Monday, December 10, 2012

Behoud van Pta was wil van die mense


(My brief in vandag se Beeld) 
Waarom die speakerskantoor van die Tshwane-metroraad geskok is oor die meerderheidsteun vir die behoud van die naam Pretoria (Beeld, 6 Desember) weet nugter.

Dan is die speakerskantoor seker ook onbewus van die kompromis wat jare gelede reeds aangegaan is om die metro Tshwane te noem met die behoud van Pretoria as pleknaam.

Die ANC gee altyd hoog op oor die wil van die mense.

Nou dat die wil van die mense nie ooreenstem met hul eie magspolitiek nie, verkeer die klomp in skok en praat selfs van “spookstemme”.

Kortsigtige politiekery moet eerder vervang word deur die strewe en ywer om dienslewering ’n prioriteit te maak.

Of sal dieselfde speakerskantoor ewe geskok wees om te verneem van pleidooie in elke uithoek van die stad vir beter dienslewering waarvoor getrou betaal word in die vorm van tariefheffings en belasting?

 

Wednesday, September 26, 2012

STAD SE 2055-VISIE LYK NA DAGDROMERY



(My brief in vandag se Tshwane Beeld)

  Kgosiento Ramokgopa, Tshwane se burgemeester se opgewondenheid oor die 2055 visie vir Tshwane ( Tshwane Beeld, 5 September), bring 'n ongemaklike  de-ja-vu by 'n mens tuis.

Ek herinner my oud president Thabo Mbeki se Afrika renaissance-konsep wat nie by  mense op voetsoolvlak aanklank gevind het nie. Dit is akademiese konstruksies wat nie brood-en-botter kwessies aanspreek nie. Mbeki se filosofiese insigte en impulse in stede van tasbare dienslewering het hom sy presidentskap gekos.

Die 2055 visie klink vir my na dagdromery. Hou in gedagte dat die Tshwane Metro blykbaar 'tegnies' bankrot is. Daar is geen planne op die tafel om werk te maak van  onmiddelike diensleweringsprobleme nie.  Om nie eens van gebrekkige infrastruktuur-onderhoud te praat nie. As daar met kaderontplooing volgehou word en deursigtige en verantwoordbare regering met slim politieke truuks omseil word, sal  die 2055 visie om die groter Pretoria 'n wereldstad te maak slegs 'n droom bly.



Thursday, September 13, 2012

DIE WONDERWERKER

(My resensie oor  hierdie Afrikaanse rolprent)


Om die enigmatiese, veelsydige en briljante Eugene Marais se siel bloot te le. Dit was die uitdaging wat Katinka Heyns (regisseur) en Chris Barnard( draaiboek) op hulle geneem het. Wat op die grootskerm ontvou, is 'n liefdesdaad wat Marais en die ander karakters in hierdie episode van sy lewe met deernis uitbeeld.

Dit vertel die verhaal van 'n gesin wat Marais tydelik verblyf aanbied as hy op 'n dag met 'n hoe koors op hul plaas opdaag. Wat volg is 'n veelvlakkige manifestasie van Marais se leefwereld en wereldbeskouing wat sy tyd vooruit was. Ook die foltering van buitestaander wees en ' n ewige verlange na sy vrou wat hom vroeg ontval het. Teen die agtergrond van 'n patriagale gemeenskap verstaan 'n mens iets van Marais se posisie wat verskillende reaksies op sy swerwersbestaan, anders kyk na die lewe en diepe nuuskierigheid na 'n wye reeks verskynsels ten gevolg gehad het. Dit ontlok bewondering,spanning en diep menslike intrige wat die omtes van die hart verken.

Die sonderlinge liefdesverhaal tussen Marais en die jong Jane Bradshaw word op sober wyse aan die bod gestel.  Ook is die emosionele ontwaking wat Marais by die plaasvrou ontlok, verfrissend. Die blootle van die rigiede patriagie van destyds is egter nie 'n nuwe tema nie.  Marius  Weyers se karakter bied weinig nuut met die nuanse van hierdie verhaallyn.

Marais se morfienverslawing word met eerlikheid en deernis hanteer. Wat mynsinsiens te kort skiet is die feit dat Marais se fenominale skrywersgees, Marais het van die mooiste verse in Afrikaans neergepen, net in die verbygaan genoem word. Dit is soos om 'n fliek oor Shakespeare te maak en nie sy pennevrug of kunstenaarskap onder die loep te neem nie.

Goed gefotografeer, goeie toneelspel en stemmingvolle regie. Vraag is, sit die fliek se hart op die regte plek?   Andersins beslis die moeite-werd om die fliek te sien.

Sunday, September 9, 2012

ACHMAT MOET SELF SPRONG MAAK

(My brief in vandag se Rapport)

Zackie Achmat se oproep op Suid-Afrikaners om hulle te verset teen swak regering en om ongelykhede uit te wis (Rapport, 2 September) het betrekking.

Al hoe meer Suid-Afrikaners deel sy kommer dat die ANC die Grondwet wil ondergrawe. Maar die party sal alle pogings tot verset wil neutraliseer. Slegs as hy by die stembus suksesvol uitgedaag kan word, kan goeie regering verseker word.

Ontnugterde ondersteuners van die ANC moet nou hul eie Rubicon oorsteek en ophou om vir die party te stem. ’n Lewensvatbare veelparty-demokrasie is ons enigste skans teen ’n mislukte staat.

Die vraag is of Achmat as ANC-ondersteuner die sprong sal maak om so betekenisvolle verset te mobiliseer bo blinde lojaliteit aan ’n selfdienende party wat toenemend ondemokraties regeer?

Thursday, September 6, 2012

VERSUGTING NA BETER BIND OOR GRENSE SAAM


(My brief in vandag se Beeld)

Om ons opnuut ’n lewensvatbare veelparty- demokrasie te verbeel; nie lugkastele nie, maar daadwerklike strategieë om ons weg te stuur van ’n eenparty-gedomineerde politieke toneel wat veral gekenmerk word deur ontgogeling onder tradisionele ondersteuners van die regerende party is die geldige versugting van Jan-Jan Joubert in “Nuwe politieke terrein” (Beeld, 4 September).

Oorweeg ’n mens die alternatiewe, kan jy nie anders as om met Joubert saam te stem oor die skaarsheid van opsies nie.

Sukkelend, ongeorganiseerd, rigtingloos en nie juis beginselvas nie is hoe feitlik die meeste opposisiepartye beskryf kan word.

Die politieke debat word eintlik maar net tussen die ANC en die DA gevoer. Die keuse is tussen ’n geslote samelewing waarin slegs ’n handjievol kaders bevoordeel word en ’n oopgeleentheidsamelewing vir almal gegrond op ’n grondwetlike demokrasie en die oppergesag van die reg.

Op die nuwe politieke terrein waarna Joubert verwys is die versugting na gehaltedienslewering, onderriggeleenthede, ekonomiese groei, om maar ’n paar aspekte te noem, samebindende faktore oor kultuurgrense heen.

Vraag is, watter party kan aan die eise van vandag voldoen?

Monday, August 20, 2012

LONMIN IS TEKEN VAN GEBREKE IN SA

(My brief in vandag se Beeld)

Die arbeidsgeskil wat verlede week tragies verkeerd geloop het by die Lonmin-myn in Noordwes noop ’n mens om te besin oor die soort samelewing wat ons is.

Die voorval is simptomaties van gebreke in ons land wat nie langer geïgnoreer kan word nie. 

By nadere ontleding kan die volgende aspekte uitgelig word:

Billike besoldiging en diensvoorwaardes is noodsaaklik. Gierige en onbeheerste kapitalisme sonder ’n maatskaplike gewete is onvolhoubaar; 

Georganiseerde arbeid moet dringend selfondersoek doen. 

Die skep van valse verwagtinge, roekelose opswepery en ’n algemene disrespek vir die reg en die Grondwet is onverskoonbaar. Die reg om te staak moenie met arbeidsrampokkery verwar word nie; en 

Is die polisie goed genoeg opgelei, gedissiplineerd en professioneel toegerus om geweldadige massa-aksies strategies slim te hanteer, moet gevra word. 

Daar is ’n verskil tussen die verantwoordelikheid om eiendom en lewe te beskerm en polisiehardhandigheid. 

Wedersydse respek moet dringend ’n algemeen gedeelde waarde onder alle Suid-Afrikaners word om woede met vreedsame naasbestaan te vervang. 

Friday, July 27, 2012

DA DAAROM DIE ENIGSTE GROEIENDE PARTY

(my brief wat in gister se Beeld verskyn het) Ek moet Hanno den Boer gerusstel oor die DA se kanse om die ANC met sukses by die stembus uit te daag. In sy reaksie op ’n brief van my meen hy “DA-raadslede moet dalk elders stemme werf” (25 Julie). Den Boer weet dalk net so goed soos ek dit is kortsigtig om politiek op etniese gronde te bedryf.  Die DA is juis die enigste groeiende politieke party in Suid-Afrika omdat dit ’n waarde-gegronde party is wat ’n grondwetlike demokrasie voorstaan. Die boodskap van dienslewering spreek tot alle kiesers, ongeag ras of kultuur. Daarby is die DA vandag die mees verteenwoordigende party – ’n party dus wat resoneer met die bekommernisse en aspirasies van alle Suid-Afrikaners. Voeg hierby dat die ANC sy eie grootste vyand geword het met gebrekkige dienslewering, binnegevegte en korrupsie, en ’n mens is nie verbaas oor die ontgogeling onder tradi­sionele ANC-ondersteuners nie. Die tyd is ryp vir verandering.  Die DA-boodskap word gehoor en gelees in alle gemeenskappe.  

Saturday, July 21, 2012

STANDPUNT OOR SELEBI VRYLATING

                                                                                                                                                                                                                                                  Dat almal nie gelyk voor die reg is nie is weereens bewys met die vervroegde vrylating van Mnr Jackie Selebi op mediese parool. Sonder 'n morele kompas steur die regering hulle nie juis aan openbare wantroue wat hierdie politieke slenters ten gevolg het nie. Met die Shabir Shaik leuen vars in die geheue is die publiek se sinnisme verstaanbaar. Die feit dat Selebi moontlik regtig siek is, verander nie die minagting waarmee die regering met die oppergesag van die reg omgaan nie. Ofskoon dit nie meer as n verrassing kom dat die regerende party van die dag politieke rampokkery pleeg sonder skaamte nie, raak die gewone man op straat keelvol dat sy intelligensie so onderskat word. Uiteindelik vang slim altyd sy baas. Met openbare vertroue wat bly wegkalwe sal die regerende party by die stembus boet vir sy sondes. Hoe gouer hoe beter.

Friday, July 20, 2012

ELECTION NOTE TO THE TSHWANE DA CAUCUS

I have accepted the nomination for the position of Deputy Chief Whip. If mandated to take up this position my primary goal will be to support the Chief Whip and Caucus Management in its effort to manage, organise and lead our caucus to be an effective opposition party, indeed a government in waiting. Ek het die afgelope vier jaar  ondervinding opgedoen wat my  handig te pas sal kom as adjunk-hoofsweep. As navorsingsbeampte in die koukuskantoor het ek eerstehandse kennis opgedoen oor die funksionering van hierdie kantoor. As mediavoorsitter het ek ' n uitgebreide  netwerk van mediakontakte gevestig. As woordvoerder vir Vervoer  het  ek die kwessie van gebrekkige openbare vervoer, veral met mediadekking,  in die kollig gehou.  Ek is pas weer as media woordvoerder aangewys. I believe in constructive discipline, communication and sound management principles to create an environment conducive to maximum achievement by every caucus member. We are a winning team and that must show at all times. I am eager to take up the challenge as Deputy Chief Whip and will work hard to make a contribution to realise our goal in Council. Be assured that I will support and promote your issues and needs with Caucus Management.

Tuesday, July 17, 2012

VIERING HOU MADIBA-DROOM LEWEND

(My brief wat in vandag se Beeld verskyn) Dit is met vreugde dat ons weer hierdie jaar Mandela-dag vier. Ons skatpligtigheid teenoor hierdie politikus wat bo die storm-en-drang van die daaglikse politiek uitgestyg het, kan nie genoeg erken word nie. Suid-Afrika is vandag nie heeltemal die land waarop Mandela gehoop het nie.  Die Mandela-droom is egter nie dood nie. ’n Nuwe generasie moet daardie droom lewend hou.    

Thursday, July 5, 2012

KREATIEWE AKTIVISME NOU NODIG

                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                Verward, ideologies verdwaald en sonder 'n visie wat die verbeelding aangryp het die pas afgelope ANC beleidskonferensie meer vrae voortgebring as antwoorde. Oor een sekerheid is daar geen twyfel nie, die ANC kan nie met Suid-Afrika se toekoms vertrou word nie. Kan die ANC wat sy magshegenomie op rasgronde probeer bestendig gestuit word, is nie 'n onbilikke vraag nie. Omdat dienslewering kwessies almal raak, is daar gelukkig reeds'n neiging onder mense  oor kultuurgrense heen om na  politieke oplossings te soek. Tyd is egter nie aan ons kant nie en die te magtige ANC moet gestuit word. Dit sal verskeie pogings verg om ons toekoms terug te gryp. Georganiseerde party politiek, burgerregte organisasies, die vrye vloei van inligting en die opeising van ons grondwetlike regte speel verskillende maar belangrike rolle.  Elke andersdenkende Suid-Afrikaner kan egter op kreatiewe wyse tot die groot poging bydra om ons demokrasie te verseker.  As elke kieser wat nie die ANC ondersteun nie 'n werklike poging aanwend om slegs een persoon wat andersins vir die ANC sou stem, oor te haal om in die volgende verskiesing vir 'n ander party te stem , kan die party politieke toneel ingrypend herskik word. Noem dit kreatiewe aktivisme.

Saturday, June 30, 2012

RUK SUID-AFRIKA SO REG


Hierdie brief van my wat verlede Saterdag ( 23 Junie) in BY (Bylaag tot Beeld) verskyn het, is as wenbrief aangewys – ek het die boek ‘Who rules South Africa’ gewen.

Die vraag in BY (Brandpunt,16,06) verwys: Wat moet of kan gedoen word om Suid-Afrika op koers te bring?

Dat daar niks verkeerd is met Suid Afrika wat nie reggemaak kan word met dit wat reg is nie, kan as nuttige credo dien wanneer besin word oor hoe om Suid-Afrika reg te ruk.  

·         Sonder betekenisvolle ekonomiese groei sal sosiaal maatskaplike probleme nie opgelos word nie. Hiervoor moet Suid-Afrika hom posisioneer as ‘n gunstige beleggingsbestemming.  ‘n Ekonomie waarin eiendomsreg duidelik verskans word, is ononderhandelbaar. Voeg hierby soepel arbeidswette en voldoende infrastruktuur.

·         Ekonomiese vooruitgang sal sorg vir ‘n groter middelklas met ‘n breër belastingbasis  vir die staat. Belastingverligting sal dan moontlik wees met groter besteebare inkomste vir die individu. 

·         Slegs ‘n doeltreffende onderwysstelselsel sal Suid-Afrika se mededingendheid in die internasionale mark verseker. ‘n Gebrek aan vaardigheidstekorte moet as vyand nommer een  verklaar word. Verbeter onderwys en verseker tersiêre inrigtings se akademiese onafhanklikheid. 

·         Bestry misdaad  en roei korrupsie uit met ‘n betroubare regstelsel onderlê deur ‘n  opgeleide, gemotiveerde en korrupsievrye polisiediens asook ‘n goed funksionerende en onafhanklike regbank.

·         Dienslewering op al drie regeringsvlakke moet verbeter. Kaderontplooiing moet vervang word met ‘n stelsel waarin bekwaamheid en nie politieke dienstigheid  beloon word nie.

·         ‘n Lewensvatbare veelparty demokrasie waarin geen party te veel mag het nie, sal bevordelik wees vir goeie, deursigtige en verantwoordbare regering.

·         Ons moet onsself opnuut as ‘n nasie verbeel wat inklusiwiteit onderskryf waar niemand soos tweedeklas-burgers behandel word nie. In hierdie verband is die soeke na samebindende en versoenende simbole noodsaaklik.

 As die politieke wil om die regte ding te doen by die regering ontbreek,  is die vermoë  om so ‘n regering by die stembus uit te daag van kardinale belang. Meerderhede moet nie op etniese gronde gevorm word nie. Ons belangrikste uitdaging is die mobilisering van ‘n nuwe meerderheid wat verenig is in die strewe om Suid-Afrika ‘n suksesvolle en voorspoedige land te maak. 


Sunday, June 17, 2012

ANC se rassisme toekoms se vyand

(My brief in vandag se Rapport)

Dit moet sonder hoed of handskoen gesê word: Suid-Afrika onder ’n voortgesette ANC-heerskappy is onvolhoubaar.

Die berig “Maak progressiewe lede regters – ANC” in Rapport van 10 Junie bevestig sommige in hierdie party se weersin in ’n liberale demokrasie waarin magte geskei is.
Voeg nou hierby die ANC se rasgedrewe agenda.

Soos prof. Pierre de Vos, grondwetkenner, in dieselfde artikel suggereer: Die ANC blyk nou ’n regse party te wees.

Die onbeskaamde versugting om die regbank te verpolitiseer (op rasgronde, natuurlik) is tekenend van ’n party wat op sigself die foutlyn van die Suid-Afrikaanse politieke landskap geword het.

Wat as die nasionale bevrydingsrevolusie paradeer, is inderwaarheid etniese benepenheid in die Verwoerdiaanse sin van die woord wat die arm massa manipuleer ten einde ’n klein elite se selfverryking te verskans.

Alle andersdenkendes, met ander woorde alle Suid-Afrikaners wat ’n grondwetlike demokrasie onderskryf met die duidelike skeiding van magte en ’n besliste onafhanklike regbank, moet mobiliseer teen hierdie dwaalrigting.

Dit kan die Suid-Afrikaanse droom vernietig van ’n nie-rassige land wat vrede en voorspoed nastreef.

Apartheid is tereg as ’n misdaad teen die mensdom verklaar.

Die ANC se nuwe rassisme ter wille van absolute politieke mag moet as die vyand van ons toekoms verklaar word.


Tuesday, May 1, 2012

AKTIVISME TEEN SWAK REGERING NODIG

(My brief in vandag se Beeld)

Die e-tol-debakel is ’n nuttige prisma waardeur na die huidige Suid-Afrikaanse politiek gekyk kan word.

Anderkant die jubelsange oor die hof se welkome uitspraak dat die stelsel hersien moet word, behoort alle Suid-Afrikaners te besin oor die stand van sake.

Die sterk openbare reaksie is die gevolg van ’n swak regering wat al hoe meer slegs uit eiebelang optree.

Omdat die regering sy plig versaak om haalbare openbare vervoer daar te stel, kan die e-tolstelsel moeilik geregverdig word, al is die beginsel dat die gebruiker moet betaal nie sonder meriete nie.

Feit van die saak is, sonder alternatiewe het die gebruiker geen keuses nie, daarom die woede oor die duur stelsel wat die hele ekonomie nadelig kan beïnvloed.

Eiebelang en selfverryking blyk eerder die motivering vir die inwerkingstelling van die stelsel te wees omdat dit weer die geleentheid aan die regering gebied het om ’n klein groepie vriende te verryk. Dit maak die stelsel nog ongewilder.

Noudat die hof die proses tot halt geroep het, is dit duidelik dat die regering nie onaantasbaar is en alles kan stoomroller nie.

Daar is nog meganismes soos ’n vry media en ’n regstelsel wat die regering tot verantwoording kan roep.

Natuurlik sou dit dwaas wees om te dink dat die regerende party hierdie meganisme geduldig sal verdra. Wat die gevierde sukses in die hof bewys, is dat aktivisme teen swak regering onontbeerlik is.

Die ontgogeling met die regerende party strek oor kultuurgrense heen en die een of ander tyd sal ’n nuwe meerderheid sê genoeg is genoeg.



Top of Form

Bottom of Form


Thursday, April 26, 2012


WHY NAME SOMETHING BEFORE IT EXISTS

(My speech at today's Council meeting) 
The report provides an update of the naming of the Tshwane BRT system and it also outlines the steps that still need to be undertaken with regard to naming this service.
Three names are considered according to this report:
Fambisanani, Capital Link, Capital Express

I want to take you back to the June Council meeting last year when a report was tabled to consider the marketing strategy for the BRT system. I addressed the house then on the item and protested against the Tshwane Metro’s inability to prioritize and to be focused. My main argument was that we are spending money on marketing a service that does not exist while the basic bus service in the city is deteriorating.

Things indeed got so bad in the mean time that the mayor had no other choice but to acknowledge this fact – he went so far as to encourage commuters to make use of alternative transport.

Now we want to name this project that is considered by many as a mere pipedream while making use of alternative transport as the mayor encouraged them to do because indeed, the Pretoria bus service is not getting the attention it deserves.

Are there any parents in this house who consulted their minister or priest to Christen their children before they were born? Of course not - that will be ridiculous.

While there is a public outcry for a reliable bus service in the city we must consider a name for a service that might one day be up and running. Again, it is ridiculous.

I urge you to go back to the drawing board, face up to a reality check and listen to the public outcry.

What the public and commuters want is not theories and dreams, fancy names and marketing campaigns. No! They want a tangible commitment to service delivery.

You can name the BRT what you want if and when it is operational one day. Commuters are really not bothered by possible names for the BRT but they are frustrated and angry because the Metro is failing them by not providing proper public transport.

What we need is a basic reliable bus service – that is what we should be focusing on.

Saturday, April 14, 2012

MOENIE WAG VIR TSHWANE METRO SE 'UITNEMENDHEID NIE'

(My toespraak vandag gehou in my wyk by geleentheid van loodsing van sekuriteitsprojek)

Almal verdien ‘n veilige omgewing om in te werk, te woon en te leef. Daar is baie redes
waarom misdaad toenemend ‘n probleem word wat gemeenskappe dwing om buitengewone
stappe te neem om hulle self te beveilig. Die voorkoms van sluipslapers in wyk
83 byvoorbeeld is simptomaties van swak sosio-ekonomiese toestande,
ontoereikende wetstoepassing en die Tshwane Metro stadsregering se onvermoë om haalbare alternatiewe vir huislose mense daar te stel.
Wyk 83 waarin u woon, is geen uitsondering nie. Die ganse stad word met hierdie
probleem gekonfronteer en geen gemeenstap is immuun hierteen nie.
Verlede maand het die Tshwane Metro ‘n nuwe logo en leuse onthul. Igniting
Excellence
– oftewel die ontsluiting van uitnemendheid.
Hoe uitnemend is ‘n stadsregering as sy inwoners, spesifiek die inwoners van
Erasmuskloof, Waterkloof Glen en Constantia Park wat aan hierdie sekuriteitsinisiatief deelneem, hulself tot die hof moet wend om hulself effektief te beveilig?
‘n Mens hoef net te kyk na die park in hierdie woonbuurt wat deesdae deur sluipslapers
bewoon word. Na maande se pleidooie om inligtingborde met die park se reëls opgerig te kry en die park te sluit moet ons vandag vir mekaar sê dat die Metro nie
eens dit gereël en in plek kan kry nie – is dit die uitnemendeid waarna die
burgemeester strewe.
Terwyl hierdie dag as ‘n historiese prestasie vir die inwoners van hierdie gebied gereken
kan word is dit ‘n bewys dat die Tshwane Metro klaaklig misluk om sy inwoners
veilig te laat voel en gehalte dienste aan hulle lewer. Dienste waarvoor u ten
duurste en getrou deur middel van belasting en diensteheffings betaal. Hierdie toedrag van sake strek die Tshwane Metro tot skande.
Ek wil afsluit deur die positiewe van hierdie geleentheid te beklemtoon. Die feit dat
u eienaarskap van u veiligheidsituasie neem, is bewonderingswaardig en ek wens
u net die beste toe met hierdie ambisieuse onderneming. Ek vertrou dat die
maatreëls wat u in plek stel ‘n drastiese afname in misdaad ten
gevolg sal hê sodat u gou weer veiliger sal voel.
As die politieke verteenwoordiger van hierdie wyk sal ek aanhou om namens u aan te
dring op dienslewering, die instandhouding van infrastruktuur en die
uitbreiding daarvan.
Ons kan nie vir die Tshwane Metro wag vir uitnemendheid nie, ons moet dit self ontsluit soos
wat u dit vandag doen. Baie geluk en baie sterkte.

Wednesday, April 11, 2012

BEKGEVEGTE LEI AANDAG VAN PRIORITEIT AF


(My brief in vandag se Beeld)

Sommige bekgeveggies in briewekolomme wil ons aandag van die
eintlike diskoers aflei. Die argumente in sulke briewe is dikwels
emosiebelaaid.Op die keper beskou is dit maklik om emosies op te jaag
terwyl die eintlike debat van die dag pragmatisme en rasionaliteit verg in die
soeke na antwoorde op die vrae van ons tyd. ’n Vraag in die harte van
baie Afrikaners is hoe daar ’n toekoms vir hulle te midde van ’n multikulturele
samelewing beding kan word. Die Afrikaner is nie ’n homogene groep wat
dieselfde dink, praat of doen nie. Dit is ’n groep uiteenlopende individue met
toevallige en onwaarskynlike gemene delers waarvan die taal moontlik die
belangrikste is. So beskou is dit onmoontlik vir enige leier om daarop
aanspraak te maak dat hy namens die Afrikaner praat.Die eintlike
katalisator van kontemporêre Suid-Afrikaanse politiek is twee ideologiese pole
wat kiesers oor kulturele grense heen konfronteer om ’n keuse te maak tussen ’n
rasgebaseerde, geslote samelewing wat die Grondwet en die regbank wil omseil en
’n oop samelewing met ’n grondwetlike demokrasie wat die oppergesag van die reg
erken. As vernaamste eksponent van die geslote samelewing moet die te
sterk regerende party dringend by die stembus in bedwang gebring word om ’n
grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika te verseker.Dit is verder nuttig
om die verskillende rolle van burgerregte-organisasies en politieke partye te
verstaan.Terwyl ’n burgerregte-organisasie onbeskaamd belange kan
bevorder soos die beskerming van taal en kulturele regte, moet die politieke
party wat die regerende party van die dag wil ontsetel genoeg steun onder alle
Suid-Afrikaners werf om ’n grondwetlike demokrasie te verseker wat die regte van
burgerregte organisasies sal verseker. Die vestiging van ’n grondwetlike
demokrasie is die prioriteit.

Saturday, March 31, 2012

FOTO ESSAY: STUDEERKAMER


Die kunswerk links is 'n Jan Vermeiren. Die triptiek swart-en-wit fotos's is wat ek destyds gekry het as fliekresensent toe foto's nog nie oor die internet beskikbaar was nie.

FOTO ESSAY: STUDEERKAMER


Die klein blou vaas voor op lessenaar het ek op die eiland Murano (Venesie) gekoop. Die glas bal lneffens klein vaas is 'n David Reade werk.

FOTO EASSAY: STUDEERKAMER


My gunsteling stoel vir lees.

FOTO EASSAY: STUDEERKAMER

Die houkis was my ouma s'n. Regs op boekrak is 'n David Reade glaswerk.

Monday, February 13, 2012

RAAD KAN NIE PASSASIERSTREINE HANTEER



( My brief in vandag se Beeld)

Ek is baie skepties daaroor dat die regering dit oorweeg om die bestuur
van passasierstreindienste na stede af te wentel, spesifiek die
Tshwane-metroraad.
Oorweeg die chaotiese toestand van die busdiens in Pretoria en die stad se
burgemeester se erkentenis dat dié diens ontoereikend is.
Die inwoners van Pretoria word selfs deur die burgemeester aangemoedig om
alternatiewe vervoer te oorweeg omrede die busdiens so swak is.
Om nou die verantwoordelikheid van passasierstreindienste na die Tshwane-raad
te verskuif het nie sin nie.
Myns insiens beskik die Tshwane-metro nie oor die kapasiteit om so ’n diens te
lewer nie.
Openbare vervoer verg oordeelkundige bestuur tesame met ’n geskikte kapitale
vermoë, asook die politieke wil om openbare vervoer ’n werklikheid te maak.
Die Tshwane-metro voldoen nie aan dié vereiste nie.

Sunday, January 29, 2012

SPEAKER MOET UITVIND OOR 'OOP GESPREK'


(My brief in gister se Beeld)

Die feit dat die leier van die amptelike opposisie in die Tshwane-raad
met die hulp van veiligheidswagte uit die maandelikse raadsvergadering geskop
is, is ongelooflik en skokkend.
Die “oortreding” van mnr. Brandon Topham, die DA se koukusleier, was dat hy
daarop aangedring het om repliek te lewer op die eensydige opmerkings wat me.
Morakane Mosupye, die raad se speaker, oor die pas afgelope mislukte wyksraadsverkiesing
gemaak het.
Mosupye sal haarself ’n guns bewys deur haar van N.P. Van Wyk Louw se siening
oor die oop gesprek te vergewis.
In die oop gesprek kan geen deelnemer aan enige gesprek aanspraak maak op
volkome insig en waarheid oor watter onderwerp ook al nie. In so ’n gesprek is
dit kardinaal belangrik om nie net te praat nie, maar ook te luister na die
ander party se argument.
Die oop gesprek is ’n tweerigting- proses en helaas word so ’n gesprek nooit as
afgehandel beskou nie.
Die oop gesprek resoneer met die uitgangspunt van ’n demokrasie waarin alle
partye die geleentheid gegun word om hul saak te stel omdat niemand hom- of
haarself kan beroep op volledige insig en waarheid nie.
Om ’n politieke opponent wat aandring op gesonde debat met die hulp van
veiligheidswagte te verwyder, is ’n Fascistiese handeling wat nie tuishoort in
’n demokrasie nie.
Die Tshwane-speaker het demokrasie met haar magsvertoon ondermyn.

Tuesday, January 3, 2012

DIE ROUBEKLAG MOET DEMOKRATE INSPIREER


(My brief in vandag se Beeld)

Die roubeklag in Noord-Korea ná die dood van dié land se president, Kim
Jong-il, was tegelykertyd aangrypend en onthutsend.
Ongekende tonele wat soos perfekte verhoogchoreografie voorgekom het, het mens
tot nadenke beweeg oor die soort samelewing waar so ’n massa-treurmare moontlik
is.
Noord-Korea is ’n toonbeeld van ’n geslote samelewing.
Oorweeg die manifestasie van só ’n samelewing soos uitgebeeld in
televisiebeelde die afgelope dae:
Die magtige staat wat met ’n ystervuis regeer;
’n Ikoniese leier, almagtig en ’n soort afgod;
Die kollektief met geen ruimte vir individualiteit nie, en;
’n Militêre kultuur met die burgerlike samelewing as ondergeskik.
’n Geslote samelewing soos dié is moontlik as alle mag gesentraliseer is, daar
geen skeiding van magte is nie, staatsbeheer oor die media die vrye vloei van
idees verhinder, opposisiepolitiek afwesig is en ’n eenpartystaat verhewe bo
kritiek is, as die vryheid van assosiasie en beweging aan bande gelê word en
die samelewing maatskaplik gevangene gehou word omdat daar geen vrye mark of
private besit is nie.
Ofskoon Noord-Korea hom op die uiterste punt van die totalitêre staatskontinuum
bevind, behoort die tonele van kollektiewe en primitiewe roubeklag ná die dood
van ’n diktator elke demokraat in Suid-Afrika opnuut te inspireer om alles
voortdurend in die stryd te werp om juis na ’n volkome oop samelewing te werk.
Die oop samelewing as ononderhandelbare antitese vir die Noord-Koreaanse model
is ons enigste waarborg vir vryheid, voorspoed en vooruitgang.