Saturday, January 18, 2014

HENNIE AUCAMP SE WERK VERANDER MY


(My brief in vandag se Beeld)


Met Hennie Aucamp se 80ste verjaardag op 20 Januarie verdien die Afrikaanse literêre gemeenskap se skatpligtigheid teenoor een van sy grootste skrywers hierdie week spesiale vermelding. Sy besondere bydrae tot Afrikaanse letterkunde kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Aucamp het in velerlei genres geskep en talle publikasies die lig laat sien. Sy oeuvre is nie alleen indrukwekkend nie, maar ook veelsydig, oorspronklik en deurgaans met die handelsmerk van gehalte.
Die reikwydte van sy belangstelling in die kunste is fenomenaal. En natuurlik, Aucamp as dekadent.
As kortverhaalmeester en -kenner het hy hierdie genre tot groot hoogtes gevoer. Voeg hierby sy kabarette, liedtekste, aforismes, akademiese werk, poësie en gepubliseerde dagboeke.
Wat sy dagboeke betref, het hy my leeswêreld verder verryk. Sy dagboeke het ’n intieme kykie gebied in die lewe van ’n fynbesnaarde kunstenaar, sy besondere kennis van uiteenlopende kunsvorms, asook natuurlik sy plek as gay skrywer in ons letterkunde. Sy besinning oor die aard van die dagboek is van onskatbare waarde.
Aucamp se werk en insig in die kunste in die algemeen, asook sy eksistensiële inslag, het my lewe in vele opsigte verander.
Bowenal moet Hennie Aucamp, om sy eie woorde te gebruik, “as stuwal teen middelmatigheid” erken word.
Op sy 80ste verjaardag lig ek graag ’n glasie vir hierdie aristokraat van die gees.

Thursday, January 16, 2014


(My brief in vandag se Beeld)

OORGERUSTHEID IS GROOT BEDREIGING


Kiesers moet gewaarsku wees oor die ANC se steun wat drasties daal.

Dat die regerende party se steun in Gauteng gesak het tot ongeveer 45% stem enige nie-ANC-ondersteuner uiteraard tot groot opgewondenheid.
Oorgerustheid egter is nou opposisieondersteuners se grootste bedreiging. Twee gedagtes hieroor:

. Die ANC neem ook kennis van die peilings en sal dus met ’n buitengewone poging vorendag kom om verlore steun terug te wen.
. Met die proporsionele stemstelsel tel elke stem. Dit bied aan die opposisie die geleentheid om Gauteng oor te neem, al is dit met koalisievorming. Dit kan slegs gebeur as elke kieser gaan stem.

Maar as kiesers nie gaan stem nie bevoordeel dit die party waarmee hulle nie tevrede is nie.

Thursday, January 9, 2014

WEES SELF VERANDERING IN SUID-AFRIKA


( My brief in vandag se Beeld)

Wat moet ons verwag van die jaar voorhande?
Gaan die ANC verder steun verloor? Hoe lank gaan Zuma uithou en teen watter prys vir die ANC?
Sal die DA in so ’n mate bly groei dat veelparty-demokrasie verseker word?
Oor al hierdie vrae kan ons net bespiegel en dié kant toe of daai kant toe hoop. Niks verkeerd hiermee nie.
Fataal egter sal wees om te verwag dat iemand anders iets moet doen om hierdie land waarin ons woon ’n beter plek te maak. Verandering ten goede begin by elkeen van ons.
Met erkenning aan Mahatma Gandhi moet elkeen self die verandering uitleef en teweegbring wat ons in Suid-Afrika wil sien. En die metode om dit ’n werklikheid te maak is betrokkenheid.
Betrokkenheid by dit wat vir mens belangrik is, is wat van ons vereis word – taalregte, sosiaal- maatskaplike projekte, sport, jou kinders se opvoeding of wat ook al belangrik is in jou leefwêreld.
Maar veral betrokkenheid by die demokrasie deur ten minste seker te maak jy is geregistreer om te kan stem.
Omdat elke stem tel, is dit verraad teenoor jou eie toekoms om nie te gaan stem nie.
Die jaar 2014 moet in die teken van betrokkenheid staan. Elkeen van ons moet eienaarskap aanvaar van die verandering wat ons graag wil sien.
Dit is slegs met betrokkenheid dat ons vir onsself opwindende nuwe moontlikhede sal ontsluit.