Sunday, January 29, 2012

SPEAKER MOET UITVIND OOR 'OOP GESPREK'


(My brief in gister se Beeld)

Die feit dat die leier van die amptelike opposisie in die Tshwane-raad
met die hulp van veiligheidswagte uit die maandelikse raadsvergadering geskop
is, is ongelooflik en skokkend.
Die “oortreding” van mnr. Brandon Topham, die DA se koukusleier, was dat hy
daarop aangedring het om repliek te lewer op die eensydige opmerkings wat me.
Morakane Mosupye, die raad se speaker, oor die pas afgelope mislukte wyksraadsverkiesing
gemaak het.
Mosupye sal haarself ’n guns bewys deur haar van N.P. Van Wyk Louw se siening
oor die oop gesprek te vergewis.
In die oop gesprek kan geen deelnemer aan enige gesprek aanspraak maak op
volkome insig en waarheid oor watter onderwerp ook al nie. In so ’n gesprek is
dit kardinaal belangrik om nie net te praat nie, maar ook te luister na die
ander party se argument.
Die oop gesprek is ’n tweerigting- proses en helaas word so ’n gesprek nooit as
afgehandel beskou nie.
Die oop gesprek resoneer met die uitgangspunt van ’n demokrasie waarin alle
partye die geleentheid gegun word om hul saak te stel omdat niemand hom- of
haarself kan beroep op volledige insig en waarheid nie.
Om ’n politieke opponent wat aandring op gesonde debat met die hulp van
veiligheidswagte te verwyder, is ’n Fascistiese handeling wat nie tuishoort in
’n demokrasie nie.
Die Tshwane-speaker het demokrasie met haar magsvertoon ondermyn.

Tuesday, January 3, 2012

DIE ROUBEKLAG MOET DEMOKRATE INSPIREER


(My brief in vandag se Beeld)

Die roubeklag in Noord-Korea ná die dood van dié land se president, Kim
Jong-il, was tegelykertyd aangrypend en onthutsend.
Ongekende tonele wat soos perfekte verhoogchoreografie voorgekom het, het mens
tot nadenke beweeg oor die soort samelewing waar so ’n massa-treurmare moontlik
is.
Noord-Korea is ’n toonbeeld van ’n geslote samelewing.
Oorweeg die manifestasie van só ’n samelewing soos uitgebeeld in
televisiebeelde die afgelope dae:
Die magtige staat wat met ’n ystervuis regeer;
’n Ikoniese leier, almagtig en ’n soort afgod;
Die kollektief met geen ruimte vir individualiteit nie, en;
’n Militêre kultuur met die burgerlike samelewing as ondergeskik.
’n Geslote samelewing soos dié is moontlik as alle mag gesentraliseer is, daar
geen skeiding van magte is nie, staatsbeheer oor die media die vrye vloei van
idees verhinder, opposisiepolitiek afwesig is en ’n eenpartystaat verhewe bo
kritiek is, as die vryheid van assosiasie en beweging aan bande gelê word en
die samelewing maatskaplik gevangene gehou word omdat daar geen vrye mark of
private besit is nie.
Ofskoon Noord-Korea hom op die uiterste punt van die totalitêre staatskontinuum
bevind, behoort die tonele van kollektiewe en primitiewe roubeklag ná die dood
van ’n diktator elke demokraat in Suid-Afrika opnuut te inspireer om alles
voortdurend in die stryd te werp om juis na ’n volkome oop samelewing te werk.
Die oop samelewing as ononderhandelbare antitese vir die Noord-Koreaanse model
is ons enigste waarborg vir vryheid, voorspoed en vooruitgang.