Saturday, June 30, 2012

RUK SUID-AFRIKA SO REG


Hierdie brief van my wat verlede Saterdag ( 23 Junie) in BY (Bylaag tot Beeld) verskyn het, is as wenbrief aangewys – ek het die boek ‘Who rules South Africa’ gewen.

Die vraag in BY (Brandpunt,16,06) verwys: Wat moet of kan gedoen word om Suid-Afrika op koers te bring?

Dat daar niks verkeerd is met Suid Afrika wat nie reggemaak kan word met dit wat reg is nie, kan as nuttige credo dien wanneer besin word oor hoe om Suid-Afrika reg te ruk.  

·         Sonder betekenisvolle ekonomiese groei sal sosiaal maatskaplike probleme nie opgelos word nie. Hiervoor moet Suid-Afrika hom posisioneer as ‘n gunstige beleggingsbestemming.  ‘n Ekonomie waarin eiendomsreg duidelik verskans word, is ononderhandelbaar. Voeg hierby soepel arbeidswette en voldoende infrastruktuur.

·         Ekonomiese vooruitgang sal sorg vir ‘n groter middelklas met ‘n breër belastingbasis  vir die staat. Belastingverligting sal dan moontlik wees met groter besteebare inkomste vir die individu. 

·         Slegs ‘n doeltreffende onderwysstelselsel sal Suid-Afrika se mededingendheid in die internasionale mark verseker. ‘n Gebrek aan vaardigheidstekorte moet as vyand nommer een  verklaar word. Verbeter onderwys en verseker tersiêre inrigtings se akademiese onafhanklikheid. 

·         Bestry misdaad  en roei korrupsie uit met ‘n betroubare regstelsel onderlê deur ‘n  opgeleide, gemotiveerde en korrupsievrye polisiediens asook ‘n goed funksionerende en onafhanklike regbank.

·         Dienslewering op al drie regeringsvlakke moet verbeter. Kaderontplooiing moet vervang word met ‘n stelsel waarin bekwaamheid en nie politieke dienstigheid  beloon word nie.

·         ‘n Lewensvatbare veelparty demokrasie waarin geen party te veel mag het nie, sal bevordelik wees vir goeie, deursigtige en verantwoordbare regering.

·         Ons moet onsself opnuut as ‘n nasie verbeel wat inklusiwiteit onderskryf waar niemand soos tweedeklas-burgers behandel word nie. In hierdie verband is die soeke na samebindende en versoenende simbole noodsaaklik.

 As die politieke wil om die regte ding te doen by die regering ontbreek,  is die vermoë  om so ‘n regering by die stembus uit te daag van kardinale belang. Meerderhede moet nie op etniese gronde gevorm word nie. Ons belangrikste uitdaging is die mobilisering van ‘n nuwe meerderheid wat verenig is in die strewe om Suid-Afrika ‘n suksesvolle en voorspoedige land te maak. 


Sunday, June 17, 2012

ANC se rassisme toekoms se vyand

(My brief in vandag se Rapport)

Dit moet sonder hoed of handskoen gesê word: Suid-Afrika onder ’n voortgesette ANC-heerskappy is onvolhoubaar.

Die berig “Maak progressiewe lede regters – ANC” in Rapport van 10 Junie bevestig sommige in hierdie party se weersin in ’n liberale demokrasie waarin magte geskei is.
Voeg nou hierby die ANC se rasgedrewe agenda.

Soos prof. Pierre de Vos, grondwetkenner, in dieselfde artikel suggereer: Die ANC blyk nou ’n regse party te wees.

Die onbeskaamde versugting om die regbank te verpolitiseer (op rasgronde, natuurlik) is tekenend van ’n party wat op sigself die foutlyn van die Suid-Afrikaanse politieke landskap geword het.

Wat as die nasionale bevrydingsrevolusie paradeer, is inderwaarheid etniese benepenheid in die Verwoerdiaanse sin van die woord wat die arm massa manipuleer ten einde ’n klein elite se selfverryking te verskans.

Alle andersdenkendes, met ander woorde alle Suid-Afrikaners wat ’n grondwetlike demokrasie onderskryf met die duidelike skeiding van magte en ’n besliste onafhanklike regbank, moet mobiliseer teen hierdie dwaalrigting.

Dit kan die Suid-Afrikaanse droom vernietig van ’n nie-rassige land wat vrede en voorspoed nastreef.

Apartheid is tereg as ’n misdaad teen die mensdom verklaar.

Die ANC se nuwe rassisme ter wille van absolute politieke mag moet as die vyand van ons toekoms verklaar word.