stappie verder geneem. Met ’n prostituut-mentaliteit word ons trots, integriteit en soewereiniteit verkwansel vir Zuma-binnekring-sakekonneksies.
Enige poging om kamtige individue as skuldiges uit te wys is ’n verdere belediging vir enige Suid-Afrikaner se intelligensie.
Die Gupta-inval by die Waterkloof-lughawe sou nie plaasgevind het sonder die medewete en goedkeuring van die Uniegebou nie.
Gelukkig het ons nog ’n vrye pers wat voorvalle soos hierdie aan die groot klok hang. Wat weer bewys hoe belangrik dit is om jaloers oor persvryheid te waak.

Monday, April 29, 2013

OOP SAMELEWINGS VERDUUR NIE LEWENSLANGE REGERINGS NIE



(My brief in Saterdag se Beeld)

Die filosoof Karl Popper was die vernaamste eksponent van hierdie soort samelewing. Popper se wetenskapbeeld, falsifisering, het as vertrekpunt van die oop samelewing gedien. Hiervolgens word wetenskaplike vordering gemaak as foute ontdek en deur regstelling uitgeskakel word.

In politieke verband dus die moontlikheid en vermoë deur middel van kritiese denke om die regering van die dag by die stembus deur ’n ander te vervang indien te veel foute en dwaling vra om herbesinning en selfs die opstel van ’n nuwe sosiale kontrak.

Die oop samelewing is ’n bedreiging vir die ANC. Anderkant swak dienslewering, korrupsie, kaderontplooiing en opportunistiese magspolitiek lê die ANC se Achilleshiel eerder daarin dat hy verstrengel geraak het in die retoriek van ’n geslote samelewing. So ’n samelewing verkies die kollektiewe bo die individuele.

Ras-nasionalisme bied ’n kortstondige magshegenomie wat lei tot verdere misplaaste selfvertroue. Wat oorbly, is ’n arrogansie wat vriend en vyand verras.

Staatsmag gegrond op die idee van ’n geslote samelewing is uiteindelik nie volhoubaar nie. Die vermoë om te voorsien in die behoeftes van die samelewing, ongeag ras, kultuur of agtergrond, neem in so ’n mate af dat ’n herwaardering van die situasie onafwendbaar word.

Met sy rug teen die muur sal die ANC alles doen om die idee van ’n oop samelewing verdag te maak. Verwag toenemende skop, skreeu en skel van ’n party wat die storielyn verloor het. Anderkant die geraas sal tradisionele ondersteuners van hierdie party toenemend kritiese denke toepas, kopskuiwe maak en alternatiewe oorweeg om goeie regering en dienslewering te verseker.



Sunday, April 21, 2013

BUITENGEWONE AUCAMP SE BRIEWE BOEI


MITS DESE WIL EK VIR JOU SÊ - briewe van HENNIE AUCAMP

Deur Petrovna Metelerkamp (hemel&see boeke)

 
My indrukke van hierdie meesleurende boek:

As woordvirtuoos het Hennie Aucamp die Afrikaanse letterkunde verryk met sy bydrae tot verskillende genres: die kortverhaal, kaberet, bloemlesings,poësie, liedtekste, akademiese werk, joernalistiek. Voeg hierby sy gepubliseerde dagboeke en hierdie bundel briewe wat in die vakkie 'ego dokumente' tuishoort.

Hierdie 'ego dokumente' bied die leser 'n unieke blik op die gedagte wêreld van 'n skrywer as kunstenaar en mens. Wat aan die bod kom,  is die dinamika van skrywerskap. Wat verreken word is watter  energie, psigiese en fisiese eise van 'n kunstenaar vereis word.  Aucamp se aanspraak op afsondering tydens kreatiewe episodes in sy lewe bepaal dikwels sy verhouding met familie en vriende. 'Mits dese wil ek vir jou sê' is 'n waardige toevoeging tot sy gepubliseerde dagboeke van vroeër.

Die ernstige leser van Afrikaanse letterkunde kry goeie insae oor die werking van tekste en hul dramatiese elemente,onder andere. Aucamp lewer gereeld kommentaar op konsepte op versoek van skrywersvriende.

Daar is soveel insigte wat hulself aanmeld in die briewe van hierdie woordmeester. Aucamp hou byvoorbeeld nie van kwalifikasies soos feministiese of gay onderskeidings in die letterkunde nie - 'dit impliseer 'n verenging van menswees'. Hy lamenteer die 'provincial culture' van die afrikaanse letterkunde, 'n letterkunde dus wat 'n vergelyking met die beste elders vermy. Oor die aard van briewe deel Aucamp interesante insigte met die leser. So beskryf hy die aard van briefskryf as 'n 'threesome' - die skrywer wat skryf, die persoon aan wie geskryf word maar dan weer die skrywer self, want hy tree via die brief ook in gesprek met homself. 

Suid-Afrika en sy geliefde Kaapstad tydens die eeuwending tot onlangs staan vir Aucamp in die teken van 'n fin-de-siècle, selfs 'n apokalips. Om sy moeder by te haal, dis ongerieflik om oud te word. Sosiale verval. Tuimelende waardes en standaarde. En die uitgewersbedryf as monolopie.

As samesteller van hierdie bundel briewe verdien Petrovna Metelerkamp groot lof dat sy hierdie geskrifte bestendig het en aan 'n wye leserspubliek beskikbaar gestel het. Dit is per slot van sake die geestesgoed van die mens wat die lewe, hoe prekêr en moeilik ookal, betekenisvol maak.

Tuesday, April 2, 2013

BEYERS GLO SEKER OOK AAN TANDEMUIS


(My brief  in vandag se Beeld)

Conrad Beyers se lawwe brief “DA vaar maar vrot toe hy Potch beheer” is paslik op 1 April, oftewel Gekkedag, in Beeld gepubliseer.

Ten opsigte van Potchefstroom sal selfs ’n kind op laerskool besef dat die DA in dié dorp in sy maand of wat in beheer net genoeg tyd gehad het om die skades en skandes van die ANC-beheerde raad te lys en om beter alternatiewe uit te wys.

Midvaal en Kaapstad, wat nou al etlike jare onder DA-beheer is, word beter regeer en bestuur as enige ander plaaslike raad in die ganse Suid-Afrika. As Beyers die teendeel glo, glo hy seker ook aan die tandemuis.







Monday, April 1, 2013

SWEET TOOTH


Onderhoudende boek wat enduit boei 

Sweet Tooth is Ian McEwan se jongste boek (2012). Dit vertel die verhaal van die naiewe Serena Frome wat deur die intelligensie dienste gewerf word om aan 'n projek met die naam Sweet Tooth deel te neem. As geheime agent moet sy 'n jong opkomende skrywer onder valse voorwensels beinvloed om dienstige letterkunde te skep. Die kandidaat is 'n nihilistiese skrywer wat eerder die distopiese gevolge van die huidige orde karteer. Serena se gevestigde sienings oor haarself, haar werkgewers en die samelewing in die algemeen begin wankel as sy geen invloed op die jong man kan uitoefen nie en boonop verlief raak op hom.
Oorrompelende prosa, interessante karakters en 'n storielyn wat die leser tot aan die einde boei, is die bestanddele van hierdie uiters leesbare boek. ' n Spioenasie  roman wat sonder geweld die banale nuanses van die sogenaamde Koue Oorlog boekstaaf. Met die interessante karakter van Tom Haley as die jong skrywer word Sweet Tooth ook 'n boek oor skrywers en letterkunde.